‘Fraksie’: Leer ken die hoofkarakters

‘Fraksie’ begin Dinsdagaand om 20:00 op kykNET wys.

kykNET-kykers kan binnekort kennis maak met die karakters van Fraksie, die splinternuwe dramareeks uit die pen van Louis Pretorius en Albert Snyman.

Louis en Albert was vir onder meer reekse soos Fynskrif, Troukoors en Die boekklub verantwoordelik en met Fraksie het hulle beslis weer ’n groep merkwaardige karakters geskep.

Fraksie speel af op Stellenbosch en handel oor Schalk Smit, ʼn beleggingsbestuurder met drome om eendag ʼn dollar-miljoenêr te word.

Hy is getroud met Nina (Roeline Daneel), wie se ma, Deidré (Hélène Truter), baie ryk is. Nina se pa, Willem (André Jacobs), is ’n onkoloog en haar suster, Bianca (Daneel van der Walt), ’n narkotiseur. Schalk en Nina het twee tienerkinders, Zac (Alex van Dyk) en Mari (Jana Malan).

Wie is nog in die reeks te sien? Hier is ’n kort opsomming van die hoofkarakters:

Edwin van der Walt as Schalk Smit

Edwin van der Walt in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Edwin van der Walt, bekend vir sy werk in teater, reekse soos Fynskrif, Troukoors en Waterfront, en flieks soos Wonderlus en Die pro, vertolk die rol van Schalk Smit.

Schalk is ’n beleggingsportefeuljebestuurder by T&M Holdings wat aan die miljardêr Tiaan du Toit behoort. Schalk se groot droom is om ’n dollar-miljoenêr te word en niks sal in sy pad staan om dit te bereik nie.

Op die oog af is hy warm en vriendelik, maar onder alles skuil ’n sakeman wat nie bang is om kanse te vat nie. Hy is trots op sy seun wat uitblink in rugby, verdra net sy rebelse dogter en het ’n komplekse verhouding met sy vrou.

Schalk is oorspronklik van Kimberley en smag daarna om tot die binnekring van Stellenbosch se elite toegelaat te word.

Marlo Minnaar as Tim Koopman

Marlo Minnaar in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Marlo Minnaar is bekend vir sy rolle in televisiereekse soos Sara se geheim, Troukoors, Suidooster en Die Boland moorde.

In Fraksie speel Marlo die rol van Tim Koopman, ’n dosent in rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Pretoria. Tim het deur die jare gesien hoe studente sukkel om hulle finansies te bestuur en het in sy vrye tyd die rekenaartoepassing QPI (Quick Payment Interface) ontwikkel waarvoor hy nou beleggers soek.

Tim en Chantel (Crystal-Donna Roberts) is ses maande gelede getroud nadat hulle mekaar by ongevalle ontmoet het – Tim het geval en Chantel is ’n verpleegsuster. Chantel help die skaam Tim om uit sy dop te kruip en hulle is dolgelukkig. Een ding van Tim sal egter nooit verander nie: sy sin vir wat reg en verkeerd is.

Trix Vivier as Jana Broeksma

Trix Vivier in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Trix Vivier, bekend vir haar rolle in Trackers, Waterfront en Legacy, is te sien as Jana Broeksma. Jana was saam met Tim en Schalk op skool, maar ná matriek het sy uit hulle lewens verdwyn en regte aan Rhodes Universiteit gaan studeer.

Sy is ’n suksesvolle kommersiële prokureur en op die oog af gelukkig getroud met Alwyn. Hulle is die ouers van die negejarige Emmy. Jana se lewe verander drasties wanneer sy werk op Stellenbosch aangebied word.

Dié skuif plaas haar weer in die wentelbaan van Tim en Schalk en sy word by hulle nuwe maatskappy betrek. Jana is ’n komplekse mens met ’n komplekse geskiedenis, ’n geskiedenis waartoe Schalk en Tim onwetend bygedra het. Sy probeer om ’n goeie mens te wees, maar die spoke van haar verlede laat haar dit nie altyd toe nie.

Duane Williams as Jack Williams

Duane Williams in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Duane Williams is nie net bekend vir rolle in Blood & Water en 7de Laan nie, maar het ook al as danser in verskeie produksies opgetree. In Fraksie is hy te sien as die bemarkingskenner Jack Williams.

