Luister: Musiekduo Raaf vlieg hoog ná meer as dekade saam op toer

Lourens en Esté Raaf. (Foto: Rel Productions)

Die musikale duo, Lourens en Esté Raaf, wat voorheen bekendgestaan het as die Bottomless Coffee Band, het die afgelope paar maande meer as 80 vertonings reg oor die land gelewer om die naamsverandering na Raaf as nuwe hoofstuk te vier.

Die afgelope paar maande het die egpaar, wat onlangs hulle tiende huweliksherdenking gevier het, hard daaraan gewerk om die nuus te versprei dat hulle uiteindelik die groot sprong geneem het om hulle naam te verander na iets met ʼn dieper betekenis as die naam wat hulle as jong studente gekies het.

Die duo, wat vroeër vanjaar in diepte met Maroela Media gesels het oor die naamsverandering, se splinternuwe album, Prediker, is onlangs uitgereik en bevat vier snitte, getiteld “Paternoster”, “As en stof”, “Vrygelatenes”, “Oos Wes tuis Bes”, en “Prediker”, elkeen met sy eie, unieke storie.

‘n Splinternuwe musiekvideo vir “Oos Wes tuis Bes” is ook pas uitgereik.

“Elke liedjie is ook geskryf in sy eie, unieke styl. Ons het ʼn manier om musiek op verskeie maniere te benader en ons wil kyk wat ons met elke liedjie kan maak en watse rigting ons kan inslaan,” verduidelik Lourens en Esté in Maroela Media se ateljee.

“Die lewe breek vir jou soos ʼn granaat oop as jy besef alles in die lewe hoef nie altyd in ʼn boksie te pas nie. Al ons musiek strek verder as net ʼn liefdeslied. ‘Paternoster’ kan byvoorbeeld ook vir ons pragtige land Suid-Afrika gesing word. Die liedjie se naam is ʼn pleknaam, maar dit is metafories vir enigiets wat jy wil hê dit moet wees.”

Die duo is tans weer op toer met hul jongste album, en is vir die volgende paar maande van Graaff-Reinet tot Somerset-Wes op die verhoog te sien.

Die besige egpaar gee egter toe hulle smag daarna om ʼn hond as troeteldier te hê, maar voeg by dat hulle skedules dit nie toelaat nie.

“As ons ʼn breek neem is dit meestal koprus. Omdat ons onsself bestuur en onafhanklik werk, het ons baie goed waaroor ons strategies moet dink en besluit.

“Partykeer sal ons vir drie of vier dae nie ons fone aan hê nie, maar ons vind definitief rus in die tussenin oomblikke. Soms is drie ure in die oggend op ʼn onbekende plek ook net soveel van ʼn vakansie soos ʼn week se reis.”

Kyk hier na Raaf se toerdatums en skakels vir kaartjies.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Lourens en Esté Raaf.

Kyk hier hoe speel Raaf “As die vellie pas” by Maroela Media:

Kyk  hier na die musiekvideo vir “Oos Wes tuis Bes”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.