Resensie: Rooi kaart – Frank Opperman

Deur Suné van Heerden

“Ek is die president, vir wie moet ek dan toestemming vra?”

Frank Opperman se eenmantoneel, Rooikaart, geskryf deur Dana Snyman, is ʼn eerlike stuk en Opperman se vertolking van die hoofkarakter, Wally Koekemoer, is onverbeterlik.

Die stuk handel oor die jaarlikse prysuitdeling van ʼn plattelandse rugbyklub. Wally Koekemoer is die president van die rugbyklub en tydens sy toespraak, met sy gunsteling drankie in die hand – dubbelbrandewyn en Coke – raak hy allerhande dinge kwyt en kom die hele dorp se skandes op die lappe.

Die stuk is tong-in-die-kies en net so eerlik soos ʼn man wat te diep in die bottel gekyk het, kan wees. Almal loop deur: die regering, rugby-unies, naamsveranderingkomitees, geborgde rugbyspelers, buite-egtelike verhoudings en die sensasie-soekende pers. Die gehoor lag met tye hardop omdat mens jouself in die eerlikheid daarvan herken.

Opperman bewys weereens dat hy ʼn akteur is wat sy sout werd is: definitief geen rooi kaart vir hom nie! Die gehoor het hulle ondersteuning met ʼn staande applous bevestig.

Rooikaart vertoon tans by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees en die regie word behartig deur Gys de Villiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae