Tafel vir een! Dié restaurant wil Covid-19 bestry

Bord för En (Foto: Linda Karlsson/Facebook)

Oor die wêreld heen word sosiale distansiëring as ʼn nuwe lewenswyse aanvaar te midde van die voortgesette koronavirus-pandemie.

Winkels word aangemoedig om klante in rye te laat staan om ʼn afstand van ongeveer ʼn meter te handhaaf en in lande, waar restaurante mag oop wees, word klante aangemoedig om elke tweede stoel oop te los as iemand vir ʼn ete aansit.

ʼn Restaurant maak egter binnekort sy deure oop in Swede wat sosiale distansiëring tot nuwe hoogtes wil neem. Die restaurant gaan alleenlopende restaurantgangers in die middel van ʼn oop veld bedien, en hul etes sal met ʼn tou afgelewer word.

Die restaurant, Bord för En (“Tafel vir Een”), maak op 10 Mei sy deure oop en sal tot 1 Augustus beskikbaar wees, berig CNN.

Rasmus Persson en Linda Karlsson (Foto: Bord för En/Facebook)

Rasmus Persson en Linda Karlsson se restaurant is in ʼn veld in Varmland geleë. Hulle het met die idee vorendag gekom ná ʼn middagete by Linda se ouers waar Rasmus, ʼn voormalige sjef, kos deur ʼn venster bedien het.

“Ons moet dit vir almal beskikbaar maak,” het Linda in daardie stadium gesê, aldus Insider. “Dit sal die enigste Covid-19-veilige restaurant in die wêreld wees.”

Bord för En sal slegs een tafel hê vir restaurantgangers en persone slegs een-een bedien. Geen kelners sal nodig wees nie, want die etes kan direk uit die kombuis in ʼn mandjie aan ʼn tou afgelewer word.

“Ons wil graag op die enkele persoon konsentreer wanneer ons die ete voorberei, maar dit bied ook aan ons die geleentheid om seker te maak die persoon se ervaring is absoluut vry van Covid-19.”

Die restaurant sal glo ook enigiemand bedien, ongeag hul “finansiële situasie” en gaste sal betaal wat hulle wil vir die driegangmaaltyd wat aan hulle bedien word.

“Ons beleef almal moeilike tye en daar is mense wat hul werk en geliefdes verloor het. Ons verwelkom almal – maak nie saak wat jou finansiële situasie is nie.”

Alhoewel groot dele van Europa algehele afsondering toepas om die verspreiding van die virus te voorkom, het Swede laerskole, restaurante en kroeë oopgehou terwyl burgers aangemoedig word om sosiale distansiëring toe te pas.

Besoek Bord för En se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Nou toe nou! Oulike idee en ‘n ete buite in die veld kan net lekker wees, selfs al is dit net heerlike broodjies en slaai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.