Mooiste foto van Melkweg oor Leeukop

Kyle Goetsch se foto in 2024 van die Melkweg bo Leeukop (Foto: Kyle Goetsch)

Fotograaf Kyle Goetsch het vir die tweede keer ʼn verstommende oomblik bo Leeukop vasgevang.

Leeukop, bekend vir sy asemrowende uitsigte oor Kaapstad en die omliggende kuslyne, bied ʼn unieke uitsig en is ʼn trekpleister vir dagstappers en natuurliefhebbers. Sterrekundiges en fotografie-entoesiaste word ná donker ook gereeld hierheen gelok.

Kyle het met ‘n kamera en ‘n spesifieke visie die ongerepte skoonheid van die sterrestelsel met ‘n fyn oog en tegniese vernuf vasgelê.

Hy het in April 2018 ʼn soortgelyke foto van die Melkweg bo Leeukop geneem. Dié foto het wyd op sosiale media versprei.

Die poging in April 2018:

Hy skryf: “Ses jaar later het ek dieselfde foto aangepak. Ek wou mis reg rondom die berg hê om die ongelooflike skerp ligbesoedeling van die middestad te verdof.”

Kyle sê hy het een week gehad waar hy die foto kon neem voordat die maan die sigbaarheid sou benadeel.

“Ek het drie keer probeer. Ek het soggens om 03:30 opgestaan en Tafelberg uitgeklim om die regte uitkykpunt te kry. Die eerste twee pogings was onsuksesvol – daar was nie enige mis om die berg nie.”

Die derde keer was suksesvol: “Dit was die perfekte mis en die Melkweg kon duidelik bo Leeukop gesien word. Dis ʼn spesiale oomblik wat ek nooit sal vergeet nie!”

Die foto is geneem met sy Nikon z6ii en Laowa 10 mm 2.8-lens. Dit is ʼn enkele foto wat met Lightroom Classic geprosesseer is.

Kyle deel gereeld die mooiste natuurfoto’s. Volg hom gerus op sy webwerf by https://www.kylegoetsch.com/ of op Instagram by https://www.instagram.com/kylegoetschphotography

Die plasing in 2024:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.