Luister: Van West raak luidkeels boereharte aan met musiek

Van West kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die sanger en liedjieskrywer Van West het sy musiekloopbaan afgeskop met die jolige treffer, “Vuur en vlam”, maar dit is sy jongste enkelsnit, “Boer in my hart”, wat Afrikaanse musiekluisteraars laat regop sit.

“Boer in my hart” is ʼn liedjie wat ʼn kreet kan wees wanneer ons deur moeilike tye gaan, verduidelik Van West in Maroela Media se ateljee.

“Die lied se boodskap plaas ons op ʼn plek waar ons kan vereenselwig met hoe moeilik die lewe met tye kan word, maar ook hoe die Here ons wil herinner dat ons nie alleen is nie en dat Hy na ons kyk. Selfs deur die storms van die lewe.

“Die koorgedeelte is ʼn duidelike verklaring dat jy nie bereid is om net sommer jou siel vir geld en roem te verkoop nie, maar dat jy vrede vind in die plek en seisoen waar die Here jou geplaas het omdat jy Hom met jou lewe vertrou.”

Van West, wie se regte naam Derik van der Westhuizen is, is die oudste broer van die bekende sanger Bernice West en Renier West van Rooksein-faam.

Hy was deur een van die moeilikste tye in sy lewe en hy kon nie verstaan hoekom hy nie ʼn deurbraak kan maak en hoekom mense nie die potensiaal in hom kon raaksien nie.

“Daarna het ek gaan sit en my gevoelens op die klavier met die note voor my gedeel en hierdie lied geskryf. Ek was op ʼn plek waar ek gebid het: ‘Here, moet ek hierdie liedjie opneem?’

Van West glo die Here het ‘Boer in my hart’ gekies. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Die volgende oomblik het die Here al die antwoorde op my vrae voorsien. As God jou rugsteun, hoef jy niks te vrees nie, want hy voorsien altyd. So, in kort, ek glo die Here het ‘Boer in my hart’ gekies, en vir my is dit ʼn wonderwerk.”

Van West is benewens ʼn musikant ook ʼn gedrewe sakeman, afkomstig van die klein dorpie Swartruggens in Noord-Wes.

“Ek het van jongs af gedroom om eendag voltyds musiek te maak, want dit is my passie, maar dit het tyd gevat om dit ʼn werklikheid te kon maak. Ek verstaan vandag eers dat die Here ʼn groter plan ingedagte gehad het en my eers moes voorberei.”

“Boer in my hart” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Van West.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.