Luister: Herman Kleinhans tree buite gemaksone met jongste album

Herman Kleinhans. (Foto: Marouise Photography)

Met sy jongste album, Ruite oop, bewys die musikant Herman Kleinhans weer eens dat hy die kuns kan vervolmaak om uit die hart te skryf en beweeg hy ook ietwat uit sy gemaksone met ʼn ligter nommertjie of twee.

Ruite oop bevat 12 snitte wat strek van emosionele liefdesballades tot lighartige kuiermusiek en het ʼn volwasse kontemporêre klank. Die snitte is grotendeels uit sy eie pen, met die uitsondering van drie liedjies waarvan hy twee saam met Bok van Blerk en een saam met sy meisie, Maryke, geskryf het.

“Die tema van die album is ‘lewe in Suid-Afrika’ en baie onderwerpe kry aandag – van depressie tot liefde. Dit was vir my belangrik dat elke snit van uitsonderlike gehalte moes wees, omdat ek dit vir ’n geruime tydjie gaan moet sing. Ek maak juis oor hierdie rede nie eintlik kommersiële musiek nie, omdat ek dit nooit geloofwaardig sal kan sing in vertonings nie,” vertel Kleinhans.

“Ek skryf oor die algemeen wyd en redelik baie. Ek skryf oor die lewe en goed wat ek ervaar, so dit het baie mooi uitgewerk dat ek met soveel temas kon werk in hierdie album. Baie mense het my al gevra of daar nog genot daarin is om ʼn vollengte album op te neem in plaas daarvan om enkelsnitte uit te reik. Ek het egter besluit om te hou by ʼn vollengte album, want ek het meer om te sê as wat ek kan met net een enkelsnit.

“Ek is baie tevrede as dit kom by die klank van die album, want dit is vir my ʼn mooi vol klank. Jy kan kuier daarop, maar jy kan ook net luister na die ballades en die musiek waardeer vir wat dit is.”

Hoewel hy nie gunstelinge in die album wil uitsonder nie, meen hy dat “Messelaar” en “Brandewyn drink” vir hom uitstaan, omdat albei snitte baie goed ontwikkel het.

“‘Messelaar’ handel oor depressie en het regtig ontwikkel in iets spesiaals. In sterk kontras daarmee is ‘Brandewyn drink’ ʼn vrolike lekkerluisterliedjie wat mense laat goed voel.”

Sy jongste enkelsnit, “Vliegtuig”, is onlangs uitgereik en vertel die verhaal van sy ontmoeting met sy meisie op die maatsoek-app Tinder.

“Ek het eendag Maryke se kombuistafel vol sout gelos nadat ek springmielies gemaak het. Daarna het ek haar bed deurmekaar gemaak nadat sy dit reeds opgemaak het. Sy het dit geensins waardeer nie. Ek het die liedjie geskryf om op te maak.”

Die titel kom van hul droom om eendag saam ʼn vliegtuig te besit, verklap hy. Die video is op verskeie plekke in Port Elizabeth geskiet deur Wian van der Walt van die Coolerbox Brothers.

Herman Kleinhans. (Foto: Verskaf)

Kleinhans en Maryke het albei in PE grootgeword. “Dit wys hoe ons liefde in hierdie ou stad floreer. Ek en Maryke besoek van ons kleintydplekke, die huise waarin ons grootgeword het, ons skole en kerk, tot ons gunsteling- Chinese wegneemrestaurant. Daar waar ons paaie konstant moes gekruis het, sonder ons medewete. Ons het ook besluit met hierdie projek te wys hoe mooi ons stad is,” deel hy.

Die liedjie “Ek wonder”, wat ook in die album verskyn, is die amptelike temalied vir Solidariteit Helpende Hand en Boere Droogtehulp SA NPC se Projek 40-inisiatief wat gesorg het dat 40 vragmotors vol voer gestuur kon word na Beaufort-Wes.

Hierdie inisiatief het ook gesorg dat 40 behoeftige studente in 2021 sal kan gaan studeer. Die musiekvideo vir die liedjie is pas uitgereik.

“Dit was ʼn baie lekker ervaring en groot voorreg om deel te wees van die projek. Die video is geskiet terwyl die voer in Beaufort-Wes afgelaai is. Dit was vir my ʼn absolute eerste en ʼn oorweldigende ervaring om te sien hoe ons mekaar kan bystaan.”

Ruite oop is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.