Wat is op die kassie?

Maroela Media bied ʼn opsomming van die jongste plaaslike en internasionale kykstof wat reeksvrate en fliekvlooie aan die gons het.

Die Netflix-treffer Baby Reindeer, die Peacock-reeks Apples Never Fall en die natuurprogram Secrets of the Octopus is vandeesweek in die kollig, en ons kyk na die lawwe fliek Woody Woodpecker Goes to Camp.

Plaaslike kykstof

Stralend

kykNET, ouertoesig aanbeveel

Angelique Gerber en Fafa de Klerk van “Stralend”. (Foto: Verskaf)

Angelique Gerber, aanbieder van die nuwe kykNET-leefstylprogram Stralend, en haar span poog met dié reeks om die lewens van twaalf vroue ingrypend te verander.

Al die deelnemers kry die geleentheid om ʼn nuwe en beter weergawe van hulself te word en ook hulle voorkoms radikaal te verander. Die vroue word uitgedaag om hulle horisonne te verbreed en ʼn dieper begrip van hulle eie potensiaal te ontwikkel.

“Ek hoop die program se kykers sal iets kan leer oor vergifnis, liefde en selfliefde en om ook ʼn soortgelyke stralende weergawe van hulself te sien,” sê Angelique.

Stralend is Maandae om 21:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

Internasionale kykstof

Apples Never Fall

M-Net, ouertoesig aanbeveel vir kinders jonger as 16

Almal in West Palm Beach ken die Delaney-gesin se tennisakademie wat hulle al jare lank bestuur.

Wanneer Joy en Stan aftree en ʼn gewonde jong vrou op hulle voorstoep opdaag, verander die gesin se hele lewe handomkeer.

Joy, die gesin se matriarg, verdwyn skielik, en haar vier kinders moet alles wat hulle gedink het hulle van hul ouers weet, soos legkaartstukke aanmekaarlas.

Annette Bening, Jake Lacy, Allison Brie, Essie Randles en Sam Neill is in die reeks Apples Never Fall te sien. Die storie is geskoei op die verhaal deur Liane Moriarty, wat onder meer ook Big Little Lies en Nine Perfect Strangers geskryf het.

ʼn Nuwe episode is elke Maandagaand om 20:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, te sien.

 

Secrets of the Octopus

Disney+, ouertoesig aanbeveel vir kinders onder 9

‘n Skermgreep uit die lokprent vir “Secrets of the Octopus”.

Seekatte het drie harte, blou bloed en die vermoë om deur ʼn spasie so groot soos hulle oogbal te druk. Hulle kan gereedskap gebruik, hul liggame transformeer om ander diere na te boots en kan selfs met verskillende spesies kommunikeer.

Ontdek dié en ander interessanthede oor seekatte in die natuurprogram Secrets of the Octopus, wat nou op Disney+ te sien is.

Vir die jongspan

Woody Woodpecker Goes to Camp

Netflix, ouertoesig aanbeveel

Walter Lantz se klassieke tekenprentkarakter Woody Woodpecker help ʼn geliefde kampeerterrein om sy deure oop te hou in hierdie fliek wat in lewende aksie verfilm is met Woody Woodpecker en ʼn paar ander karakters wat geteken is.

Woody Woodpecker moet ʼn nuwe tuiste kry nadat hy uit die woud geskop word. Hy glo hy het dié heenkome by Camp Woo Hoo gevind, maar daar is ʼn inspekteur wat graag die kampeerterrein wil laat sluit.

Marie-Louise Parker, Chloe De Los Santos, Josh Lawson en Eric Bauza is in die fliek te sien.

Woody Woodpecker Goes to Camp is een uur en veertig minute lank en is op Netflix te sien.

Almal praat oor

Baby Reindeer

Netflix, 18

Baby Reindeer is ʼn donker dramareeks wat die storie vertel van Richard Gadd, ʼn komediant en skrywer, en sy verwronge verhouding met sy vroulike bekruiper, Martha.

Baby Reindeer kyk na die impak wat dit op Gadd gehad het en wat hom uiteindelik gedwing het om ʼn diep, donker en verborge trauma te trotseer.

Richard Gadd het self die reeks geskryf en speel ook homself in die reeks. Jessica Gunning is te sien as Martha en Nava Mau as Teri.

Baby Reindeer bestaan uit sewe episodes en is op Netflix te sien.

 

Lees alle Wat is op die kassie-berigte hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.