Musiekvideo: Augusta druk eie stempel af met haar musiek

Augusta Zietsman. (Foto: Philip van Zyl)

Augusta Zietsman se splinternuwe kortalbum, Breekgoed, is ʼn album wat in essensie die storie vertel van die verbrokkeling van ʼn verhouding en die illusie van verlief wees.

Die musikant, wat ook bekend is as skrywer en aktrise, sê in Maroela Media se ateljee die liedjies is reeds ʼn paar jaar gelede in haar vroeë twintigs geskryf.

“ʼn Tyd van groot ontnugtering,” sê sy.

Augusta het onlangs in kykNET-kykers se sitkamers gekuier as Suna, die naïewe skoolvriendin van Mart en Dalena in die gewilde dramareeks, Dinge van ʼn kind, en het ook ʼn rol in Netflix se Blood and Water gehad.

Sy is ook ʼn kranige skrywer en het reeds ʼn rits titels agter haar naam, soos die bekroonde solostuk Moord op die agtste gat, wat op die Aardklop- en Vrystaat-kunstefees op die planke was.

Die titel van die album, Breekgoed, is die geesteskind van Janke Mostert. “Ek het op Instagram gesê ek is op soek na ʼn titel vir my album, wat hoofsaaklik ʼn break up album is, en Janke het met die titel vorendag gekom, wat vir my die album so mooi saamvat.

“As ʼn mens jonk is, voel jy mos maar breekbaar. Daarvandaan die naam.”

Daar is vyf snitte op die album waarvan “Onderkant die berg” ʼn kort inleiding is. Dié snit is aanvanklik geskryf vir ʼn TV-reeks wat nooit die lig gesien het nie.

“Probeer”, “Horison”, “Ontydig” en “Soet smag” is die ander vier snitte op die album. Sy vertel sy het nie voor die opname van die kortalbum ʼn doelbewuste besluit geneem om meer akoestiese musiek te maak nie.

Breekgoed is ʼn versameling van elektroniese en akoestiese klanke. “Soet smag” is geskryf in repliek tot die Afrikaanse gedig, “Ballade van die nagtelike ure”, deur NP van Wyk Louw, en vang die gebeure vas soos vanuit die vroueperspektief.

Augusta Zietsman kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“ʼn Mens moet jou kreatiwiteit uitleef al is dit nie musiek wat nou kommersieel in die mark geluister word nie. Die musiek is ver verwyder van wat mense nou na luister – jy gaan nie kan sokkie op die liedjies of dit in ʼn kuierplek speel nie.

“Dit is egter tog ook waar dat die liedjies wat ʼn mens gewoonlik baie na aan die hart lê eerder musiek is wat ʼn mens op jou oorfone kan aansit en rustig na luister oor ʼn glasie rooiwyn. Ek hoop dit is hoe hierdie album geluister sal word en dat die klanke ʼn bietjie dieper sal gaan sit by luisteraars.”

Wesley West en Regardt Visser, Augusta se verloofde, het saam met haar aan die album gewerk. Wesley het die album vervaardig.

“Hy is ʼn musikale genie. Dit is ongelooflik wat hy kan reg kry. Hy is een van die talentvolste musikante wat ek al ooit ontmoet het. Baie vervaardigers het hulle eie klank en hulle verwerk jou musiek in daardie styl, maar Wesley het ʼn manier om jou eie stem en klank te ontdek en ontgin.

“Die album sou nie sonder Wesley en Regardt moontlik gewees het nie, en daarvoor wil ek net vir hulle baie dankie sê.”

Dit is vir Augusta belangrik om haar eie stempel op haar musiek te sit. “As aktrise het ʼn mens gewoonlik nie baie sê oor die kreatiewe rigting van ’n projek nie, en dus wou ek met die musiek ’n kreatiewe stem hê.

“Musiek laat my toe om te sê hoe ek regtig voel oor goed. As ek voor die klavier sit en skryf kom al die opgehoopte gedagtes na vore en sodoende kan ek daarmee vrede maak en aanbeweeg.”

Die albumomslag vir ‘Breekgoed’.

Die sangeres en liedjieskrywer, wat voorheen liedjies soos “Baljaar”, “Lekker hou” en “Goeie nuus” uitgereik het, sê sy neem nie die gehoor in ag tydens die kreatiewe proses nie, maar hoop tog luisteraars vind aanklank by die boodskap van die musiek.

“Ek probeer om nooit die gehoor in ag te neem terwyl ek besig is om musiek te skryf nie. Nie omdat ek glad nie omgee nie, maar dis belangrik vir my dat ek daarvan hou en dit wil luister. ʼn Mens kan vinnig vasgevang raak in jou kuns as jy te veel omgee wat ander mense daarvan dink.”

Die musiekvideo vir “Onderkant die berg” is onlangs uitgereik. ʼn Splinternuwe musiekvideo vir “Ontydig” debuteer ook vandag (Vrydag) op Maroela Media.

“Die laaste versreël van die liedjie verwys na my kleintydkerk – vir my was dit die NG Kerk – en dit is hoekom ek die video in ʼn kerk wou laat afspeel.

“Ek het in die kerk grootgeword en is nog steeds in die kerk. Daar is iets daaraan om terug te keer na jou kleintydkerk. Die kunste is vir my ʼn geestelike ding. Om kuns te maak is nie iets wat uit onsself kom nie, en ʼn mens is bietjie arrogant om te dink dit doen.

“Ek besef als wat ons maak en doen kom van ʼn Hoër Hand en ons is maar net instrumente om dit na vore te bring.”

Augusta sal onder meer op die Vrystaat-kunstefees, wat van 10 tot 16 Julie plaasvind, asook die Woordfees, wat in Oktober plaasvind, te sien wees.

Breekgoed is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ontydig”:

Maroela Media het ook met Augusta oor haar musiek in ons ateljee gesels. Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.