Foxwoodfees vier vanjaar liefde, medemenslikheid

Sandra Prinsloo. (Argieffoto)

Johannesburg sal later vandeesmaand ’n heerlike kunsmakietie hou wanneer die Foxwoodfees vir die agste keer daar kuier.

Dié fees vind tussen 21 en 30 Oktober by die boetiek-venue Foxwood House in Houghton, Johannesburg, plaas. Die kollig sal opnuut op die temas van liefde en medemenslikheid val.

“’n Tyd van konflik, onmin en oorlog in ons strydlustige wêreld, skep allerweë ’n behoefte aan hoop en liefde, uitreik en saamwees, daarom wil ons by vanjaar se fees die saambindende krag van die liefde vier: Van teater, die skone kunste en musiek tot gesondheid en die behoud van kulturele erfenis. Ons fees het ’n spesiale aanbieding ter viering van Afrikaans se kragbasis waarop daar vorentoe beplan en gebou kan word,” het Pieter de Vos, een van die fees se stigters, gesê.

Die fees het deur die jare heen ’n tuiste van vernuwing en ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse teatergemeenskap geword. Kunstenaars kry die geleentheid om hul verhoogpassie uit te leef, terwyl teaterliefhebbers van reg oor die land Johannesburg toe stroom om deel van die unieke kunservaring te wees.

“Die totstandkoming van die Foxwoodfees was veel meer as bloot inspirasie, dit was byna ʼn noodsaak vir ons. Ofskoon populistiese teater vir die middelmark in skeppende teaterwerk geweldig belangrik is, het werk wat nuwe norme verken en bakens verskuif, nie goeie staanplek gehad nie,” het De Vos verduidelik.

“Dit was nie ’n begeerte om alternatiewe teater te skep nie, bloot net teater vir werk wat nie hoofsaaklik aan kommersiële sukses gemeet kan word nie. Werk van uitnemende kunstenaars wat oor die jare in vergetelheid geraak het, soos die digkuns van Olga Kirsch, is onder meer met groot sukses aangebied.”

Die Foxwoodfees skop vanjaar op Vrydag 21 Oktober om 18:00 af met ’n uitstalling van die skone kunste wat deur Gordon Froud, visuele kunstenaar en kurator, saamgestel is. Feesgangers kan ook uitsien na interessante foto-uitstallings, toneelstukke, aktuele gesprekke, voorlesings en heerlike etes wat tydens vanjaar se fees aangebied sal word.

Talle bekendes, wat onder meer Suid-Afrika se teater-doyenne Sandra Prinsloo en die RSG-aanbieder Amoré Bekker insluit, sal ook by die fees optree.

Die fees sal met ’n regstreekse uitsending van die musiekblyspel Stemme van die Strate uit Prins Albert afgesluit word. Dié konsert is deur die Prins Albert‑gemeenskapstrust (PACT) van stapel gestuur en dien as ’n groot kunste-inspuiting vir die inwoners van die Wes-Kaapse dorpie.

Volgens die organiseerders is elke produksie, elke fees, elke nuwe aanbieding ’n hoogtepunt.

“In ’n wêreld waarin subjektiewe oordeel die norm is, is dit byna onmoontlik om objektief te bepaal of ’n produksie geslaag is of nie. Soveel hoofde, soveel menings. Maar as ons in ons werk bereik waarna ons gemik het, gee ons vir onsself ’n slaagsyfer, en as die eise hoog was, is dit ’n hoogtepunt,” het De Vos geesdriftig verduidelik.

  • Vir meer inligting en die volledige program van die fees, besoek die Facebook-bladsy.
  • Besoek die webwerf om kaartjies aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.