Musiek anker Jan Bloukaas in kankerstryd

Jean du Plessis, oftewel Jan Bloukaas. (Foto: Jan Bloukaas/Facebook)

’n Moedige stryd teen breinkanker keer nie die Afrikaanse popsanger Jean du Plessis oftewel Jan Bloukaas om nuwe musiek uit te reik nie.

“Omdat dit so persoonlik is beskou ek dit as my beste lirieke tot nou toe en ek glo dat mense daarmee gaan kan vereenselwig,” het Du Plessis oor “Sweef”, sy jongste enkelsnit, gesê.

Du Plessis het in September vanjaar in ’n emosionele Instagram-plasing bekend gemaak dat breinkanker by hom gediagnoseer is.

“Ek het dubbelvisie ontwikkel en is deur ’n oogarts vir ’n MRI-skandering gestuur waar hulle die gewas ontdek het. Natuurlik was ek geskok en ontsteld oor die diagnose,” het 23-jarige Du Plessis gesê.

Du Plessis het oornag beroemd geword met sy 2017-trefferliedjie “Kaas bra” en het sedertdien twee albums uitgereik en die verhoog gedeel met bekendes soos Snotkop, Janie Bay, Biggy en vele meer.

Hy het in die Instagram-video verduidelik dat dokters onlangs ʼn gewas aan sy breinstam gevind het wat nie met chirurgie verwyder kan word nie.

“Ek is nie bang vir hierdie gewas nie. Hy groei in my brein en nie ek in syne nie, en ek weet God staan soos ʼn reus agter my. So ouens, hoe ook al hierdie geveg eindig, hy’s reeds gewonne,” sê die sanger in sy video.

Du Plessis, wat tans chemoterapie ondergaan, hoop om steeds ’n boodskap van positiwiteit met sy aanhangers te deel.

“Dit gaan op die oomblik goed met my en ek konsentreer op die behandeling eerder as die prognose. My geloof hou my staande en ek wil my siekte gebruik om te getuig hoe ongelooflik God is.”

“Sweef” is die eerste enkelsnit in Du Plessis se nuwe album, Vreemdeling, wat vroeg in 2023 uitgereik word. Hy het dié lekkerluister-popliedjie in 2020 tydens die Covid-19-inperking geskryf.

Hy sê die titel van die album is juis gekies omdat dit nie voel asof hy die persoon ken wat hy die afgelope paar jaar was nie.

“Dit is die eerlikste opsomming van hoe ek daagliks voel en ek hoop om met mense te praat wat ook die afgelope ruk hartseer tye beleef het.

“Ek probeer ’n nuwe fase ingaan met die album. Hierdie is die naaste musiek aan my siel. Dit is my mees eerlike werk tot op datum.”

Luister hier na “Sweef”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.