Afrikaanse skole bedreig en grondwetlike meganismes word afgestof

Afrikaansmediumskole in Fochville word van vanjaar af deur die Gautengse onderwysowerhede gedwing om op eie koste ook leerlinge in te neem wat in Engels onderrig wil word, ‘n voorloper, volgens AfriForum, wat lei tot die uiteindelike onderrig slegs in Engels.

Sedert die middel tagtigerjare is wyd in die media en in akademiese kringe menings gelig oor ‘n toekomstige grondwetlike model wat tegelyk individuele regte en die regte van groepe sou ondervang en verskans. Onderwys het elke keer die lys van sulke regte gehaal. Uit hierdie tyd het ‘n verslag van die staatkundige komitee van die Presidentsraad veral twee begrippe op die agenda geplaas wat bykans ‘n dekade lank behoorlik deurtrap is, naamlik korporatiewe federalisme of selfbeskikking, en konsosiatiewe demokrasie.

Korporatiewe federalisme is in wese ‘n vorm van selfbeskikking wat ‘n volk geniet wat nie in die eerste plek op ‘n geografiese grondslag geskoei is nie, maar op grond van ‘n groepidentiteit. Sou die Afrikaner, as voorbeeld, korporatiewe selfbeskikking gekry het, sou daar tipies ‘n Afrikanerowerheid wees wat eerder oor mense as grondgebied heers, en die Afrikaner oor tipiese Afrikanersake sou regeer soos onderwyssake en kultuursake.

Konsosiatiewe demokrasie kom grootliks op dieselfde beginsels neer en het daartoe gelei dat dit na willekeur as wisselvorm gebruik word, en eintlik slegs die akademici ‘n onderskeid getref het.

Die politieke dood in die pot hiervoor sou uiteindelik waarskynlik wees dat die begrippe as ‘n uitbreiding van die eiesake-begrip van die driekamerpalement beskryf is. Die driekamer was onverskoond op ‘n rassegrondslag geskoei, terwyl die volkeregtelike beginsels wat enige vorm van selfbeskikking betref, ras uitsluit. Teenstanders van die gedagtes van korporatiewe selfbeskikking het dit dan ook voortdurend verdag probeer maak deur die rassevlag daaroor te hys. Die steun wat die NP destyds uit bruin geledere begin trek het, en die afkeer in die driekamerstelsel, het waarskynlik ‘n belangrike oorweging geword om korporatiewe en konsosiatiewe begrippe a politiek inkorrek te beskou.

Selfs in die periode tussen die inwerkingstelling van die tussentydse grondwet en tydens die onderhandelinge van ‘n finale grondwet het dié begrippe nog baie aandag geniet, onder meer via prof. David Welsh, politieke wetenskaplike van die Universiteit Kaapstad. In 1994 haal Die Burger hom soos volg aan, nadat die koerant ‘n paar maande vroeër ‘n beroep op die politieke wetenskaplikes gedoen het om voorleggings op te stel oor korporatiewe selfbeskikking:

“As die sentralisasie en monopolisasie van mag die probleem is, en groter pluralisasie van die staat en die samelewing is ‘n deel van die oplossing, kan verdere verspreiding van soewereiniteit bepleit word. Meer aandag behoort gegee te word aan die moontlikhede van korporatiewe federalisme, dus ‘n nie-territoriale vorm van federalisme wat omskrewe magte aan (gewoonlik kulturele) groepe verleen om hul eie sake te beskerm en te bevorder. Beginsel 12 van die tussentydse Grondwet onderskryf ‘kollektiewe regte van selfbeskikking’’ vir groepe in die burgerlike samelewing, onder meer wat taal, kultuur en godsdiens betref. As dit die grondwetskrywers se erns is om uitdrukking aan dié beginsel te gee moet die magte van sulke groepe omskryf word. In die Belgiese geval is die magte wyd: Kulturele gemeenskappe beheer onderwys en ‘verpersoonlikte sake’, wat gedefinieer word as sake waarin taal ‘n belangrike plek in die lewering van regeringsdienste beklee. Dit sluit gesondheidsorg en baie maatskaplike dienste in. Daarby het die Belgiese parlement ‘n ‘waarskuwingklok’ wat parlementslede van ‘n bepaalde taalgroep toelaat om hangende wetgewing tot ‘n gevaar vir die taal se belange te verklaar. Daardeur kan hulle die wetgewing minstens tydelik keer. Die probleem in Suid-Afrika is dat ons elf tale het en dat enige struktuur wat met die Belgiese stelsel ooreenkom, byna vir seker ‘n ‘Pandora se kis’ van strydige eise sal oopmaak. In beginsel kan daar egter geen beswaar teen kulturele rade wees nie, op voorwaarde dat hulle demokraties verkies word. Godsdiens is deel van kultuur, en ‘n saak kan mutatis mutandis (met die nodige veranderings) daarvoor uitgemaak word dat godsdiensgroepe volgens wet die reg behoort te hê om geraadpleeg te word oor wetgewing en ander kwessies wat godsdiens(te) raak. Ander sake is:

