In Afrikaans is ek volledig mens

Wannie2

Prof. Wannie Carstens. (Foto: Verskaf)

Deur prof. Wannie Carstens

Ek skryf in hierdie bydrae oor die wel en wee van Afrikaanssprekende akademici op besoek aan die buiteland, die probleme wat vreemde tale soms oplewer en dan veral oor die verlange na jou eie taal tydens so ʼn verblyf. As vertrekpunt geld natuurlik my eie ervarings, maar waar nodig betrek ek ook kollegas of vriende se eiesoortige ervarings.

Een van die voordele om ʼn akademikus te wees, is die geleentheid om op die koste van jou tuisinstelling te kan reis na ander wêrelddele. So kry ʼn mens kans om Europa, die VSA en Australasië te ervaar. Darem nie om vakansie te gaan hou nie (wel, soms ʼn paar dae op eie koste), maar om internasionale vakkongresse oor jou vakgebied by te woon. Daarsonder sal ʼn akademikus se wêreld klein bly en sal een van die belangrikste komponente van ʼn akademiese loopbaan en van ʼn buitelandse reis, naamlik die vestig van ʼn internasionale netwerk van kennisse wat ook in jou vakgebied werk, nooit realiseer nie. So ʼn netwerk van kollegas aan ander universiteite of navorsingsinstellings is eintlik onontbeerlik vir enige akademikus wat op die voorpunt van sy/haar vakgebied wil bly. Daarsonder is jou loopbaan arm.

So dikwels lei jou netwerk daartoe dat daar geleenthede kom om as besoekende navorser langer tye in die buiteland deur te bring om te werk aan bepaalde projekte, op jou eie of saam met kontakte van jou netwerk. Jy bring dan (alleen of saam met gesinslede) ʼn tyd in ʼn bepaalde land deur en ervaar in hierdie proses die manier van lewe in die betrokke land. Jy word vir ʼn tyd deel van die lewenswyse in die betrokke land, en jy leer die land en sy mense ken: hoe openbare vervoer werk (merendeels puik!), die beskikbare huisvesting, die kossoorte (wat dikwels ʼn aanpassing verg), die politiek (gewoonlik minder onstuimig as in Suid-Afrika), die belewing van godsdiens, die winkels, die argitektuur, die kultuur van die land, besondere feeste, besienswaardighede, die bewaar van plekke van belang vir die land se geskiedenis, die geldstelsel, ens. Dus die totaliteit van lewe in die betrokke land.

Maar soms is jy in ʼn land waar min mense Engels kan praat, en dan is jy op jou eie vermoë tot kommunikeer in ʼn vreemde taal aangewese. Talle Afrikaanssprekende akademici kan goeie Duits, Nederlands of Frans praat, en dan gaan dit natuurlik maklik. Maar as jy aangewese is op Engels (wat die mense dikwels nie verstaan nie) en jou beperkte vermoë van die plaaslike taal, word die verblyf nogal uitdagend. Talle ouer Afrikaanssprekende akademici sal met my saamstem dat ʼn langer verblyf kommunikasiegewys dan uitdagend word. ʼn Informele gebaretaal word sommer gou deel van jou spraakrepertoire.

So het ek al lang tye in Nederland en België deurgebring om óf les te gee as gasprofessor óf as navorser aan ʼn projek (meestal ʼn boek) te werk. In die Lae Lande kan mense ʼn redelike vlak van Engels praat, alhoewel daar talle mense is wat geen vaardigheid of selfs begrip van Engels het nie. Die talle immigrante uit lande waarvan die tale onbekend is, maak dit nog moeiliker. (ʼn Gesprek tussen twee persone waarvan nie een Nederlands na behore kan praat nie, en een nie Engels kan praat nie, word tegelykertyd vermaaklik en uitdagend.) As jy dan nie self goed Nederlands kan praat nie, wat dikwels die geval is, val jy terug op ʼn soort Nederkaans, met die struktuur en woordeskat van Afrikaans gekombineer met daardie woorde of uitdrukkingswyses van Nederlands wat jy tydens jou huidige of vorige verblyf gehoor het en as geykte vorme gebruik. Spraaktempo’s wissel ook maklik. (Self het ek al geleer om my Nederkaans stadig en duidelik te praat.)

Die gevaar van “valse vriende”, woorde met een betekenis in Afrikaans en ʼn teenoorgestelde een in Nederlands, is konstant daar, en dit kan nogal lastige situasies skep. Saam hiermee moet ʼn mens ook mooi onderskei tussen die verskillende variëteite van Nederlands in Nederland en Vlaandere. Soms verskil dialeksprekers binne 20 km soveel van mekaar dat jy niks kan verstaan nie, en dan moet jy mooi kophou om nie aanstoot te gee nie. Begripvolle kommunikasie in ʼn vreemde land is daarom nie altyd ʼn gegewe nie.

