Luister: Rudi Muller ‘ʼn instrument in die Here se hande’

Rudi Muller kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Rudi Muller huiwer nie om te praat oor die talle uitdagings wat hy al in sy lewe die hoof moes bied nie. Pols jy hom oor sy splinternuwe geestelike album, Nuwe Dag, besef jy gou dat dit juis dié uitdagings is wat sy jongste album geïnspireer het.

Muller (42) het destyds die Afrikaanse musiekbedryf betree met liedjies soos “Warm Patat” en “My Liefste Mens” en sedertdien het dié sanger en liedjieskrywer nie op sy louere gerus nie. Nie eens jare van alkohol- en dwelmmisbruik, sy pa se dood in 2013, ʼn groot motorongeluk waarin hy en sy gesin betrokke was, of ʼn onlangse stryd met sy gesondheid kon sy passie vir musiekmaak stuit nie.

“Ek het nog altyd musiek gespeel met die Here se genade,” vertel Muller in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Foutloos is ek nié – beslis nie – maar op die ou end moet jy iets doen wat jy wíl doen. Alles wat ek doen, spruit uit dankbaarheid.”

Hy vertel dat hy sowat ʼn jaar gelede opnuut sy afhanklikheid van die Here besef het toe hy deur ʼn gesondheidstryd gegaan het. “Elke oomblik, elke asemteug, is genade. Ek het altyd gedink aan wat ek môre moet doen of wat die toekoms vir my inhou, maar ek het geleer dat elke asemteug geleende tyd is.”

In dié tyd het sy ma hom gemaan dat sy geloof nie ʼn knou moet kry nie. “Dit is moeilik, want ek is menslik. Jy ervaar jou siekte in jou liggaam, jy sien wat is op die uitslae, maar ek het besef: Dit wat die Here se wil is, sal gebeur. En wat ook al die uitkoms gaan wees, so aanvaar ek dit.”

Daarom het hy besluit op die titel Nuwe Dag en hou vol dat al 15 snitte doelbewus ʼn positiewe boodskap het. Tien van die 15 snitte is uit Muller se eie pen en hy sê sonder skroom dat dit makliker is om geestelike musiek te skryf as sekulêre musiek.

“Die album is Woordgedrewe en elke snit is geïnspireer deur teksverse uit die Bybel. Dit bly ʼn kreatiewe proses as dit kom by melodie, maar soms ontstaan die hele liedjie net uit ʼn reëltjie in die Bybel.”

“Nuwe Dag”, die titelsnit vir die album, dra ʼn sterk boodskap van hoop en om waardering te hê vir nóú. “Dit wat verby is en wat agter ʼn mens is, is verby. Ek strek my uit na dit wat voorlê. Dit is Jesus Christus wat vir ons die hoop géé, so ek hoef nie te gaan soek daarvoor nie – die Here het dit klaar gedoen. Ons hoef nie battles te baklei nie.”

Van battles kan jy dié musikant, wat ook bedienings doen by skole, jeugaksies, kerke en ouetehuise, egter niks vertel nie.

“Die tye dat dit die slegste met my gegaan het en waar ek dit die moeilikste hanteer het, was wanneer ek die verste van die Here af was. Maar, enige situasie raak ʼn getuienis, en die keuse wat ʼn mens in enige moeilike situasie het, is: Wil jy op die struikelblokke fokus of op die Here?”

Muller, sy vrou, Lize, en hul vierjarige dogtertjie, Tiamé, is in die proses om Kaap toe te verhuis van Gauteng af en hy sien uit daarna om te leef tussen wingerde, Tafelberg en die see.

Hy vertel Tiamétjie, soos hy liefdevol na haar verwys, word volgende jaar by die skool ingeskryf. “My drome vir 2020 is op haar lewe geskoei. Ouerskap gee mens ʼn nuwe doel in die lewe. As jou kind gelukkig is, is jy gelukkig. Maar my droom is ook om ʼn verskil te maak daar waar ek is. Mense wil altyd in die buiteland of op ander plekke ʼn verskil maak, maar in jou eie tuisdorp is ook waar die behoefte is.

“Elkeen van ons is ʼn instrument in die Here se hande. My passie is om ʼn visser van mense te wees. Dit gaan nie daaroor om met die Bybel onder die arm te loop nie. Dit gaan nie oor wat jy sê nie, maar oor hoe jy leef en ander mense hanteer.”

Nuwe Dag is beskikbaar by CUM Boeke, toonaangewende musiekwinkels en op alle digitale platforms. Die album kan ook bestel word by www.gaangroot.co.za.

  • Rudi Muller kan ook op Facebook en Instagram gevolg word of besoek sy webtuiste vir meer inligting oor sy musiek en optredes.
  • Luister na die volledige onderhoud met Rudi Muller bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.