Desiré Gardner se kleintydkarakter word geliefde ‘Magda Louw’

Desiré Gardner het die karakter van Magda Louw ontwikkel en vertolk ook die gelyknamige rol. (Foto: kykNET)

As gr. 8-leerling met ʼn passie vir toneelspel, het ʼn jong Desiré Gardner ʼn karakter geskep wat vandag nie net geliefd is nie, maar ná al die jare steeds heerlik tuis op die planke en kassie voel.

Kykers en teaterliefhebbers het deur die jare heen kennis gemaak met Magda Louw, Desiré se ode aan oudword. Met dié karakter het Desiré ʼn lang en wye pad gestap, en met tye het dit geblyk dat Magda mettertyd ook ʼn stille dood sou sterf.

Tog het Desiré haar geliefde karakter op ys gehou. Eendag, het sy geweet, sou dié karakter die kollig wat haar toekom geniet.

“Ek het geweet dat mense Magda geniet, hoewel ek lank gesukkel het om ʼn deurbraak tot die groter feeste te maak,” het Desiré oor Magda se ontwikkeling aan Maroela Media gesê.

“My ma was eintlik die een wat ʼn onwrikbare geloof in die karakter gehad het. Sy het vas geglo dat Magda eendag tot haar volle reg sal kom.”

Desiré, vandag 37, het deurentyd as sepie- en vryskutaktrise gewerk. Sy het haar tyd by sepies soos 7de Laan, Binnelanders en Suidooster begin en afgehandel, met Magda as ʼn gehoorsame passasier wat geduldig gewag het totdat haar dag uiteindelik sou aanbreek.

Drie jaar voordat Magda Louw, die kykNET-storiefilm, die kassie getref het, het Marcel Spaumer die verhoogweergawe van dié fliek by die Woordfees gesien. Dié humoristiese karakter het by hom vasgesteek, en toe hy ʼn paar jaar daarna ʼn voorstel vir ʼn kortfliek moes indien, was dit Magda aan wie hy eerste gedink het.

“Ek was aanvanklik skrikkerig omdat mense my in ʼn sepiehoedanigheid geken het. Sou hulle my ernstig as ʼn komedie-aktrise opneem?”

Vandag weet Desiré ongetwyfeld dat die rede vir Magda se sukses, in een woord opgesom kan word: tyd. Tyd, sê Desiré, is wat almal met ʼn deursigtige toutjie verbind.

Magda Louw (Foto: Desire Gardner/verskaf deur Innibos)

Dit is Magda se eerlike kennismaking met ouderdom, waarmee baie mense kan vereenselwig.

“Jy kan nie sê ‘shame, kyk na hulle [Magda en haar man]’ nie, want eendag gaan jy ook een van daardie ‘hulle’ wees. Alhoewel dit komedie is, word almal oud.

“Mense kan vereenselwig met die karakter, en dit is wat vir my so kosbaar is. As jy jouself in ʼn karakter kan sien, kan jy vir jouself lag.”

Magda het haar naam en van by Desiré se kleintydmaats gekry: “Magda”, die naam van haar beste hoërskoolvriendin se ma, en “Louw, haar beste laerskoolvriendin se van.

“Afrikaanse middeljarige vroue kan soms so snaaks wees met hul rou eerlikheid, al besef hulle dit nie altyd nie,” vertel Desiré oor die mense waarop Magda geskoei is.

“Alhoewel my ma eintlik glad nie soos Magda is nie, het ek maar baie inspirasie by haar gekry.”

Jare gelede, nog voordat Magda Louw haar verskyning op die kassie gemaak het, was Desiré op die bekende planke van Die Boer-teater in Durbanville te sien.

Vandag, vier sy haar terugkeer na dié planke – ʼn volsirkeloomblik vir die karakter saam met wie sy al soveel jare stap.

“Ek onthou nog ʼn foto wat ek destyds in ʼn aantrekkamer by Die Boer geneem het. Dit is ʼn voorreg om vir ʼn sewe dae lange speelvlak na die teater terug te keer en Magda se storie verder te vertel.”

  • Magda Louw kuier van 25 tot 27 Augustus, en dan weer van 31 Augustus tot 3 September by Die Boer-teater in Durbanville. Koop jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.