Sosialemediaster bekoor met liefdestreffer

Francois Boyce. (Foto: verskaf)

Hoewel Francois Boyce se “aster”, soos wat hy na haar verwys, oorspronklik van Bloemfontein afkomstig is, is sy “Meisie van Fraserburg” eintlik op haar teenwoordigheid in sy lewe geskoei.

Met sy lewensgroot persoonlikheid en vlymskerp sin vir humor, spog Boyce se Hoezit Samelewing, sy handelsmerk en sosialemediaprofiel, met nagenoeg 80 000 volgelinge.

“Met die skryf van die liedjie het ek bly dink daar moet iets soos ’n moeitelose meisie op hierdie planeet wees,” het Boyce skertsend aan Maroela Media vertel.

“Met ’n draai in Fraserburg het ek toe geweet dat die titel van die liedjie ‘Meisie van Fraserburg’ moet wees.”

Met behulp van Landru Ehlers se skryfvernuf kon hy die liriek vir dié enkelsnit neerpen.

Boyce is twee weke gelede met sy “moeitelose meisie”, Amoré, getroud en beskou sy jongste voetstamptreffer as ’n ode aan haar.

Boyce, wat ook ’n pastoor is, deel graag sy hart en sin vir humor met ander. Toe hy een aand ná ’n klaviervertoning in Upington ’n video maak oor die uitermatige hitte wat deur die dorpie vloei, het hy nie beplan dat dit sou ontaard in ’n reusagtige teenwoordigheid op sosiale media nie.

“Ek het net gedink watter plek op dees aarde is 31 ˚C om 23:30 in die aand? Ek het sommer ’n lukrake video gemaak – nie ’n Hoezit Samelewing [waarmee hy vandag elke video begin] of enigiets nie.”

Dié video het die harte van Suid-Afrikaners aangegryp en het soos ’n veldbrand versprei. Dit het vir Boyce duidelik geword dat ’n aktiewe teenwoordigheid op sosiale media vir hom beskore is.

Sy komieklike video’s laat mens dikwels skaterlag, maar hy is inderwaarheid ’n rustige mens.

“Ek maak die video, maar daarna raak ek eintlik stil en hou nie van te veel geraas nie.”

Hy het uiteraard ’n groot liefde vir die Here en geniet dit om sy Woord te versprei.

“Ek sê nie altyd vir mense dat ek ’n pastoor is nie, hulle raak dan soms vreemd voor my en is nie altyd gemaklik nie.”

Boyce se verkleurmannetjie-aard vloei nie net deur sy musiek nie, maar ook deur Hoezit Samelewing en sy werk as pastoor.

Luister na “Meisie van Fraserburg” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.