Sepiegids: Langes beplan iets groots in ‘Arendsvlei’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Volgende op Diepe Waters … Kry hier ‘n voorsmakie van die gebeure in jou gunstelingsepie. (Foto: Skermskoot)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 2 Januarie

Karen word aangeraai om Armand te bel, en Tertius rig ’n waarskuwing aan Tracy. Elise ontvang ʼn onverwagse besoeker, terwyl Thalia nie so onskuldig is soos wat Naomi dink nie. Conrad smokkel met Tracy se kop.

Dinsdag 3 Januarie

Elise bedink ’n plan om meer geld te verdien, en Karen praat met Naomi oor grimering. ’n Oproep krap Geneviève se dag om, terwyl ’n kwotasie ’n angsaanval veroorsaak. Karen se poging tot vrede verklaar nie vreemde gedrag nie.

Woensdag 4 Januarie

Uys is bekommerd oor Lood, terwyl Karen geskok is oor Armand se besering wat hom in ongevalle laat beland. Naomi bespreek die toekoms met Thalia, en Kittie laat Elise se oë rek.

Donderdag 5 Januarie

Tracy laat Lood van opinie verander, terwyl Karen antwoorde by Armand soek. Uys bespreek vreemde gedrag met Elise, en Stiaan is nie beïndruk met Tertius se besluit nie.

Vrydag 6 Januarie

Tertius is bekommerd oor ’n infeksie, en Elise pak by Uys af oor haar probleme. Karen is agterdogtig oor Stiaan en Armand se vriendskap, terwyl Thalia vir Lood ontmoet. Diefstal laat die kospotte prut.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 2 Januarie

Die Samsodiens wag op hete kole vir nuus. Susan en Keith gaan vir opnames by die platemaatskappy, terwyl Zoe iets interessants ontdek.

Dinsdag 3 Januarie

Wade oortuig Justin om Susan te probeer terugwen, maar sal sy belangstel? Zoe en Nazeem se planne met die nuwe sentrum verloop goed, terwyl die nuus van Rhafiek se krisis begin versprei.

Woensdag 4 Januarie

Lee-Ann is bekommerd oor Nazeem en Zoe, terwyl Susan haar gedrag moet verdedig. Kaashifa worstel met haar woede.

Donderdag 5 Januarie

Lee-Ann wil skielik Zoe en Nazeem se projek kanselleer. Kaashifa is terug by die werk, maar Rhafiek voel verlore.

Vrydag 6 Januarie

Zoe konfronteer Nazeem. Kaashifa voel positief oor die toekoms, tot sy op iets afkom wat haar opnuut laat seerkry. Keith wil sy liedjie saam met Susan by Anker bekendstel, maar Elana weier.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 2 Januarie

Die Swarts ontvang ’n nuwe, en interessante, gas. Zelda maak ’n plan met Johan. Wim en Rose moet ’n ongemaklike gesprek met Tshepo en Nina hê.

Dinsdag 3 Januarie

Rossouw voel bedreig deur Farooq se teenwoordigheid. Karla en Sanet se gesprek loop uit op beloftes. Pam en Zelda kruis al hoe heftiger swaarde.

Woensdag 4 Januarie

Farooq en Rossouw stamp koppe oor Anja. Johan se paranoia neem toe, terwyl Jacques hom oor Karla ontferm.

Donderdag 5 Januarie

Farooq en Anja deel groot nuus met die familie. Pam maak oop teenoor Jacques oor die struikelblokke in haar pad. Zelda hou Johan op koers met haar plan.

Arendsvlei

Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 2 Januarie

Poppie is beseer en Janice besluit om Beaufort toe te gaan. Parra oorhandig die R50 000 aan Petra vir veilige bewaring. Nicolene en Xander maak vordering.

Dinsdag 3 Januarie

Beatrice is bekommerd dat Nicolene te geheg aan Xander raak. Emile is uiters gefrustreerd dat Janice nie werk toe kom nie en geskok toe hy uitvind hoekom.

Woensdag 4 Januarie

Petra steek die geld op ’n veilige plek weg. Langes beplan iets groots en Beatrice probeer vir Hein oorreed om Xander te ontmoet.

Donderdag 5 Januarie

Langes vertel Emile dat hy vir Janice instaan. Emile vind uit dat Langes en Ayesha saam uitgegaan het. ’n Vreemdeling bring onrusbarende nuus op die George Cupido-dag.

  • Arendsvlei se voorskou van dié week se episodes was nog nie beskikbaar tydens die plasing van hierdie berig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.