Resensie: Reisiger – Saarkie

Saarkie

Saarkie bestaan uit twee van die stigterslede – hoofsangeres en kitaarspeler Adele Fouché, tromspeler Lila Botha en een nuwe lid, baskitaarspeler Lourene Mostert. Foto: Saarkie se Facebookblad.

Deur die jare was daar tot dusver maar min Suid-Afrikaanse groepe wat net uit vrouelede bestaan en volgehoue sukses in die plaaslike musiekbedryf behaal het.

Een van ’n handjievol wat nou nog op die toneel is, is Saarkie (ja, die naam word inderdaad só gespel), wie se derde album, Reisiger, onlangs vrygestel is. Dié groep bestaan uit twee van die stigterslede – hoofsangeres en kitaarspeler Adele Fouché, tromspeler Lila Botha en een nuwe lid, baskitaarspeler Lourene Mostert.

Die eerste snit is “Dullstroom”, een van die treffers op die album, wat deur al drie groeplede, asook Swart Maria en die regisseur van die album, Zanda Greeff, geskryf is. “Kamers van my hart”, wat Adele en Zanda saam geskryf het, is nog ’n baie goeie snit wat ’n treffer kan word. Die huidige treffer is een van die hoogtepunte van die album, die lekker nostalgiese “Somerjare”.

Daar is ook ’n paar Engelse snitte op die album, en die eerste daarvan is “One love”, waarop ’n Afrikaanse reël of twee ook voorkom. Rymkletser Tshepo de Hope kan ook in hierdie snit gehoor word, en dit is ’n kwessie van persoonlike smaak. Jy hou baie daarvan, of andersins glad nie. Adele het die titelsnit geskryf, en sy bespeel ook die mondfluitjie daarin. Dit is ’n vermenging van rock en blues, en dit gebeur nie gereeld dat ’n mens so iets in Afrikaans hoor nie. Hoe ook al, dis regtig ’n lekker snit om na te luister, en ’n mens hoop daar is radiostasies wat die waagmoed sal hê om dit te speel.

“Vroue van Afrika” is ’n tipe “girl power”-liedjie, baie soos die Eurythmics-treffer “Sisters are doing it for themselves”, wat Aretha Franklin saam met hulle gesing het. Adele het ook die tweede Engelse snit op die album, “Trust”, geskryf, en weereens wys hulle dat hulle ewe gemaklik met Engels as Afrikaans is. Daar is net twee snitte wat nie deur huidige of vorige lede van die groep geskryf is nie, en die eerste een is “Ai my lam”, ’n komposisie van Ryno Velvet. Dit is ’n baie goeie snit wat maklik ’n treffer kan word.

“Free falling” is nie die bekende Tom Petty-treffer wat soveel kunstenaars graag sing nie, maar ’n oorspronklike komposisie van Adele. Chuck Norris is nog ’n Afrikaanse snit wat as ’n mengsel tussen rock en blues beskou kan word, en Adele se kitaarwerk in hierdie snit is doodgewoon skitterend. “Afrika-land” is seker een van die eerlikste liedjies wat tot dusver oor Suid-Afrika geskryf is. Jan Blohm het “Nader aan my” geskryf en sing dit saam met hulle. Hierdie snit het lankal radiolugtyd gekry en dis goed dat dit eindelik op CD beskikbaar is. Dieselfde geld vir die laaste snit, “Wie sal my bystaan?”, wat deur ’n gewese lid van die groep, Annamarie Steenkamp, geskryf is.

Die meeste Afrikaanse vrouegroepe het tot dusver met pop vorendag gekom, en dis goed dat daar een is wat nie bang is om dit met rock en blues te waag nie. Die feit dat hulle al die instrumente op die album bespeel en glad nie van ateljeemusikante gebruik gemaak het nie, is ’n bewys dat hulle uiters talentvol is en verdien om groot sukses te behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Nico Strydom ·

Sterkte julle en sê biekie vir Padlangs … time for another round ☺

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.