• Deelname van minderhede aan die administrasie: Die doel behoort ‘n administrasie (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) te wees waarin die personeel op alle vlakke min of meer met die demografiese samestelling van die bevolking in die betrokke eenheid ooreenkom. Presies dieselfde norm geld in die geval van geslag.
• Deelname van minderhede aan die burgerlike samelewing: Aangesien minderhede se doeltreffende hefboomvermoë/invloed in die formele politieke instellings van die staat beperk kan wees, is hul beste kans om hul invloed te vergroot deur die organe van die burgerlike samelewing.

Voorbeelde van korporatiewe en konsosiatiewe selfbeskikking kom wêreldwyd in verskillende vorme voor, en sommiges is waarskynlik min of meer wat oud-president FW de Klerk in die oog gehad het met die begrip van wigte en teenwigte. Hieronder tel die gewaarborgde setels wat die Maori’s en die pre-Indiese inheemse bevolking van Indië in die onderskeie nasionale parlemente het. Die Maori’s het ook ‘n stelsel wat op min of meer ‘n Maori-parlement of -kongres neerkom. Dit sluit dikwels aan by die volkeregtelike beskerming wat aan inheemse bevolkings verleen word. Geografiese entiteite soos hartlande soos Orania en Kleinfonten, of ‘n veelheid reservate, kan deel van die korporatiewe opset uitmaak maar is nie ‘n voorvereiste nie.

‘n Interessante juridiese manifestasie is nou besig om in die VSA te ontwikkel in die vorm wat die Sharia vir Moslems in die VSA in die howe ingevoer word. Die Moslems maak nie net sowat een persent van die VSA se bevolking uit nie, maar is in baie opsigte lynreg in stryd met die vryheidsbeginsels van die Amerikaanse grondwet. Boonop, argumenteer die teenstanders van Sharia in die VSA dat Moslems wat na die VSA uitwyk, dit juis gedoen het om aan die onderdrukkende beperkings van Sharia te ontsnap en die vryhede van die VSA te geniet. Nogtans, wys die grondwetkenners dit uit, het hul studie getoon dat die Sharia in minstens 50 gevalle voorrang bo die grondwetlike regte gekry het.

Hoe diepliggend die kwessie is, blyk daaruit dat die deelstaat Oklahoma ‘n wetswysiging deurgevoer het om Sharia in daardie staat te verbied. ‘n Federale appèlhof het die wysiging egter pas ongrondwetlik verklaar.

Groepregte manifesteer in die Volkereg in verskillende vorme, soos die regte van inheemse bevolking en minderheidsregte. Dwars oor die wêreld kwalifiseer ‘n ongelooflike aantal gemeenskappe om as die oorspronklike inheemse bevolking bekend te staan. Die definisie bepaal kortliks dat die groep die eerste bewoners van die betrokke land of streek moes wees. Voorts meld die definisie dat hulle dikwels deur latere aankomelinge oorheers word, veral getalsgewys.

Baie van hierdie groepe is goed bekend, soos die Aborigenes van Australië, die Rooihuide van Amerika, die Eskimo’s van groot dele van Noord-Amerika, Groenland, ‘n deeltjie van Siberië en ‘n aantal eilande, die Lappe van Noord-Skandinawië, die Ainoe van Japan en die Khoisan van Suider-Afrika.

Minder bekend is egter dat die huidige oorheersende inwoners van Indië, Sri Lanka en Taiwan nie die oorspronklike inwoners is nie.

Soms lyk dit of “inheemse” bevolkings soos die Baske in Spanje en Suid-Frankryk, nog ouer inheemse groepe begin oorheers en domineer het, en waarvan enkelinge steeds voorkom.

