Musiekvideo: Dozi se ‘Partykeer soms’ op sy plaas verfilm

Dozi. (Foto: Evert Grobler)

Dozi se lankverwagte 19de album getiteld Vrede is vroeër vanjaar uitgereik en die eerste enkelsnit “Partykeer soms” is reeds ʼn gewilde treffer onder aanhangers van dié rasperstemsanger.

Die musiekvideo vir die liedjie is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Partykeer soms” is geskryf deur Stef Kruger en gaan daaroor dat niemand van ons eintlik beheer het oor die lewe nie en dat alles net genade is, sê Dozi.

“Ons maak almal foute en word heen en weer deur die wind teen alles vasgewaai. Baiekeer kom daardie een persoon in jou lewe wat alles kom regmaak en liefde in oorvloed bring. Dit gaan net soos die lewe oor seisoene en dit gaan so gou verby. Partykeer maak die hemel oop en gee vir ons reën – dit kom alles net weer terug na genade toe.”

Die musiekvideo is op Dozi se plaas geskiet. Vonk Musiek het die video vervaardig en die regie is deur Wian van der Walt behartig. Van der Walt en Dozi het saam die konsep vir die video uitgedink.

Dozi. (Foto: Evert Grobler)

“Ons het die video hier op my plaas geskiet gedurende die staat van inperking. My swembad het geen water gehad nie, so dele van die video is onder in die swembad geskiet. Dit sal seker die enigste video wees wat daar geskiet word, want hy is nou propvol water,” verklap die sanger.

Vrede bevat ʼn versameling van 12 oorspronklike snitte waarvan Dozi drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep. Die inhoud van die album is ʼn kombinasie van dieper musiek, wat hier en daar afgewissel word met ʼn ligter dansnommertjie.

“Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak. Musikante is dissipels van die wêreld en dis hulle werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter,” deel hy.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.