Nuwe Dagbreek-lied ʼn boodskap oor verslawing

Wade Bezuidenhout en Tammy van der Merwe van Dagbreek.

Die broer-en-suster duo Dagbreek se eerste twee enkelsnitte, “Lewe is te kort” en “Droomland”, is met luide applous deur Afrikaanse musiekliefhebbers ontvang.

Die duo se derde enkelsnit, “Net nog ʼn slukkie”, is pas uitgereik. Die liedjie vertel ʼn storie wat raak aan alle vorms van verslawing, dwelmmisbruik en huishoudelike geweld.

“Alkoholisme word baie keer van generasie tot generasie oorgedra en met dié liedjie wil ons mense bewus maak van die gevolge van daardie laaste slukkie,” vertel Tammy van der Merwe, wat saam met haar broer, Wade Bezuidenhout, dié duo vorm.

“Baie mense het een of ander verslawing, al besef hulle dit nie eers nie. Hierdie is maar net simbolies relevant tot enige iets waarvan té veel nie goed kan wees nie,” voeg Wade by.

“Net nog ʼn slukkie” is ’n country-popliedjie uit hul eie pen en hulle hoop dat hulle ’n betekenis deur hul musiek kan bring.

“Al word net één persoon diep geraak deur ons boodskap en verander sy patroon ten goede, het ons in ons doel geslaag,” sê Tammy.

Dié broer en suster het 2022 afgeskop met die uitreiking van hul debuutsnit, “Die lewe is te kort”, wat tot onlangs toe nog op verskeie radiostasies se treffersparades verskyn het.

“Ons is so dankbaar oor hoe die publiek ons eerste musiek ontvang het. Sodra ons gedink het ons is nie meer op die ranglys nie, dan skiet hy weer terug.”

Volgens Tammy vertrou hulle dat selfs al vind aanhangers nie aanklank by die dieper boodskap van “Net nog ’n slukkie” nie, sal hulle nog steeds lekker uit volle bors sal kan saam sing.

Tammy en Wade van Dagbreek. (Foto: Willem Botha)

“Ons groot wens met ons musiek is dat enige iemand wat daarna luister, minder alleen sal voel en iets daaruit sal neem om mee te vereenselwig.”

Dagbreek, wat vroeër vanjaar op die Proe’toria-verhoog gesing het, het ook onlangs die verhoog by die Oppi-Kus-musiekfees in Margate met groot name soos Steve Hofmeyr, Demi Lee Moore, Adam Tas en Jakkie Louw gedeel.

“Dit was absoluut ongelooflik. Dit gee ʼn mens hoendervleis as jy voor so ʼn groot gehoor staan en jy kan sien hoe mense jou liedjie saam sing. Dit laat jou voel dat jy iets reg doen, al probeer ons nog ons voete vind en uitpluis presies waar ons in die Afrikaanse musiekmark pas met die tipe musiek wat ons maak.”

Tammy vertel sy en haar broer het aanvanklik net in Engels geskryf, aangesien hulle as kinders nie baie aan Afrikaanse musiek blootgestel was nie.

“Ons was nie seker oor ons eie vermoë om in Afrikaans te skryf nie, al is dit ons moedertaal. Later het ons die waters in Afrikaans begin toets en agtergekom dit kom meer natuurlik as wat ons gedink het en ons kon ons Christelike agtergrond en beginsels makliker in Afrikaans verwoord. Dit het skielik net reg gevoel.”

“Net nog ʼn slukkie” is beskikbaar op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.