Wêreld se langste vaart in ʼn pampoenboot

(Foto: City of Bellevue, Nebraska/Facebook)

Guinness-wêreldrekords is in kennis gestel: ʼn man van Nebraska het sowat 61 km in die Missouririvier in ʼn reusepampoen afgelê.

As Duane Hanse se vaart bevestig word, sal sy naam in die rekordboek aangeteken word as die persoon wat die langste vaart in ʼn pampoenboot afgelê het, berig die Washington Post.

Die 60-jarige Hansen het self sy vaartuig van sowat 380 kg gekweek en van Bellevue na Nebraska City gevaar in die pampoen genaamd Berta, berig Yahoo News.

Rick Swenson, wat in 2016 ʼn vaart van 40 km in ʼn pampoen afgelê het toe hy van Grand Forks, Noord-Dakota na Oslo, Minnesota geroei het, se naam is tans in die rekordboek opgeteken.

Met die wêreldrekord in gedagte, het hy die stadsraad versoek om as getuies op te tree. Hulle het sy tog op sosiale media gevolg en hom gelukgewens toe hy die 40 km-doelwit verbygesteek het.

(Foto: City of Bellevue, Nebraska/Facebook)

Dit het Hansen sowat 11 ure geneem om die volle vaart af te lê. Guinness se beamptes sal nou die besonderhede hersien wat familielede gedokumenteer het en sal na verwagting binnekort vir Hansen die bevestiging van die nuwe wêreldrekord gee.

Die burgemeester van Bellevue se kantoor het in ʼn plasing op Facebook gesê Hansen kweek graag reusepampoene, kalbasse en ander groente as ʼn stokperdjie. “Hy het met die idee vorendag gekom toe hy Ohio besoek en gesien het hoe iemand anders die rekordpoging aanpak. Dit was ʼn unieke manier om sy 60ste verjaarsdag te vier!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.