‘n Lastige aspek wat dikwels ingevoeg word, is die kwessie van handhawing van eeue-oue gebruike soos landboumetodes, gesondheidskwessies en ander wat duidelik dié groepe in ‘n staat van permanente armoede en in sosio-ekonomiese agterlikheid dompel. Die handhawing van kultuurelemente soos tradisionele kleredrag – al is dit net vir spesiale geleenthede – en veral taal, is minder omstrede en word byvoorbeeld dikwels tydens volksfeeste deur die Koerde gebruik.

Rooihuide in die VSA wat in reservate woon geniet ook ‘n spesiale staatkundige status, aangesien, wat sekere sake betref, federale wetgewing eerder as die deelstaat waarbinne dit val, se wetgewing geld. Talle spesiale reëlings soos aksyns-vrystellings geld ook in hierdie gebiede.

Groepe van die Khoisan het voorverlede jaar die regering by die gelykheidshof gaan verkla en geëis dat die Khoisan as inheemse volk erken moet word. Dié stap volg na verskeie beloftes dadels van gekom het. Laat in 2011 het president Zuma egter tydens ‘n Khoisan-geleentheid verskoning gevra vir die voeteslepery, en beloof dat wetgewing voor die einde van daardie jaar deur die parlement gevoer sou word om die Khoisan as “people”, of dan volk, te erken.

Meestal word inheemse groepe se staatkundige regte egter deur gewone minderheids- en ander groepregte wat as deel van die Volkereg geld ondervang, omdat dit dikwels moeilik is om te bepaal wie nou werklik die oorspronklike inwoners was. Die Europese Unie stel as voorwaarde dat etniese minderhede selfbeskikkingsregte moet hê voor ‘n staat vir lidmaatskap oorweeg kan word.

Turkye se eeuelange onderdrukking van minderhede, soos die Koerde, en selfs volksmoord soos met die Armeniërs en Assiriërs bemoeilik Turkye se strewe om ‘n lidland van die EU te word. Dieselfde vereistes is aan Spanje gestel wat tot outonomie vir die Baske en Kataloniërs gelei het, maar is nie aan Frankryk gestel nie waar minderheidstale aan die verdwyn is. In die jongste tyd is die Skotse strewe na onafhanklikheid wat vanuit die Skotse parlement uitgaan, dikwels in die nuus.

Die finale grondwet het egter verwagtinge aan ‘n vorm van korporatiewe of konsosiatiewe selfbeskikking min of meer in die sand laat uitloop. Tydens die kort bestaan van die Volkstaatraad het verskeie voorleggings, onder meer dié van prof. Willie Breytenbach, nog daarna verwys.

Die werklike aftog wat dié begrippe geblaas het, was egter reeds tydens die Kemptonparkse onderhandelinge. Die volle verhaal van hoe bykans elke persoon wat namens of vir die regering en die NP in hul voorleggings hierna verwys en die voordele en noodsaak hiervan uitgewys het, maar dit nie in die onderhandelings self neerslag gevind het behalwe deur betreklike klein Afrikanerpartye nie, sal moontlik eendag openbaar word. Intussen bly dit deel van die groeiende aantal sake wat internasionaal bekend staan as die “uncomfortable truth.” In Suid-Afrika het hierdie begrippe skielik politiek inkorrek geword en het die nuwe literatuur hieroor bykans opgedroog. Tog onlangs.

Mnr. Roelf Meyer het die afwyking later verskeie kere verduidelik deur te meld dat geoordeel is dat dit beter sou wees om groepbelange te beskerm deur die kollektief van individuele regte. Hierdie rasionaal hou egter nie met die volkereg steek nie, ook nie soos dit later ontwikkel het soos met die Internasionale Geregshof se erkenning van Kosovo se onafhanklikheid na ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring van Serwië nie. In die praktyk moet minderhede deurlopend ‘n stryd voer om nie deur kruipende sentralisering die slagoffers van meerderheidstirannie te word nie.

