Man vind pêrel in restaurant se gaapskulp

(Foto: Scott Overland)

ʼn Man van Pennsilvanië in die VSA het iets spesiaal in ʼn gaapskulp gevind wat ʼn Rehoboth Beach-restaurant in Delaware aan hom bedien het: ʼn pers pêrel.

Scott Overland het aan NBC10 Philadelphia gesê hy, sy vrou en kinders het by Salt Air geëet toe hy op die pêrel afgekom het.

“My vrou het eers gedink dit is ʼn kraletjie, of dalk ʼn lekkertjie. Ons het gedink die sjef het dit dalk per ongeluk laat val.”

Met nadere ondersoek het hulle egter ontdek die voorwerp kom oorspronklik van die gaapskulp.

“Ons het ʼn klein duikie in die skulp opgemerk waar dit gegroei het,” het hy gesê.

Alhoewel oesters gewoonlik pêrels voortbring, kan pêrels ook deur sand gevorm word wat onder druk geplaas word in die skulpe van ander molluske soos mossels en gaapskulpe.

Overland sê hy het byna die gaapskulpe teruggestuur voor hy op die pêrel afgekom het. Hy verduidelik dit is saam met ʼn soetrissiesous bedien, en sy vrou hou nie van soetrissies nie. Ná die vonds is hy dankbaar hy het nie die gereg teruggestuur nie.

Hy beplan om die pêrel te laat waardeer en sal dit waarskynlik hou. Afhangende van die kleur, grootte en waar die pêrel gevorm is kan dit duisende dollar werd wees. Die pêrels is egter gewoonlik tussen $300 en $1 500 (tussen R5 000 en R25 000) werd, aldus The Pearl Source.

Bron: NBC10 Philadelphia, New York Post, Philly Voice, Today

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mel84 ·

As dit Suid Afrika was het die chef, die kelner, die restaurant asook die persoon oorkant die straat al ‘n eis ingesit om hulle deel ook te waarborg van daardie geld.

marius ·

Ag dis nog niks . Hier by ons stop hulle die meubels op met miljoene dollars ….. sonder dat jy weet .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.