Hy is die seun van ’n diplomaat en wil sy aansienlike trustfonds gebruik om in tegnologie te belê. Hy woon by sy ouma, Ester, ’n emeritus professor in drama aan die Universiteit Stellenbosch. Jack probeer sy bes om mense te beïndruk, maar hy maak dom foute en het ’n gewoonte om werk en plesier te meng. Hy ontmoet toevallig vir Jana op die gholfbaan en word só deel van QPI.

Melt Sieberhagen as Henk Greyling

Melt Sieberhagen in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Melt Sieberhagen, bekend vir reekse soos Troukoors, Die Byl en Proesstraat, is in Fraksie te sien as Henk Greyling, die hoof van IT by T&M Holdings.

Hy het in die 2000’s aan ’n platform soortgelyk aan Mxit gewerk, maar het gekies om ’n salaris te neem in plaas van aandele. Almal betrokke het baie ryk geword behalwe Henk. Sy huwelik het verbrokkel weens sy bitterheid en sedertdien haat hy sy werk.

Hy woon saam met Donovan, ’n gay geleentheidsbeplanner, en hulle het ’n komplekse verhouding. Henk het ’n 19-jarige seun, JP. Wat gaan Henk doen wanneer hy ’n geleentheid kry om in QPI te belê?

Roeline Daneel as Nina Smit

Roeline Daneel in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Roeline Daneel (Fynskrif, Die boekklub, Binnelanders, Kompleks) speel die rol van Nina Smit, Schalk se vrou en ma van hulle twee kinders.

Nina se familie is welgesteld. Haar ma is Stellenbosch-adel, haar pa is ’n onkoloog en haar suster is ’n narkotiseur. Sy is die swartskaap van die familie en sy en Schalk moes trou toe sy jonk swanger geraak het.

Nina is ’n deeltydse eiendomsagent, maar wonder soms hoe haar lewe sou wees as sy nie met Schalk getrou het nie. Wanneer hy met nog ’n plan om geld te maak kom, is sy opgewonde, maar ook skepties omdat sy planne selde uitwerk. Is dit tyd om haar eie potjie te krap?

Crystal-Donna Roberts as Chantel Koopman

Crystal-Donna Roberts in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Crystal-Donna Roberts (Arendsvlei, Fynskrif, Krotoa) is Chantel, ’n verpleegsuster wat vir Tim in ongevalle ontmoet het. Hy het gesê sy is die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het en dat hy met haar wil trou.

Sy het net gelag, maar kort daarna is hulle wel getroud. Sy is opgewonde oor QPI en wens Tim wil partykeer meer vir homself opstaan.

Chantel is onopgesmuk en hardwerkend en het ’n baie goeie verhouding met haar ma en suster.

Sean-Marco Vorster as Alwyn Broeksma

Sean-Marco Vorster in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Sean-Marco Vorster (Alles Malan, Legacy) is die voormalige hoofsanger van die rockgroep Ysterhout. Hy gee deesdae kitaarles en is ’n tuisbly-pa terwyl Jana werk. Hy is versot op klein Emmy. Sy lewe word omvergegooi wanneer Jana Stellenbosch toe trek en hy besluit hy en Emmy moet agter haar aan trek. Dit werk egter nie uit soos hy gehoop het nie en hy moet nou sy eie lewe in oënskou neem en besluit wie hy werklik is.

Hendrik Nieuwoudt as JP Greyling

Hendrik Nieuwoudt in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Hendrik Nieuwoudt (Fynskrif, Tydelik terminaal, Troukoors) is Henk se seun en is oortuig dat hy ’n YouTube-ster gaan word. Hy kom Stellenbosch toe om drama te studeer nadat sy ma hom uit die huis geskop het as gevolg van die video’s wat hy van haar gemaak het.

Hy en Henk het nie ’n goeie verhouding nie en hy hoop dat hulle mekaar beter sal leer ken.

Pierre van Pletzen as Tiaan du Toit

Pierre van Pletzen in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Die veteraan-akteur Pierre van Pletzen (7de Laan, Meerkat Maantuig, Die Boekklub) vertolk die rol van Tiaan du Toit, ’n miljarder wat genoeg geld gemaak het om verskeie leeftye te hou, en wat nog altyd vir Schalk gesien het as die seun wat hy moes gehad het. Deesdae is hy egter nie so seker nie. Schalk is vir hom roekeloos, maar hy sien tog potensiaal in QPI. Is hy te oud om weer van vooraf te help aan ’n sakeonderneming bou?

Fraksie begin op Dinsdag 13 September om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitsaai. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.