‘The Bachelor SA’: Blondekop se hart gebreek

Bridget Marshall (Foto: Verskaf)

In die finale episode van The Bachelor SA se tweede seisoen het Marc Buckner vir Marisia van Wyk gekies, terwyl Bridget Marshall stomgeslaan en met ʼn gebroke hart gelaat is.

“Ek het beslis gedink hy gaan my kies. Ek het gedink dit is my gelukkige einde,” sê Bridget aan Maroela Media.

Tydens die finale episode het Marc vir Bridget gesê dat sy hom altyd laat lag en dat hulle van die eerste ontmoeting af baie goed oor die weg kom, maar dat hulle verhouding tot ʼn einde moet kom.

“Toe ek daardie ‘maar’ hoor, het alles om my stil geraak en ek kon niks meer sien of hoor nie. Die oomblik toe ek wegloop van hom af, het dit my in die gesig geklap soos ʼn groot brander en het ek in trane uitgebars,” vertel sy.

“Al wat ek in daai oomblik wou doen, is die rok uittrek, my slaapklere aantrek en ʼn bak roomys in my bed eet. Dit was aaklig.”

Bridget sê sy het nog nie ná die affêre met Marc gepraat nie, maar het wel al met Marisia kontak gemaak.

Bridget en Marc (Foto: Verskaf)

Bridget en Marisia is steeds vriende en dankbaar dat hulle mekaar leer ken het, al was dit op so ʼn manier.

“Ek kan nie kwaad wees dat hy haar gekies het nie. Sy is ʼn wonderlike vrou en dít is hulle feëverhaal. My verhaal is nog iewers anders, ek moet hom net vind.”

Bridget sê sy het tyd gehad om haar gevoelens te verwerk, aangesien verfilming reeds in Desember verlede jaar plaasgevind het. Sy het saam met haar ouers Hongkong besoek en was ook saam met vriendinne Londen en Portugal toe.

Bridget Marshall (Foto: Verskaf)

Hoewel sy reeds herstel het, sê sy dit was moeilik om na die programreeks te kyk.

“Dit was amper asof ek hom weer van voor af moet verloor. Ek het soveel gehuil terwyl ek dit gekyk het, veral die heel laaste episode. Ek het weer al daai gevoelens en emosies beleef.”

“Maar die ondersteuning wat mense my gebied het, was ongelooflik. Ek het nog altyd gesukkel met selfbeeld en selfversekerdheid, maar die ondersteuning wat ek deur die loop van die program gekry het, het my so dankbaar gemaak en meer selfvertroue gegee.”

Bridget is tans by haar ouers in Durban waar sy die afsonderingstyd deurbring. Sy hoop om binnekort weer Kaapstad toe te gaan, asook Costa Rica saam met ʼn vriendin te besoek sodra dit weer moontlik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.