Immergewilde musiekproduksie weer op pad planke toe

“My Fair Lady” sal binnekort op die planke wees. (Foto: verskaf)

Dit reën in Spanje, daarom gaan ons die nag deur dans!

As jy weet waarop dié frase sinspeel, is jy moontlik een van diegene wat die dagboek sal nadertrek om die datums neer te pen van hierdie immergewilde produksie wat binnekort op die planke te sien sal wees.

My Fair Lady gaan in Desember vanjaar by die Kunstekaap in Kaapstad draai en in Januarie 2025 in Johannesburg by die Teatro kuier.

Dié produksie volg in die voetspore van The Sound of Music, wat in Maart vanjaar sy speelvlak in Johannesburg voltooi het. Nes dié immergewilde produksie, sal My Fair Lady ook deur Pieter Toerien-produksies in samewerking met Kaapstad Opera op die planke gebring word.

Steven Stead, wat ook die regie van The Sound of Music behartig het, staan aan die stuur van die produksie, terwyl Duane Alexander verantwoordelik is vir die choreografie en Kevin Kraak die musiekregie behartig.

Die oorspronklike produksie van My Fair Lady het deur die jare ʼn allemintige ses Tony-toekennings ingeoes en het ʼn totaal van 2 717 uitvoerings gehad.

Die produksie is laas in 2006 in Suid-Afrika uitgevoer. Die rolverdeling sal binnekort bekendgemaak word.

  • Indien jy solank kaartjies wil bespreek, besoek hierdie webwerf vir ʼn vertoning by die Kunstekaap en hierdie webwerf vir ʼn vertoning in Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.