Dieretuin verf honde om soos pandas te lyk

(Foto: @BluesWaltair/Twitter)

ʼn Dieretuin in die ooste van China het opslae gemaak toe honde wit en swart geverf is om soos regte pandas te lyk. Die “foppandas” is op 1 Mei by die Taizhou-dieretuin in Jiangsu verfilm.

Die dieretuin het ”Xiong Mao Quan” (“panda-honde”) geadverteer om sy besoekersgetalle vir die vakansiedag op te stoot.

Die New York Post berig personeel by die dieretuin het twee Chinese keeshonde (chows) se pelse gekleur om soos miniatuur pandas te lyk. Die gekleurde honde was daagliks tussen 08:00 en 17:00 te sien. Talle besoekers het saamgedrom om na hulle te kyk.

Alhoewel hulle baie soos pandas gelyk het, het besoekers vreemde gedrag opgemerk, soos dat hulle hul koppe heen en weer skud.

ʼn Groot herrie is egter ontketen toe besoekers ontdek hulle kyk na honde in plaas van pandas. Talle het die bestuur van die dieretuin veroordeel vir dieremishandeling en misleiding.

Die dieretuin het egter sy besluit verdedig. Hulle voer aan die kleursel is nie skadelik vir die honde nie en niegiftige kleursel is gebruik om die chows te verf.

“Daar is nie pandabere by die dieretuin nie. Ons het gevolglik hierdie besluit geneem. Mense kleur ook hul hare. Natuurlike kleursel kan op honde gebruik word as hulle lang pelse het,” het ʼn woordvoerder van die dieretuin gesê.

Nog ʼn personeellid het gesê weens die dieretuin se grootte kan hulle nie regte reusepandas akkommodeer nie. “Op hierdie manier kan ons ʼn prettige aktiwiteit by die dieretuin byvoeg en besoekersgetalle opstoot,” het hy aan Jiangsu-nuus gesê.

Chows is ‘n honderas oorspronklik uit die noorde van China. Die Chow is ‘n stewiggeboude hond, vierkantig in profiel, met ‘n breë skedel en klein, driehoekige, regop ore met afgeronde wenke. Die ras is bekend vir ‘n baie digte dubbelpelslaag wat óf glad of grof kan wees.

Volgens ʼn berig deur Strait Times was daar ʼn kennisgewing buite die kampie waar die honde aangehou is: “Pandahonde is nie ʼn regte honderas nie. Hulle is troeteldierhonde wat versorg is om soos pandas te lyk of wat gebore is met ʼn pelspatroon soortgelyk aan ʼn panda. Hierdie tipe honde het ʼn wit pels met swart merke om die oë en ore – soortgelyk aan die kenmerke van ʼn panda.”

Dit is nie die eerste keer dat dieretuine in China in die sop is nie. Maroela Media het vroeër berig beeldmateriaal van ʼn Maleise beer wat op sy agterpote staan het tot bespiegeling op sosiale media gelei dat dit moontlik ʼn mens is wat in ʼn kostuum is. Die dieretuin in Zhejiang, in die ooste van China, het dit ten sterkste ontken. Volgens die dieretuin is dit regtig ʼn beer – net ʼn bietjie kleiner en anders as dié waaraan mens gewoond is.

Besoekers aan ʼn dieretuin in China in 2017 was ook baie teleurgesteld toe hulle dié park besoek het om “seldsame pikkewyne van die Suidpool” te sien. By die dieretuin aangekom, was hulle egter baie teleurgesteld toe daar net plastiek opblaas-pikkewyne op hulle gewag het.

ʼn Dieretuin in Henan, ook in China, het in 2013 ʼn harige hond, ʼn Tibettaanse mastiff, bemark as “ʼn leeu uit Afrika”. Dieselfde dieretuin het ook ʼn hond voorgehou as ʼn wolf en ʼn wit jakkals as ʼn luiperd.

ʼn Dieretuin in Egipte het in 2018 ontken dat hy swart strepe op ʼn donkie geverf het om dié soos ʼn sebra te laat lyk. ʼn Student van Port Said in Egipte het foto’s van die “sebra” op Facebook gedeel nadat hy die Kaïro- internasionale tuin munisipale park besoek het. Hy het gesê die swart strepe het begin afsmeer in die hitte en die dier se gesig en ore lyk eerder soos ʼn donkie sʼn. Die dieretuin het egter volgehou dit is ʼn regte sebra en benadruk die dier is nie geverf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.