‘Spoorloos’: ‘Verstaan waar Cobie vandaan kom’

Marisa Drummond in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Deur Ilza Roggeband

Daar is amper niks wat Marisa Drummond nog nie gedoen het nie – van drama tot komedie, werk voor en agter die skerms. In Spoorloos: Die eiland speel sy die rol van Cobie, die rooikopvrou wat nie skroom om te kry wat sy wil hê nie. Sy het ʼn paar van Ilza Roggeband se vrae beantwoord.

Waarvan hou jy die meeste van jou karakter, Cobie?
Sy het ʼn weerloosheid aan haar wat sy nie graag wys nie, want sy dink dit sal haar laat swak lyk, maar die dag wanneer sy wel net ʼn gleuf oopmaak, is dit vir my mooi en gee dit diepte aan die karakter.

Wat was die grootste uitdaging om hierdie rol te speel?
Cobie kan nogal afsydig en lelik met Freek (Deon Coetzee) raak, maar mens moet ook verstaan waar sy vandaan kom. Marisa sou ʼn sagter, sterker benadering gehad het.

Wat het jy die meeste van die verfilming geniet?
Almal, van die crew, produksie en akteurs, se gereedheid elke dag om ʼn goeie produk te lewer.

Bobby van Jaarsveld as Stefan Claasen in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

As jy vir Bobby van Jaarsveld, Armand Aucamp en Deon Coetzee elkeen in een woord moet beskryf, wat sal dit wees?
Bobby: Toegewyd. Armand: Omgee-mens. Deon: Sielvol. Hoewel hulle almal oor al die eienskappe beskik.

Wat is in jou dagboek vir die res van die jaar?
Ek skiet tans aan ʼn nuwe dramareeks deur Paul C Venter wat later op kykNET gaan wees. Ek skryf ook ʼn teks vir ʼn kykNET-Storiefilm en is later vanjaar te sien in Die negende stap, ʼn toneelstuk deur Deon Opperman, wat op Aardklop te sien gaan wees. Franci Swanepoel speel saam met my en die stuk is onder leiding van André Veldts.

Het rooikoppe meer pret?
Ek sal nie weet nie. Ek was al elke kleur onder die son en ek maak my eie pret.

Watter rol sal jy nog graag speel?
Enigiets en alles. The sky is the limit.

‘n Skermgreep uit ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wie beskou jy as jou mentor?
Ek wandel al ʼn hele paar jaar onder Deon Opperman se vlerk, hetsy op die verhoog, voor én agter die kamera. Sy werketiek en passie was nog altyd inspirerend en sy liefde vir ʼn spreitabel maak my opgewonde. My brein smag na ʼn bietjie formaat en funksie.

Wat is op jou bedkassie?
My Bybel, Joyce Meyer se Strength for each day en enigiets daarop wat my dogtertjie vergeet het om te bêre.

Enige Spoorloos-geheime?
Dan sal dit nie ʼn geheim wees nie, sal dit?

Spoorloos: Die eiland wys op Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Die reeks sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees. Dié seisoen bestaan uit agt episodes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.