In Suid-Afrika was die doodsteek van groepregte dat individuele regte as liberaal, en groepregte, anders as in Europa, as konserwatief beskou word. Volkeregtelik maak individuele en groepregte egter saam menseregte uit, soos ook blyk uit die naam van die Afrikakommissie vir Mense- en Groepregte. In Europa is dit dikwels die linkervleuel wat groepregte die hardste dryf, en die Franse Parlement kon onlangs slegs met die steun van die linkses die regse teenkanting te bowe kom om ‘n resolusie te aanvaar wat die ontkenning van die Armeense volksmoord strafbaar maak. Pas het ‘n linkse Nederlandse parlementslid ‘n beroep op die Nederlandse Minister van Buitelandse Sake gedoen om ‘n kulturele attaché in Irak se selfregerende Koerdistan te vestig.

‘n Bekende minister en anti-apartheidstryder uit die Joop den Uyl-era, Max van der Stoel, is verlede jaar oorlede. Hy het egter in die laaste dekades van sy aktiewe lewe in die besonder bekendheid verwerf vir die bevordering van groepregte, en sedert 2001 verskaf die Nederlandse regering die prysgeld vir die persoon wat deur Van der Stoel se pogings aangewys is as die persoon wat die meeste vir groepregte gedoen het.

Onderdrukte minderhede soos die Koerde in Turkye word dikwels aangemoedig om internasionale forums soos die Veiligheidsraad en sy strukture te benut om hul saak te stel, eerder as om die wapen op te neem. Die lotgevalle van sulke groepe word gewoonlik ook simpatiek aangehoor, veral wanneer die buitelandse media dit beet kry. Die Afrikaner begin-begin ook reeds in die buitelandse pers sulke publisiteit kry, soos die periodieke plasing van artikel oor plaasmoorde. Met die ANC se eeufeesvieringe was dit duidelik dat die ANC se wittebrood met die internasionale pers al erg glas verloor het.

In Suid-Afrika word wel dikwels aandag gegee aan die manifestasie van groepregte wat as minderheidsregte bekend staan, en het die grondslag gevorm van die uitspraak waarvolgens Julius Malema in die gelykheidshof aan haatspraak skuldig bevind is. In ‘n verstommende vertoon van negrofilie het sommige Afrikaners self egter geweier om die Afrikaner as kwesbare minderheid te erken.

Intussen was dit egter op die tuisfront baie stil oor hierdie aspek, tot ‘n sameloop van regeringsaksies wat as bedreigend vir Afrikanerbelange, ook kulturele belange, dit weer laat opduik het. Dit volg op die opbou van al hoe meer tekens van die diktatuur, selfs die hegemonie van die meerderheid, waarteen prof. Welsh al in 1995, en die destydse regering se adviseurs en sy eie presidentsraad daarvoor gemaan het. Prof. Koos Malan van Tukkies het verlede jaar ‘n studiestuk gepubliseer, getiteld “Politokrasie, ‘n peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir die antwoord daarop” waarin aansienlike aandag aan korporatiewe federalisme geskenk word. ‘n Volksraad vir Boere-Afrikaners is ook gevorm na ‘n landwye verkiesing, maar die vuiste wat by minstens twee geleenthede geklap het, het waarskynlik die aandag meer hierop gevestig as die potensiële belangrikheid daarvan. Laasgenoemde het egter ook enige hoop op internasionale aanvaarding, en aanvaarding in terme van artikel 235 van die grondwet verbeur deur die rassekaart sterk te speel. Die blote wyse waarop die drywers van die projek hul Volksraadverkiesingskommissie, koppel-s en al drie woorde in hul formele skrywes gespel het, het baie Afrikaners waarskynlik ook wyd laat hou.

In sy toespraak by die ANC se eeufeesvieringe het pres. Zuma ‘n oproepe vir nasionale dialoog gedoen. Nasionale dialoog en selfs die heronderhandeling van die Kemptonparkse skikking word nou al geruime tyd deur talle instansies waaronder AfriForum, by monde van mnr. Willie Spies, die Afrikanerbond en die FW de Klerkstigting bepleit.

Of die land nog sonder baie pyn en die opbou van polarisasie by die punt gaan kom waar werklik ernstig dialoog gevoer en ander staatkundige opsies op die proef gestel gaan word, is egter moeilik om sommer te aanvaar.

Dit beteken nie dat die huidige grondwet geen waarborge en meganismes bied nie.

Grondwetkenners wys daarop dat in enige grondwetlike demokrasie, naas die onafhanklikheid van die howe as opperbewaker van die grondwet, burgerlike organisasies ‘n belangrike rol speel. Trouens, prof Welsh het dit al in 1995 sterk beklemtoon soos blyk uit die aanhaling hierbo. Juis daarom moet die manifestasie van AfriForum nooit onderskat word nie, en verdien projekte steun ver buite die organisasie se ledetal.