Dit alles as agtergrond oor waarby ek eintlik wil uitkom: Die verlange na my eie taal in lande waar ek baie tuis voel, maar ook weet dit is nie my eie nie.

So was ek van September tot Desember 2023 vir ʼn skrywersverblyf van drie maande in Gent, België. Danksy my akademiese netwerk kon gereël word dat ek toegang kry tot die universiteit se geriewe (biblioteektoegang, internet, ʼn sitplek waar daagliks gewerk kon word) en kon ek goeie verblyf verkry. Omdat ek die omgewing goed ken (ek was in 2018 ook daar as gasdosent), was die inskakeling maklik: busroetes, supermarkte, bakkery.

Maar teen die einde het die verlange na my eie taal tog na vore begin kom. Miskien het dit te doen gehad met die Rugbywêreldbeker in Frankryk wat ek op my skootrekenaar se skerm moes meemaak en nie soos gewoonlik die wedstryde saam met Afrikaanssprekende vriende en/of gesinslede kon kyk nie.

Ek is genooi om aan die einde van November deel te neem aan die vyfde Festival voor het Afrikaans (ʼn fees ter viering van Afrikaans in die Lae Lande) in Den Haag om te praat oor ʼn groot projek oor die bestudering van Afrikaans se variëteite. Die vlak van gesels in Afrikaans met Afrikaanssprekende emigrante (dikwels jonger mense wat geleenthede in die buiteland ontgin –  maar die verlange na die mense tuis was merkbaar in die jong mense se gesprekke), die luister na Afrikaanse teater en sang (Amanda Strydom bly maar uniek!), die informele geselsies tussen vertonings met kunstenaars en teatergangers, was heerlik. Skielik kon ek net weer Afrikaans praat en kon ek spontaan Afrikaans wees. Maar buite die feeslokaal in die strate, op die trems, in my verblyfplek, in die trein op pad terug na Gent was dit weer ek en my Nederkaans.

Die wêreld en die taal rondom my was bekend omdat ek al etlike kere daar was en omdat ek die manier van lewe daar baie goed ken. Ek geniet dit om daar te wees. Ek geniet die gevoel van veiligheid, die goeie openbare vervoer, die goeie infrastruktuur en geriewe in die omgewing, die toegang tot goeie winkels en die gawe mense en die vriende wat ek oor jare gemaak het (my netwerk), wat alles moontlik gemaak het dat ek daar kon wees. Vir my was dit egter duidelik dat my hart in Afrika lê, by die land waar my taal Afrikaans my tuis laat voel en waar ek my diepste gevoelens in my eie taal kan uitdruk.

Toe die vliegtuig die Woensdagmiddag laat oor Johannesburg die lughawe nader en ek weet my drie kleinseuns wag daar op die lughawe op hulle oupa, het ek geweet ek is tuis waar ek hoort. In Suid-Afrika, by my mense waar ek in Afrikaans volledig mens kan wees.

  • Prof Wannie Carstens is ʼn afgetrede akademikus aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Ja, Gent is skynbaar ‘n heerlike aktiewe akademiese uithangplek vir Afrikaanse akademici. Destyds was ons Afrikaanse professor vir maande afwesig weens glo dwingende navorsing by dié gewilde instansie. Ons moes net voor die eindeksamen hope werk inhaal en ander dele maar uitgesny om die jaar te kon voltooi. Professors se buitelandse wedervarings is skynbaar ‘n soort van statussimbool wat jou rang en plek in die samelewing bepaal.

Republikein in die Wes Kaap ·

In my volgende lewe wil ek ook ‘n professor word. Intussen moet ek eers werk.

Pieter ·

Annie en Republikein, dis nie goed om so sinies te wees nie. Die tipe kongresse is waar mense van reg oor die wêreld bymekaar kom en kennis uitruil, iets wat vreemd genoeg nogal belangrik vir akademici is.

En dan ek vol sleg dat jy Annie werk op jou eie moes inhaal hoe vreeslik maar jy weet studente oplei is nie die hoof funksie van ‘n professor nie nê. Hulle doen navorsing en dan gee sommige van hulle ook klas.

annie ·

Jy is reg. Hulle moet die wêreld sien so in die heerlike proses om hul wyshede by die braaivure uit te kan ruil en hier en daar ‘n vreemde woord te kan uiter. Jy kan my niks vertel van professore se plig rondom eie verwaandhede nie. Dit is soort van hul geboortereg wat hul móét vervul of hul sal eendag daar Bo moet verduidelik…

Kokerboom ·

Ek stem Republikein. Ek gun hul dit. Ons gewone gegradueerde burgers moet maar werk omdat ons ekonomie aan die gang moet hou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.