kykNET vanjaar mondig én bekkig

Stella. (Foto: Stella K/Instagram)

Het jy Stella al ontmoet? Indien nie, gaan jy binnekort want sy is deel van DStv se nuwe veldtog wat kykers ʼn kykie gaan gee in die kykNET-wêreld agter die skerms.

Die veldtog “Meer as net TV” is van stapel gestuur as dié kanaal se 21ste verjaardag op 15 November.

“Met kykNET se 20ste verjaardag in 2019 het ons ons kykers se stories vertel in die “Gewoon, Ongewoon”-veldtog, waarvoor ons ’n Promax-toekenning gewen het,” sê Leo Smit, kykNET se senior bestuurder van bemarking. “Hierdie jaar het ons besluit om kykers te wys hoe dit hier by ons agter die skerms lyk.”

Dié veldtog skop af met ’n nuwe kykNET-advertensie waarin kykers die fiktiewe Stella ontmoet.

“Stella is ’n groot kykNET-aanhanger wat op 15 November 1999 gebore is en saam met kykNET mondig word. Sy word ’n werk by kykNET aangebied waar sy die geleentheid kry om saam met die kykNET-span te werk

“Vir Stella is dit ’n droom wat waar word – in die advertensie moet sy haarself knyp elke keer as sy ’n bekende kykNET-persoonlikheid in lewende lywe sien. Sy kan nie glo sy het die voorreg om die kykNET-wêreld te ervaar en inligting bymekaar te maak om dit weer oor te vertel aan kykers nie. Oor die volgende paar maande gaan kykers deur haar oë ’n kykie in kykNET se opwindende televisie-kombuis kry,” sê Smit.

“kykNET se betrokkenheid in ons Afrikaanse gemeenskappe wys dat ons baie meer as net ’n televisiekanaal is,” sê Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale. “Ons is nie net mondig nie. Ons is ook bekkig en ons hoofdoel is om ons kykers se behoeftes eerste te plaas.”

Volg Stella se kykNET-avonture op Instagram: stella_kyknet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.