AfriForum het pas oor die optrede van die Gautengse onderwysdepartement aangekondig dat dit die skole van Fochville van regsadvies sal bedien en reeds R50 000 skenk vir regsaksie in dié verband beloof het.

Omdat die onderwysdepartement se optrede nie met erkende internasionale minderheidsregte strook nie, sal die veldtog ook geïnternasionaliseer word. Steun vir Afrikaanse onderrig is reeds vanuit Nederland en België belowe.

AfriForum moedig die publiek en veral ouers van Afrikaanssprekende leerders ook aan om sterk standpunt in te neem teen hierdie magsmisbruik van die onderwysdepartement. Hulle kan AfriForum se Red Afrikaanse Skole-veldtog ondersteun deur:

• R10-00 vir regsaksie teen die departement se magsmisbruik te skenk deur die woord SKOOL te SMS na 38655;
• Deel te neem aan die beheerliggaamverkiesings wat in Maart 2012 by skole ʼn aanvang neem;
• Hulle kinders in Afrikaanse kleuter-, laer- en hoërskole te plaas;
• Organisasies soos FEDSAS (vir beheerliggame) en die SAOU (vir onderwysers) te ondersteun;
• Die petisie ten gunste van Afrikaanse onderrig by www.afriforum.co.za te onderteken.

Om bloot die hande in die lug te gooi en magteloosheid aan te voer omdat die opsies as regs of politiek inkorrek beskou word, bied beslis geen oplossing nie.

Nou pra' jý

Maroela Media hou van 'n lekker warm debat en wil aan alle kuiermense die geleentheid gee om hul mening te lug. Ons sal egter geen rassisme, seksisme, homofobie, vieslike persoonlike opmerkings, ander vorms van haatspraak of kru, kras en vuil taal duld nie. Maroela Media behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder. Moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie.

4 Kommentare

Louis du Plessis

INTERNASIONALISEER!

1 Die huidige beslaglegging op Afrikaanse skole wys hoe dringend noodsaaklik dit geword het om doelbewus ‘n internasionale stryd te voer, vir die nasionale erkenning bínne Suid-Afrika, van die regte van alle kulture, wat insluit die reg op moedertaalonderrig aan Afrikaanse skoliere.

2 Hierdie artikel werp ‘n helder lig op sommige wyses waarop regte vir minderhede in verskeie lande wetlik gewaarborg en prakties gehandhaaf word. Wanneer Afrikaners hulle dus tot internasionale forums wend, kan hulle met selfvertroue aanspraak maak op regte wat elders erken word.

Adriana Stuijt

Vandag het die ANC wetgewers in Gauteng die bevel gegee om die laaste drie Afrikaanse skole in Fochville te oorspoel met swart ‘protesteerders, ouers en onderwysers’ . Die gewelddadige aksies teen Afrikaners en hul onbeskermde kinders in klaskamers wat hulle sodoende ook aanwakker is skynbaar vir die ANC-leiers volkome onbelangrik. En dit is nie die eerste keer dat selfs die kleinste Afrikaner kinders in hul skole aangeval word deur sogenaamde ‘protesaksies’ deur die ANC-regime nie — dit het vanaf 2010 al baie tientalle kere gebeur dat Afrikaner ouers hul kinders teen sulke kwaadaardige politieke geweld moes beskerm: http://censorbugbear-reports.blogspot.com/2012/01/anc-lawmaker-orders-attacks-on-3.html

