Ramey se debuutalbum: ‘Lang wag, harde werk die moeite werd’

Dit het nou wel bykans vier jaar geneem om sy debuutalbum noukeurig saam te stel, maar dié nuwe album, met sy internasionale klank, is geensins soos ander Afrikaanse musiek wat luisteraars al gehoor het nie.

Só beloof Ramey Short, die sanger en akteur wat bekend is om sy rol as dr. Quinton Meyer in die kykNET-hospitaalsepie Binnelanders, wat onlangs sy debuutsolo-album, Kannie Breek, uitgereik het.

Enkelsnitte vanuit dié album, soos “Môre kom die son weer op”, “Onrealisties”, “Hart se snare” en “Al wat ek kan sê”, speel gereeld oor al wat ʼn Suid-Afrikaanse radiostasie is. “Hou vas” is ook onlangs uitgereik.

“Dit is ʼn droom van kindsbeen af wat bewaarheid is. As jy my selfs ʼn jaar gelede gevra het of ek my eie album in my hande sal vashou, sou ek gelag het.”

Hy het sorgvuldig te werk gegaan om die regte vervaardiger te kry wat sy visie vir die album kon raakvat. “Ek wou hê my musiek moet heeltemal anders klink as ander Afrikaanse popmusiek. Die album bevat vars, internasionale klanke en dit is wat ek wou hê,” sê Short.

Die sanger voeg by dat hy ʼn paar ballades sing op die album, maar dat sy neef en mentor, die sanger Jakkie Louw, vir hom dié raad gegee het: “Jy wil nie hê mense moet tydens jou vertonings handjies gevou sit nie.”

Ramey Short. (Foto: Verskaf)

Daarom het hy hoofsaaklik op ritmiese popmusiek besluit. Hy en Kobie Coen, uitvoerende hoof van Vonk Musiek, het saam die uitleg van die snitte op die album gedoen. Werner Beukes, Ferdinand Skead en Rian Swanepoel het die album help vervaardig.

Dit was geen maklike taak om sy tyd tussen die stel van Binnelanders in Johannesburg en die opname-ateljee in Pretoria te verdeel nie. “Dit is ook nog ʼn rede waarom dit so lank gevat het om die album te voltooi. Maandae tot Vrydae is ek soggens 05:00 op om reg te maak om te gaan werk.”

Die laaste skote vir die dag word eers 18:30 in die aande afgehandel, sê hy. “Dan is dit huis toe om my woorde tot middernag te leer vir die volgende dag op stel. Ek het nauurs tyd gemaak om deur te ry Pretoria toe om die album op te neem.”

As iemand wat al ʼn paar harde houe in die lewe gevat en elke keer weer opgestaan het, het hy gevoel dit is gepas om die eerste snit op die album, “Kannie breek”, ook die titel van die album te maak.

Short het in ʼn kinderhuis in Durbanville grootgeword, waarna hy sport- en bemarkingsbestuur op Stellenbosch studeer het. Die lewe het eers ʼn paar ander draaie met hom, tot in Los Angeles, gestap voordat hy in 2008 sy akteursdeurbraak op eie bodem in Binnelanders gemaak het.

Ramey (regs) op die verhoog. (Foto: Verskaf)

“Die titel vat my persoonlikheid en my lewe alles mooi saam – wat met my gebeur het, my geskiedenis, wie en waar ek vandag in die lewe is. Die lewe het my baie curveballs en knocks gegooi van kleintyd af,” verduidelik Short.

“Die geleentheid om aan hierdie liefdesprojek te kon werk, het my opnuut laat besef dat ʼn mens moet doen wat jy op die hart gedruk word om te doen. Die storms wat ʼn mens soms moet aandurf om jou drome te bewaarheid, is beslis die moeite werd.”

Kannie Breek is aanlyn asook in uitgesoekte musiekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.