Brendan Peyper maak geskiedenis op dié Top-20

Brendan Peyper. (Foto: Verskaf)

Brendan Peyper spog vandeesweek met twee soortgelyke liedjies op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 – ’n nuutjie vir die treffersparade.

Sy oorspronklike liedjie, “Meisies soos jy”, wat ʼn paar weke gelede uitgereik is en sy nuwe herverwerking van dié liedjie saam met Minke Brits kuier nou saam op die Top-20.

Minke het aanvanklik “Meisies soos jy” op die videoplatform Tik Tok gedeel waar sy dié liedjie met net ’n klavier as begeleiding sing. Sy het ook “meisies” verander na “ouens”. Die Tik Tok-weergawe het Brendan se aandag getrek en sy is toe genader om ’n duet van die liedjie saam met hom op te neem. Brendan vertel meer oor die onverwagse samewerking.

Jo Black se lied “Sê my mamma” betree ook vandeesweek die Top-20 op nommer 11.

Droomsindroom behou vir eers die nommereen-posisie met sy enkelsnit, “Hey sonneblom”.

In vandeesweek se Top-20 is daar twee snitte wat styg, 14 wat daal, twee wat onveranderd bly en ook twee nuwe liedjies wat dié week die Top-20 betree.

  1. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  2. Brendan Peyper saam met Minke Brits – “Meisies en ouens soos jy”
  3. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe bliksem”
  4. Eloff – “Johnnie Blou”
  5. Bernice West – “Jona”
  6. Riaan Benadé – “Spontaan”
  7. Elandré – “Hand aan hand”
  8. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  9. Bernice West & Ilán van Staden – “Soen my op my mond”
  10. Brendan Peyper – “Meisies soos jy”
  11. Jo Black – “Sê my mamma”
  12. Snotkop – “Tsek!”
  13. Franja du Plessis – “My lief”
  14. Jo Black – “Staan vas”
  15. Appel – “Dina”
  16. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  17. Rooksein – “Genade nader”
  18. Christia Visser – “Handgranaat”
  19. Ivan Roux – “Opsoek na liefde”
  20. Dewald Wasserfall – “Bedoel”
  • Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

 

Nuwe uitreikings

“’n Trouring simboliseer ’n oneindige sirkel van liefde, ’n liefde wat geen begin of einde het nie,” vertel CheraLee. Haar jongste enkelsnit, “Droomverlore”, wat sy self geskryf het, is pas bekendgestel.

Dié liedjie handel oor die verlies wat CheraLee se ouers vroeg in hul huwelik moes ervaar met die afsterwe van hul eersgebore kind, Eugene. “My ma het gereeld van hom gepraat en het baie vir ons kinders gesê dat sy hom in ons oë kon sien. My pa het nie veel oor hom gepraat nie, maar as ons oor hom gepraat het, het hy baie ongemaklik geraak.” CheraLee se man het haar vertel van hoe ’n trouring die konsep van ’n sirkel van oneindige liefde vertoonbeeld. Dit het CheraLee laat besef dat hul gesin altyd verbind sal wees aan mekaar, “in lewe en dood”.

Jo Black het ons die afgelope week weer bederf met ’n splinternuwe lied, “Sê my mamma”, wat geskryf is deur Jo, Danny Smoke, Heinrich Gunter, Jacques Mouton en Christoph Kotze (Appel). Jo wil deur die liedjie weer daardie eerste liefde laat opvlam. Die liedjie gaan oor mense wat al lank saam is; mense vergeet soms dat hulle veronderstel is om verlief te wees.

Ander liedjies wat uitgereik is, is Tiffany Steyn se “Girl vir jou”, Brendan Peyper met Minke Brits se “Meisies en ouens soos jy” en Antonie se “’n Vrou soos jy”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Maroelamedia verryk my lewe met woord en musiek! Dankie, julle is die beste!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.