‘Boer soek ʼn vrou’ se Albert vind liefde

Albert Smit en Chanté Kruger is ‘n paartjie. (Foto: Anna Photography)

Eers het boer Albert Smit, die pittige rooikopboer van die 13de seisoen van die gewilde TV-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou, kykers aan die gons gehad toe twee vroue tydens die program sy rooibosteeplaas tegelyk verlaat het.

Nou is aanhangers weer aan die gons nadat dit aan die lig gekom het dat Albert (26) en Chanté Kruger saam is. Chanté het sy topvyf gehaal van die vroue wat die blitsafsprake bygewoon het, maar hy het haar nie gekies om plaas toe te gaan nie.

Dié twee het egter sowat twee maande gelede weer kontak gemaak en begin kuier nadat Chanté, ʼn rekeningkundige van beroep, vir werksdoeleindes van Pretoria Kaap toe verhuis het.

Met Clanwilliam om die draai het Albert besluit om haar te nooi vir koffie en van daar af was die koeël behoorlik deur die kerk.

“Ons maak gereeld plan om mekaar te sien. Gelukkig werk sy hoofsaaklik van die huis af, so sy kom sommer vir ʼn week of twee op ʼn slag plaas toe. Dis lekker om ʼn tweede asem in die huis te hê,” sê Albert aan Maroela Media.

Hulle is reeds sedert April amptelik in ʼn verhouding. Hulle het onlangs ʼn fotosessie saam met Ansie Zanie Nel van Anna Photography in die Cederberge gehad en Albert het hier vir Chanté amptelik gevra om sy meisie te wees.

Hy hou vol dit was haar kamera-skuheid wat haar kanse belemmer het om plaas toe te gaan. Hy het uiteindelik vir Marlia, Mariska en Trudie plaas toe genooi.

Albert en Chanté geniet die buitelewe. (Foto: Instagram/Albert Smit)

“Sy het heeltemal in haar dop gekruip en sou baie ongemaklik gewees het tydens die plaasweek. Die kompeterende aard van die program, veral onder die dames, was ook nie vir haar lekker nie. Sy was baie stil.”

Hy sê hy het die toptien uit die briewe wat hy ontvang het gekies met sy hart, maar dat hy met sy kop die topvyf benader het.

“Chanté was toe ook nog besig om haar klerkskap in Pretoria te voltooi. Dit is ʼn bietjie ver om iemand te leer ken en dit het ook tot my besluit bygedra.

“Dit was in elk geval lekkerder om mekaar weg van die kameras en druk te leer ken. Ek is glad nie spyt oor hoe alles uitgedraai het nie en sou ook nie my besluite anders geneem het nie,” sê hy.

Albert en Chanté is mal oor die buitelewe. “Dit is ook haar passie – enigiets in die natuur is haar kos. Ons geniet dit ook om saam te kamp.”

Albert bieg dat Chanté nie mal is oor die kollig wat met die Boer soek ʼn vrou-faam gepaard gaan nie, maar dat hy self nie veel daaroor gepla is nie.

Albert en boer Mathys het goeie vriende geraak nadat hulle mekaar deur die program ontmoet het. (Foto: Verskaf)

Hy vertel laggend dat hy en ʼn vriend, boer Mathys – wat ook in die toptien van vanjaar se TV-boere was – het onlangs saam na die Krugerwildtuin gereis en “’n hele pakhuis op Letsitele tot stilstand gebring het”.

“Toe die ontvangsdame besef van waar sy ons herken, wou die een na die ander aanhanger ʼn foto saam met ons neem. In ʼn stadium het ʼn hele kantoor se vroue uitgekom vir foto’s.”

Hy en Mathys het mekaar leer ken toe hulle deur Boer soek ʼn vrou-vervaardigers op dieselfde Whatsapp-groep geplaas is. Hulle het mekaar uiteindelik op die reünie ontmoet waarna Albert vir Mathys plaas toe genooi het en van daar af het hulle ʼn goeie vriendskap gevorm.

Albert voeg by dat hy en Marlia, wat laaste op die plaas agtergebly het, nie gereeld kontak het nie maar dat daar geen kwade gevoelens is tussen hulle nie.

“Sy en haar suster het onlangs ʼn draai op die plaas gemaak en as ek in Hermanus is sal ek by haar gaan koffie drink.”

Nuwe reeks

Hubare, Suid-Afrikaanse boere of plaasbestuurders, mans en vroue, kan deelneem aan die 14de seisoen. Dié reeks sal in Januarie volgende jaar uitgesaai word.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel Marche Media by 079 335 5137;
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (let wel.media en nie.com / .co.za nie)

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 13 Mei 2021 bereik.
  • Hou kykNET se sosialemediaplatforms of die media dop vir die aankondiging oor 2022 se toptien-boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Hou Maroela Media dop vir nog opwindende Boer soek ʼn vrou-nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.