Musiekvideo: Imke se voete jeuk om te dans tot die son opkom

Imke. (Foto: Verskaf)

Imke, ʼn nuweling op die Afrikaanse musiektoneel, het pas ʼn splinternuwe enkelsnit, “Dans tot die son opkom”, bekend gestel.

Die musiekvideo vir die liedjie is vandag (Woensdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Imke vertel sy wou met dié snit luisteraars ’n nuwe lus vir die lewe gee en in die bui kry om te dans – sommer nét daar waar hulle is.

“Terwyl ek die liedjie geskryf het, het die titel vanself na vore gekom en ek hoop regtig mense sal sommer dadelik meegesleur word deur die ritme en lirieke,” sê sy.

“Dié liedjie verplaas jou na ’n oomblik waar jy van alles om jou wil vergeet en in die rondte draai om alles in te neem. Ons het almal nodig om net ʼn bietjie van die realiteit weg te kom – veral nou – en  om te fokus op ’n ander ritme van die lewe – die ritme van dans.”

Volgens Imke is dit so maklik om vasgevang te word in jou daaglikse bestaan en roetine dat dit soms nodig is om net ʼn bietjie terug te staan en te ontspan.

Die regie van die musiekvideo is behartig deur André Velts, onder meer ook regisseur van die rolprent Vergeet my nie.

Imke. (Foto: Verskaf)

Imke se man, Gerhard, speel ook in die musiekvideo. “In plaas van ’n liefdesverhaal wat afspeel is ek besig met ’n optrede en kry so hier en daar ’n gedagte van my droomman,” verduidelik sy die konsep van die video.

Die liedjie is geskryf saam met Jattie de Beer van die groep Douvoordag, en Gideon Botes van die groep Watershed het die vervaardiging behartig.

“Musiek en dans laat my altyd beter voel, ongeag in watter posisie ek myself bevind. Met ‘Dans tot die son opkom’ wil ek mense se voete laat jeuk en die musiekvideo moet dit ook so weerspieël.”

Imke het vroeër vanjaar die Afrikaanse klankgolwe getref met haar eerste enkelsnit “Oud word saam met jou”. Dié snit is deur die bekende Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Riana Nel geskryf en het die no. 1-posisie op die Bosveld Stereo Afrikaanse Top-20 behaal.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Dans tot die son opkom”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.