Tweede Brendan Peyper-treffer maak Top-20-buiging

Brendan Peyper. (Foto: Verskaf)

Brendan Peyper se splinternuwe album, Insomnia, is pas bekendgestel en vaar reeds goed op stroomdienste én die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Sy jongste enkelsnit vanaf dié album, “Insomnia”, maak vandeesweek sy toetrede in die no. 11-posisie, terwyl sy liedjie, “Meisies soos jy”, tans die no. 20-posisie beklee.

Dié herverwerkte weergawe van “Meisies soos jy” sluit sangeres Minke Brits in en het onlangs ook Top-20-geskiedenis gemaak.

Maroela Media het vroeër berig dat Brits aanvanklik “Meisies soos jy” op die videoplatform TikTok gedeel het waar sy dié liedjie met net ’n klavier as begeleiding sing. Sy het ook “meisies” verander na “ouens”. Die TikTok-weergawe het Brendan se aandag getrek en sy is toe genader om ’n duet van die liedjie saam met hom op te neem.

Die blonde krulkop Bernice West se jongste treffer, “Nie jou X nie”, klim met sewe plekke na die no. 10-posisie, Riaan Benadé en Jay se “Rowwe bliksem” beklee weer die no. 2-posisie, terwyl Eloff steeds die Top-20-koning is met “Witblits” in die no. 1-posisie.

Verder is daar vyf liedjies wat klim, nege wat hul plek verloor en twee wat onveranderd bly.

  1. Eloff – “Witblits”
  2. Riaan Benadé en Jay – “Rowwe bliksem”
  3. Eloff – “Johnnie blou”
  4. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  5. Riaan Benadé en Ricus Nel – “Haai haai”
  6. Karlien van Jaarsveld en Jacob Swann – “Lief”
  7. Riaan Benadé – “Spontaan”
  8. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  9. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  10. Bernice West – “Ek is nie jou X nie”
  11. Brendan Peyper – “Insomnia”
  12. Bernice West – “Jona”
  13. Rooksein – “Genade nader”
  14. Elandré – “Hand aan hand”
  15. Ivan Roux – “Single”
  16. Jo Black – “Sê my mamma”
  17. Bernice West en Ilán van Staden – “Soen my op my mond”
  18. Appel – “Dina”
  19. Francois van Coke en Elandré – “Maak wakker”
  20. Brendan Peyper – “Meisies soos jy”

*Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Hoewel die belangrikheid van moedertaal en moedertaalonderrig jaarliks op 21 Februarie gevier word, is dit ’n onderwerp wat deurlopend in die media verskyn.

Daarom voel die sanger Muller Brandt dat hy sy stem en talent wil gebruik om die kollig op dié onderwerp te plaas.

“Moedertaal” is uit Muller en Jattie de Beer van Douvoordag se penne en volgens Muller moet dit mense inspireer om op te staan en te baklei vir hul moedertaal.

“Ek is lief vir ons taal en kan my nie ’n toekoms voorstel waarin my kinders en kleinkinders nie weet wat Afrikaans is nie,” sê die sanger.

Ander liedjies wat die afgelope week bekendgestel is, sluit Ouderdoos se “Sarie Marais”, Bjarne se “Sexy selfies” en Marissa se “Bietjie dronk” in.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.