ʼn Vlieënde motorfiets en vuurwerkkuns – paartjies se bisarre verlowingsvideo’s

Skermskoot uit die video

Video- en foto-sessies raak al hoe meer gewild as deel van die aanloop tot paartjies se troues. Sommige paartjies sal oënskynlik enigiets doen om opslae te maak op sosiale media.

Sommige paartjies vlieg na eksotiese bestemmings, of beplan die fotosessie teen ʼn mooi sonsondergang, maar een paartjie het in ʼn video op Twitter gewys dat hulle bereid is om iets ekstra spesiaal te doen.

Beeldmateriaal van agter die skerms is reeds meer as 442 000 keer gekyk. Sommige kykers voer aan die bruidegom is waarskynlik ʼn waaghals-regisseur.

Die video van 13 sekondes is deur die gebruiker Best of the Best op Twitter gedeel. Dit wys die bruid en bruidegom op ʼn motorfiets wat met ʼn hyskraan oor ʼn voertuig getel word. Die videograwe het skynbaar goeie voorsorgmaatreëls vir die twee se beskerming getref.

In Mei vanjaar het nóg ʼn video opslae gemaak op sosiale media. Die bruid en bruidegom stap hand-aan-hand ná hulle (letterlik) aan die brand gesteek is.

Dié video is reeds meer as 15 miljoen keer gekyk.

Die paartjie, Gabe Jessop en Ambyr Mishelle, is waaghals-instaanspelers wat op televisie- en filmstelle werk.

Conde Nast het in ʼn artikel gesê sommige paartjies het bisarre eise. Ramit Batra, ʼn fotograaf, het aan die tydskrif gesê een paartjie wou hul verlowingsfoto’s by ʼn lughawe in Indië neem. Hy sê die vliegtuie “het op die aanloopbaan sowat 50 meter van ons af geland”.

Nog ʼn troufotograaf sê die gewildste versoek is om iets te doen wat wyd op sosiale media sal versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.