Verdwaalde stapper danksy wildkameras gered

Skermgreep uit die video

ʼn Stapper in ʼn afgeleë gebied in die Katmai- nasionale park in Alaska het kop gehou om hulp te ontbied.

Die onbekende man het tydens gru weer in die park in die moeilikheid beland, berig NPR. Hy het twee keer op die regstreekse videostroom van ʼn wildkamera, wat gebruik word om bere op Dumplingberg in die park dop te hou, verskyn.

Hy het twee keer die kamera genader – een keer om die woorde “help my” met sy mond te vorm en een keer om ʼn duim af-teken te wys.

Die span wat die kameras monitor, het die man se pleidooie opgemerk, berig CNN.

“Daar is iemand in die moeilikheid op die kamera,” het een kyker in die kommentaar op die video geskryf. ʼn Moderator het die kommentaar gesien en ʼn natuurbewaarder in kennis gestel.

“Ek het die plaaslike polisie gebel en my bes probeer om nie soos ʼn mal beermens in Oklahoma te klink nie,” het nog ʼn gebruiker geskryf, berig die New York Times.

Dit het gewerk.

“Die park het ʼn soek- en reddingspan ontplooi om die stapper op te spoor. Wind en reënweer het tot swak sigbaarheid gelei,” het die nasionale parkdiens in ʼn verklaring gesê. “Natuurbewaarders het die man ʼn paar uur later opgespoor. Hy was ongedeerd en is na veiligheid gebring.”

As die man nie op sy eie voor die aand kon terugkeer na veiligheid nie, sou hy waarskynlik nie die nag oorleef het nie.

Die kamera word bedryf deur Explore.org en ʼn woordvoerder het gesê dit is die eerste keer dat só iets gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Dus bietjie gevaarlik om in sulke areas met daardie weer , alleen op ‘n wandeltog te gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.