Fliekresensie: ‘Stella Murders’-dokkie ‘stroef, ontnugterend’

(Foto: verskaf)

STELLA MURDERS

⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10 

Met Marizka Coetzer en Elmarie Claassens

Regisseur: David Enright

Showmax

Indien jy Maroela Media goed ken, mag jy bewus wees van die deeglike verslag wat hulle oor die Stella-moorde, en veral die uitspraak in 2018, oor die saak gelewer het. Hul beriggewing word gereeld in die program, Stella Murders, aangehaal.

Die feite was skokkend, verbysterend en onverstaanbaar.

Twee goeie vriendinne, Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, wat in ʼn skoolkoshuis op die klein dorpie Stella in Noordwes tuisgegaan het, is op Saterdagoggend 26 Mei 2018 vermoor. Sharnelle het in daardie stadium pas haar verhouding met Xander Bylsma, wie later aan hul moorde skuldig bevind is, beëindig.

Hierdie dokumentêr, wat uit dieselfde stal as Devilsdorp kom, vind ʼn verslae dorpie, wat steeds onder die skokkende moorde gebuk gaan. Onderhoude word met verskeie mense soos die voormalige Huisgenoot-joernalis, Marizka Coetzer, die twee dogters se ouers, asook ʼn sielkundige gevoer, wat die gebeure in perspektief plaas. Natuurlik word daar ook met die ondersoekspan en die staatsaanklaer gesels.

Die deurslaggewende klankopname wat ʼn privaatspeurder, Chris Saunders, opgeneem het terwyl hy die jong Bylsma polisiestasie toe geneem het en ondervra het, word veral in die kollig geplaas. Hier word bewys dat hy nie die skuldige geïntimideer of voorgesê het wat om te erken of ontken nie.

Die aanslag van die dokumentêr is stil, hartseer, simpatiek en oorbluf, want Bylsma het nog nie skuld erken of verduidelik hoekom hy die twee dogters vermoor het nie. Hier is geen opspraakwekkende vars getuienis of gedramatiseerde tonele wat bykomende inligting bevat nie. Daar is slegs vermoeide mense, veral die dogters se ouers, wat emosioneel vertel wat gebeur het. Tog konsentreer die dokumentêr eintlik daarop dat almal op die dorpie slagoffers was, en hoe die getraumatiseerde ouers en families voortgaan met hul lewens.

Die Bylsmas wou nie met die televisiespan praat nie, dus sien ons nooit die gebeure vanuit hul oogpunt nie.

Die dokkie is stroef, hartseer en ontnugterend, want die gevaar het nie van buite die dorpie gekom nie, maar uit die binnekringe. Dít was eintlik die ergste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.