Musiekster om dop te hou: Corné Pretorius

Corné Pretorius. (Foto: Verskaf)

Corné Pretorius is reeds van kindsbeen af lief daarvoor om mense te vermaak. Op sewejarige ouderdom het hy begin kitaar speel en het sy pa vir hom ʼn verhoog in die motorhuis gebou.

“Ek het baie van my kinderjare daar deurgebring en musiek gemaak,” vertel Pretorius, sanger en liedjieskrywer van Kaapstad. Sy eerste enkelsnit, “Vuur en vlam”, is onlangs uitgereik.

Die snit is geskryf en vervaardig deur Francois van Coke en Richard Onraet van Van Coke Studios in Kaapstad.

“Na skool het ek egter op sake begin konsentreer,” sê Pretorius, pa van drie dogters wat ook in die boubedryf werk.

Hy vertel hy het musiek vir jare heeltemal opsy geskuif, maar het hy sy liefde onlangs herontdek toe hy saam met vriende op ʼn wildsplaas in Namibië saans langs die vuur sit en musiek maak het.

“Ek en een van my vriende het ʼn liedjie getiteld ‘Kalahari-sonsak’ vir die boer van die plaas geskryf om dankie te sê vir sy gasvryheid. Terug by die huis het ek gevoel ek is gereed om weer hierdie passie [vir musiek skryf] meer gereeld uit te leef.”

Hy het vir Van Coke genader oor sy eerste enkelsnit, en “Vuur en vlam” het kort daarna die lig gesien. “As ek ʼn ding aanpak, wil ek net saam met die beste werk. Na ʼn paar gesprekke het dinge lekker gevloei en alles het vinnig in plek geval vir die skryf en opneem van my eerste enkelsnit.”

Pretorius noem dat hy nie eintlik ʼn “Covid-liedjie” wou maak nie, maar sê hy, dit is al wat hulle daardie dag in die ateljee aan kon dink, aangesien die virus toe reeds wêreldwyd uitgebreek het en ʼn staat van inperking in Suid-Afrika al meer na ʼn moontlikheid gelyk het.

“Francois het dit toe perfek vasgepen. Dis ʼn Covid-storie wat ook nie ʼn Covid-storie is nie. Richard het net daar en dan die liedjie se musiek geskryf en teen die einde van die dag het ek die stemopname gedoen. Dit was ongelooflik om saam met sulke merkwaardige talent te werk,” sê Pretorius.

Corné Pretorius. (Foto: Verskaf)

Johan Nel, wat al heelwat van Fokofpolisiekar se musiekvideo’s vervaardig het, het die musiekvideo vir “Vuur en vlam” geskep. “Ek hou baie van die beelde wat Johan in die video gebruik het. Hy het die gevoel van die liedjie perfek vasgevang.”

Pretorius het ook onlangs ʼn liedjie saam met Hunter Kennedy, musikant en liriekskrywer vir Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, opgeneem. Dié liedjie word oor eersdaags uitgereik.

“Vuur en vlam” is beskikbaar op alle digitale platforms.

  • Maroela Media het met Corné Pretorius gesels oor sy debuutenkelsnit. Luister na die onderhoud bo aan die berig. Volg hom op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.