Musiekgroep vereer goue oues

Ouderdoos. (Foto: verskaf)

Die splinternuwe musiekgroep Ouderdoos gee nie net die geliefde goue oues weer nuwe lewe nie – hulle bou brûe tussen generasies en laat die bene opnuut ritmies saam wikkel.

Dié musiekgroep laat liedjies soos “Byeboerwa”, “Harlekyn”, “Neem my op vlerke” en “Wie kan dit verstaan” in nuwe baadjies pronk.

Ouderdoos, wat bestaan uit Nico Botha (tromspeler), Hannes van der Linde (baskitaarspeler), Gideon du Preez (elektriese kitaar- speler), Erik Pieterse (hoofsanger en kitaarspeler) en Illona Grobler (hoofsanger) het maande lank gewerk om hul musiek gereed te kry vir die bekendstelling.

“Ons kyk met ’n moderne oog na ouer liedjies en daarvoor gebruik ons hedendaagse tegnologie. Ons wil die musiek eer, nie verander nie,” sê Botha.

Ouderdoos wil nie net die treffers van toeka afstof en herverpak nie; hulle wil graag verskillende generasies nooi om verenig na die musiek te luister.

“Ons wil die huisgesin weer om dieselfde tafel laat sit.”

Een van die groep se grootste drome is om tieners se aandag met die ritmiese aard van die liedjies te lok. Die ore van tieners se ouers sal onmiddellik spits wanneer hulle die bekende note hoor en mag dalk net in hul bêrekas gaan krap om die langspeelplaat van die oorspronklike liedjies te vind en te deel.

“Ons wil hê dat ʼn 15- en 75-jarige ewe lekker luister na ons musiek.”

Deur te kyk na die mense wat in die gehore van die groep se vertonings sit, is dit duidelik dat Ouderdoos stadig maar seker besig is om sy droom om verskillende generasies te beïndruk te vervul.

“By een van die vertonings het ek rondgekyk, in die een hoek was ʼn 80-jarige tannie wat ritmies haar voet saam met die musiek getik het. In die ander hoek was ʼn 18-jarige wat besig was om heeltemal mal te gaan.”

Die groep doen geweldig baie moeite om elke liedjie sorgvuldig uitmekaar te haal en weer aanmekaar te slaan.

Vir ʼn jaar lank het die groep aan vyf liedjies gewerk waarmee hulle op 11 Desember die musiekbedryf aangedurf het.

In Januarie vanjaar het hulle aktief op sosiale media geword. Hulle blink uit op TikTok en spog met meer as 12 000 volgelinge.

Een van die groep se groot drome is om kunstenaars wat tans in hul aftreejare is te ondersteun.

“Die idee is om ons winste met die oorspronklike kunstenaars te deel.”

Die groep wil graag die kollig op dié kunstenaars laat val en bied op 10 Junie ʼn vertoning in die Centurion Teater in Lyttelton Manor, Centurion, aan waarin hulle dieper delf na die oorsprong van die liedjies wat hulle graag sing.

  • Kaartjies vir die vertoning kan hier aangeskaf word.
  • Vir meer inligting oor die groep, besoek hul Facebook-blad.

Kyk hier na “Byeboerwa” soos aangebied deur Ouderdoos:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.