Nog ʼn fliek kom uit geliefde kinderboekskrywer se pen

Méla Swanepoel in “Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins”. (Foto: verskaf)

Van Suurlemoen!, ʼn Goeie dag vir boomklim en Perfek tot nog ʼn rolprent wat beloof om kykers te boei – die kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, is die draaiboekskrywer van ʼn heerlike rolprent.

Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins, is ʼn verhaal so eie aan Jaco se skryfstyl en vindingryke verbeelding, en dit sal eersdaags op kykNET as storiefliek debuteer.

“Jaco is ʼn kookpot van idees en Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins was een van die idees waarmee hy vorendag gekom het,” het Réze Fox, produksiebestuurder by Green Planet Production, wat die fliek vervaardig het, gesê.

Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins vertel die verhaal van Charlie en haar ma, Ilse, wat by een van Ilse se universiteitsvriende in ’n nuwe dorp gaan woon. Charlie sukkel om aan te pas en vind vrede in haar sokkies en die klassieke boek, Alice se avonture in Wonderland. Sy verbeel haar dat sy haarself ook soos die Chesire-kat kan uitvee en kamoefleer soos sy wil.

Twee van die seuns in haar klas, Jarryd en Ethan, moet ’n taak oor ’n Afrikaanse boek doen. Ethan nader Charlie om saam met hulle daaraan te werk en die drie word vinnig vriende. Alles verloop glad tot ’n plasing op Instagram Charlie en Ilse se nuwe blyplek onthul en hulle verlede hulle begin inhaal.

Dirk Jacobs en Rico Immelman. (Foto: verskaf)

Akteur, TV-aanbieder en grapjas, Francois Jacobs, het in die regisseurstoel vir dié fliek gesit, en die rolverdeling bestaan uit ʼn handvol swaargewig- én groentjie-akteurs.

Méla Swanepoel is as Charlie te siene, Dirk Jacobs as Ethan en Die Gelofte se Rico Immelman as Jarryd. Christel van den Bergh, Pierre Breytenbach, Mandi Baard, Reandi Grey, Zan Hendrikz, Christo Davids en Lizz Meiring is ook in die rolprent te siene.

“Dit het ’n lekker kinkel in die kabel as dit by een van die hoofkarakters kom, maar ons gaan nie te veel uitlap nie. Al wat ons wel sal sê, is dat hierdie storiefilm oor jou tyd op die skoolbanke gaan en dit is iets wat altyd aanklank vind,” sê Réze.

“Charlie, wat op soek is na haar eie identiteit, neem haar hele familie en vriendekring saam op hierdie ontdekkingsreis. Dit is perfekte vermaak vir ’n Saterdagaand en almal – van ouma en oupa tot die kleintjies – kan saam kyk.”

  • Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins word op 2 September om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai en sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

Kyk die lokprent van die rolprent hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.