Jak de Priester vier stories, uniekheid oor ʼn koppie tee

Jak de Priester. (Foto: Abri Kruger Photography)

Wanneer ʼn mens ’n koppie tee saam met iemand drink, deel jy ’n oomblik, jy weet iets spesiaals is besig om te gebeur.

Dít is waarom Jak de Priester maklik sy beker boeretroos vir ’n heerlike koppie tee verruil.

“Mens drink koffie vir ander redes. Wanneer jy aan die gang is. Tee is iets anders.”

Tee is ook iets waarmee Jak (46) grootgeword het. Die oomblikke wat hy van kindsbeen af met sy gesin, veral sy ma, gedeel het, het byna altyd met ’n koppie tee gepaard gegaan.

Sy liefde vir tee en mense het die grondslag vir sy kykNET-geselsprogram gevorm. Kykers het Jak as aanbieder leer ken tydens die jare wat hy die Reis na gister-program aangebied het. In elke episode van dié reeks het hy met bekendes onderhoude gevoer terwyl hulle saam ’n besoek aan die betrokke bekende se grootworddorp afgelê het.

Om mense se stories te kon hoor, om stil te staan en oor die diep dinge in die lewe te gesels, het nog altyd vir Jak uitgestaan.

“Ek het altyd geweet dat indien ek weer in die toekoms iets sou aanbied, onderhoude betrokke sou wees.”

So het Koppieteefontein, “’n put vol stories”, ontstaan.

Jak erken dat hy in die eerste seisoen van dié nuwe reeks met vroue wou gesels.

“Ek kon met fenomenale vroue gesels. Ek wou in die tweede seisoen uitvind hoe dit sou voel om ’n pot tee met ’n man te deel, en ek het. Dit was ongelooflik.”

Mense soos Schalk Bezuidenhout, Dawie Roodt en Leon Schuster het deel van die tweede seisoen van Koppieteefontein se gastelys uitgemaak. Saam met elkeen het Jak tee gedrink, en elkeen het hul harte teenoor hom oopgemaak.

Daar lê ’n intrinsieke waarde in stories opgesluit, meen Jak. Vir hom, is dit amper soos ’n getuienis.

“Ons kan soveel by mekaar en by ander se stories van hartseer, geluk en oorwinning leer.”

Toe nie altyd Jak …

Alhoewel Suid-Afrikaners hom as Jak de Priester ken, is dit natuurlik nie dié veelsydige kunstenaar se geboortenaam nie.

Hy het eintlik nooit tuisgevoel in die naam Jako Roux nie, verklap hy.

So het dit gekom dat hy in sy studentedae in die vroeë 2000’s Jak de Priester geword het. Hy en sy studentevriende het besluit hulle moes verhoogname kry, en basta. Boonop het bekendes soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel hom finaal oortuig.

(Foto: Abri Kruger Photography)

So het hy met sy verhoognaam vorendag gekom, sonder te veel moeite en met min kommer oor die toekoms

“En De Priester het niks met geloof uit te waai nie.”

As hy vandag terugkyk, sou hy dalk iets anders gekies het, erken hy. Alhoewel min mense hom vandag Jako noem, dink hy Jak is dalk ’n vreemde, ongemaklike naam vir mense om te sê.

“Dis ongewoon, maar dis wie ek is, daar is niks wat nou verander kan word nie.”

Sy lewe en loopbaan het al wye draaie gemaak, van onderwys in die buiteland tot ’n toegewyde dramastudent, maar hy is dankbaar dat hy in die skoene van ’n musikant geland het.

“As musikant bepaal ek op ’n manier my eie lewe. Jy het nie altyd daardie vryheid wanneer jy ’n akteur is nie. As akteur is jy deel van iets, jou lewe word vir jou beplan en bepaal.”

Niks belangriker as uniekheid

As daar een ding is wat hy as pa vir sy drie kinders wil leer, is dit om hul eie uniekheid te koester.

“Ons hoef nie altyd saam met die stroom te swem nie. Wees anders as jy anders wil wees.”

(Foto: Abri Kruger Photography)

Jak, wat deur die jare heen groot insae in elke kreatiewe aspek van sy lewe as kunstenaar gehad het, koester dit vandag steeds om soms bo die gedruis uit te staan.

Dis ook nie ʼn doelbewuste andersheid nie, verduidelik hy. ʼn Mens moet bloot daarna streef om dit wat jou uniek maak, wat jou laat uitstaan, na te streef in plaas daarvan om dit toe te gooi met alles wat deel van die norm vorm.

“Mens dink altyd dat jy deel van die groter groep moet wees om sukses in die lewe te behaal.

“Jy moet jou uniekheid ontwikkel en vier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.