Goue Saterdag vir Jarvis in Japan

Suid-Afrika se Casey Jarvis in aksie. (Foto: Tyrone Winfield/Sunshine Tour/Gallo Images)

Dit was Saterdag effens bewolk op die Taiheiyo Club Gotemba-gholfbaan langs Mount Fuji in Japan, maar die son het helder geskyn op die Suid-Afrikaanse jongeling Casey Jarvis in die derde ronde van die ISPS Handa-kampioenskap.

Die toernooi is deel van die Dubai World Tour (Europese reeks).

Die 20-jarige Jarvis, wat in Boksburg woon, het onlangs 59 houe in die Stella Artois-toernooi in die Sonskynreeks aangeteken en is as die reeks se nuweling van die jaar aangewys.

Hy het reeds die Euram Bank-toernooi in Oostenryk op sy kerfstok.

Jarvis het 64 houe in Saterdagoggend se derde ronde aangeteken nadat hy tellings van 66 en 67 in die eerste twee rondes op sy telkaart ingevul het.

Hy loop op 197 (-13) met een hou voor Yannik Paul (Duitsland) wat op 198 (-12) is met Sebastian Soederberg (Swede), Haotong Li (China), Tom Valiant (Frankryk) en Keita Nakajima en Ryosuke Konishita (albei Japan) wat almal saam derde is op 199 (-11).

Van die ander Suid-Afrikaners het Shaun Norris (202, -8), Christiaan Bezuidenhout (203, -7), Jacques Kruyswijk (204, -8), Brandon Stone (205, -5) en Zander Lombard (-208, -2) vir die laaste twee rondes gekwalifiseer.

Burmester bou voort in Adelaide

In die LIV-reeks se Adelaide-uitnodigingstoernooi wat Saterdagoggend afgehandel is, het Suid-Afrika se Dean Burmester op sy bestendige vertonings in die reeks voortgebou en was hy ná die tweede van drie rondes (-11) net drie houe agter die voorloper, Brendan Steele (-14).

Burmester, wat ses voëltjies in die tweede ronde aangeteken het, is saam met Patrick Reed, Cameron Smith en Cameron Tringale saam vyfde.

Danny Lee (-13) is tweede en Carlos Ortiz en Mito Perreira is saam derde (-12).

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen vaar ook puik en is op -10, met Charl Schwartzel op -8 en Branden Grace verder terug op -2.

In die spanafdeling is die Suid-Afrikaners se Stingers (-29) vyf houe agter Torque (-35) wat gevolg word deur HyFlyers en IronHeads (-34).

In die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue wat op Erinvale in Somerset-Wes beslis word, loop Manon de Roey van België op 136 (-8) met een hou voor ná die tweede van drie rondes.

Sy is een hou voor Rosie Davies (Engeland) wat op 137 (-7) is, gevolg deur Annabell Fuller (Engeland), Momoka Kobori (Australië) en Lisa Pettersson (Swede) wat almal op 139 (-5) is.

Die voorste Suid-Afrikaanse tellings is dié van Stacy Lee Bregman (143), Danielle du Toit (144), Nicole Garcia (145) en Lee-Anne Pace (147).

Bronne: BBC en The Golf Channel

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.