Sepiegids: Stiaan sien rooi in ‘Binnelanders’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ’n voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Stiaan sien rooi in ‘Binnelanders’. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 9 Januarie

Stiaan vaar uit teenoor Karen, terwyl hy ook ’n ferm waarskuwing aan Armand rig. Thalia probeer haar saak stel, terwyl Uys vir Annetjie onder vier oë spreek.

Dinsdag 10 Januarie

’n Reguit vraag laat Stiaan rooi sien. Liam vertel vir Tertius wat hy waargeneem het, en Lood sit sy beste voetjie voor Thalia by. Die waarheid maak Karen bekommerd.

Woensdag 11 Januarie

Lood word uitgevra oor sy toekomsplanne, terwyl Uys nie beïndruk is met ’n “klippie” nie. Karen moet meer as een waarheid aanhoor, en Liam is die ooggetuie van ’n aanranding.

Donderdag 12 Januarie

Karen en Liam weet nie wat hulle te doen staan nie, terwyl Kittie se aanbod Elise en Annetjie se asems wegslaan. Thalia se drome begin Lood inspireer, en ’n dokter beland in ongevalle.

Vrydag 13 Januarie

Annetjie het ’n appeltjie te skil met twee dokters, terwyl daar op Karen se knoppie gedruk word vir hulp. Ruan ontmoet vir Thalia, terwyl Tertius nie meer simpatie met Armand het nie.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 9 Januarie

Rhafiek is bevrees sy kanse is verbrou, terwyl Justin ’n geleentheid sien om vir Keith terug te kry. Bridgette dink sy het ’n manier gekry om van Nazeem ontslae te raak.

Dinsdag 10 Januarie

Nazeem forseer Zoe om oop kaarte met hom te speel, terwyl Tim ’n groot verrassing kry. AB gee vir Rhafiek stof tot nadenke, en Susan se dag gooi woeste draaie met haar.

Woensdag 11 Januarie

Chris gee vir Bridgette broodnodige insig en sy maak die beste daarvan. Carlo het ’n glipsie, terwyl Justin vir Keith aanvat.

Donderdag 12 Januarie

Kaashifa en Rhafiek is albei naby ’n emosionele breekpunt. Nazeem is bekommerd wanneer Zoe ’n onderhoud met Jeremy reël, terwyl Susan aandring op die geld wat Justin haar skuld.

Vrydag 13 Januarie

Kaashifa vra hulp by Elana, terwyl Keith en Susan se planne skielik verander. Nazeem besef hy is in ernstige gevaar, min weet hy ander mense by die sentrum is ook.

Diepe Waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 9 Januarie

Johan is terug in aksie. Rossouw sukkel om Anja se onthulling te verwerk, en Pam doen haar bes om Gys te beïndruk.

Dinsdag 10 Januarie

Anja raak baie ontsteld wanneer sy sien hoe Gys vir Karl behandel. Pam se nalatigheid irriteer vir Zelda, en Sanet speel oop kaarte met Jacques.

Woensdag 11 Januarie

Anja en Rossouw word gekonfronteer en dan neem Sanet ’n drastiese besluit. Bybie wil vergifnis voorskryf ná haar ontdekking, terwyl aggressie ’n ernstige probleem raak.

Donderdag 12 Januarie

Onvoorspelbare gedrag lei tot ’n lelike konfrontasie. Terwyl Zelda ’n olyftakkie na Pam probeer uitsteek, raak ’n broodnodige gesprek vuurwarm.

  • Arendsvlei se voorskou is ongelukkig nie vandeesweek beskikbaar nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.