Herman Toerien

Hi Adiana. Dit gebeur eintlik al van voor 2010 af, bv toe die Wes-Kaap in ANC-beheer is en ‘n skool ook skielik deur “Engelssprekende leerlinge” oorstroom is – uiteindelik moes ‘n stoorkamer as klaskamer ingerig word om plek te maak. Dié saak het in die appèlhof gaan draai en omstanders moes die uitspraak aan die ouers van die “Engelssprekende leerlinge” in Afrikaans vertaal omdat hulle nie Engels verstaan nie.
Om vir Afrikaans te wees, word in baie kringe nog as teen iets beskou. Ek lees netnou hoe ‘n rubriekskrywer skryf dat Afriforum met sy projekte “against the country” optree. En dié “rubriek” is gepubliseer!
(Hoe kry iemand dit reg om rubriekskrywer van selfs die Boendoepers te word as hy nie die verskil tussen politieke party, staat en land begryp nie?)
Die feit is egter dat die kwessie oor Afrikaans in belang van Afrikaans gedepolitiseer moet word. Solank die Vlaminge op ‘n manier minderwaardig (oor hul taal) teenoor Franssprekendes gevoel het, of Frans as statussimbool beskou het, was die “lek” na die Franssprekende gemeenskap groter as andersom. Trouens, vir my as buitestander, wil dit steeds lyk of die Wale hulself of hul taal as meerderwaardig bo Vlaams beskou al is die gemiddelde lewenstandaard van die Vlaminge soveel hoër as dié van die Wale dat Vlaandere jaarliks Wallonië met miljarde Euro’s moet subsidieer.
My ma het ‘n tante gehad wat so geïrriteerd met die kinders se spelery in Afrikaans was dat sy hulle knaend aangespreek het: “Kinders, julle moet Ingels praat. Dis ghrind om Engels te praat.” My eie oupa en sy susters het met hul Afrikaanse name Harry, Katy en Matty geword. ‘n Geslag later is die spot gedryf met die Wênderbaails se Engels, en miesies Wênderbaail se geskreëry oor die onderdeur: “Children, joe mast kam eout of de afterjaart. Joe wil trêm in de houdestro**” Dit het gewoon in sekere gemeenskappe kômmin geword, terwyl by ander dit “ghrind” gebly het om te Ingels. Kyk maar op Noot vir Noot hoe sal deelnemers perfekte Afrikaans praat, maar wanneer hulle kans kry om vir iemand groete te laat weet, in die kromste en skeefste “Engels” vir hul kinders en kleinkinders groete uitblaker.
Daar sal egter altyd ‘n kern wees wat oor sy moedertaal voel soos oor sy moeder. En as dit in die grondwet staan, en iemand eis dit op, is dit grensend aan haatspraak om so iemand as ‘n vyand van die land te beskryf.

Gemsbok

Afrikaners het reeds in alle opsigte die publieke ruimte in Suid-Afrika verloor. Dit kan gesien word aan die gebrek aan Afrikaners in openbare ruimtes soos munisipale kantore, howe, polisiestasies, publieke hospitale, parke en sypadjies (buiten natuurlik op Orania).

Afrikaners, wat tradisioneel hul gestorwenes begrawe, moes selfs begrafplase sedeer aan die nuwe magshebbers en word daar nou “herinneringsmure” (met nissies vir die plaas van ‘n geliefde se as) agter hoë duiwelsvurkheinings op die terreine van ons kerke opgerig.

Waarom Afrikaners reken dat ons nog in vennootskap met die regering die onderrig van ons kinders kan bedryf, gaan dus my verstand te bowe!

Jaarliks word daar skoolfondse betaal en fondsinsamelings gehou om skole te ondersteun wat onder die swaard van die staat se beheer staan. Klaskamers, koshuise, sportgeriewe en onderwysposte word jaar na jaar geskep op grond wat met die veeg van ‘n pen van ons af weggeneem kan word. Praat van jouself ingrawe in jou ondergeskiktheid en afhanklikheid van ‘n vyandige staat. Dit is gewoon soos ‘n vrou wat telkens terugkeer na die man wat haar slaan.

Skole is die hoeksteen van ‘n volk se bestaan en die drempel van sy toekoms. Indien ons nie volle verantwoordelikheid, beheer en eienaarskap van ons skoolstelsel kan neem nie, is ons waarlik nie waardig om as volk te oorleef nie.

Die pad is eenvoudig. Eis dat voormalige model C skole (die wat steeds Afrikaansmedium is) aan die volle beheer van ouerrade (insluitend alle bates) oorgedra word sodat hulle volle onafhanklike skole kan word (wat as onafhanklike skole steeds kan aandring op staatsondersteuning, maar minder daardeur gebind word), of indien dit nie slaag nie, neem die skoolfondse en fondsinsamelings en koop en bou daarmee nuwe onafhanklike skole. Die middele soos kurrikulums en onafhanklike eksamenrade bestaan reeds om so ‘n rewolusie moontlik te maak.

Die waarskuwing is eenvoudig: Verkneg jou toekoms aan hierdie vyandige regering op jou eie risiko.

Die kommentaar is gesluit.