Plaasmoorde: Treurgrond – boek sonder einde

Treurgrond

Die opvolgboek oor plaasmoorde deur Solidariteit se Kraal-uitgewers, Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012, word vanmiddag om 15:00 by die Stellenbosch Woordfees bekend gestel.

Intussen word die volgende uitgawe reeds in bloed geskryf. Vanjaar is reeds 11 boere en hul gesinslede in plaasaanvalle vermoor, volgens syfers deur die TLU SA.

Die nuutste weergawe van Treurgrond wat vandag bekend gestel word, is egter nie net oor kliniese syfers nie – dit vang die trauma wat daarmee gepaard gaan op verskillende maniere vas. Dit bevat onder meer skilderye oor plaasaanvalle deur die puik Vrystaatse kunstenaar, Pauline Gutter, wat ook bekend is vir die vaslegging van hierdie trauma op doek. Dit bevat ook gedigte oor plaasmoorde, en vertellinge van oorlewendes en naasbestaandes.

Dit geskied teen die agtergrond daarvan dat die regering soos ‘n steeks muil verseg om te erken dat plaasaanvalle ‘n eiesoortige probleem is, al staaf baie instansies se berekenings ook die disproporsionaliteit daarvan, asook die ongekende wreedheid waarmee baie van die aanvalle gepaard gaan. AfriForum het onder meer die minister van polisie, Nathi Mthethwa, weens beweerde magsmisbruik en minagting van die hof, wat met plaasaanvalle verband hou, by die openbare beskermer verkla.

Tydens twee van die jongste aanvalle het die slagoffers hulle verset, en is twee aanvallers self doodgeskiet.

Min sake veroorsaak soveel polarisasie tussen gemeenskappe, en tussen die Afrikaner en die regering, soos die regering se hantering van plaasaanvalle, al is dit nie net Afrikaners wat in plaasaanvalle vermoor word nie. Die regering se volstruispolitiek hieroor is ten spyte van volgehoue pogings om dit onder die regering se aandag te bring – deur instansies soos die TLU SA, Agri SA, AfriForum, Solidariteit, verskeie opposisiepartye, die media en duisende naasbestaandes en baie ander lede van die publiek. Maroela Media het in sy jong bestaan reeds meer as  2 200 Google-trefslae vir plaasmoorde en so ook vir plaasaanvalle.

Benewens ‘n seldsame periodieke uitlating deur ‘n minister of premier, is daar meestal ‘n dawerende stilte en nukkerige ontkenning uit regeringsgeledere. Trouens, die SAUK het enkele jare gelede ‘n direktief aan sy streekkantore uitgereik om minder nuusdekking aan plaasaanvalle te verleen.

Sielkundiges wat die diepe graad van trauma van slagoffers, soms bekend as viktimologie, probeer deurgrond, skryf die uitsonderlike graad toe aan faktore soos die gevoel van blootgesteldheid op plase en die gevoel van in die steek gelaat wees deur die regering.

Terwyl daar geldelike tekorte is om die plaasmense behoorlik te beveilig is die nuusmedia volop oor luukse uitspattighede en wanadministrasie van ministers. Trouens, terwyl die presidensie minister Lulu Xingwana min of meer gerepudieer het oor haar stelling oor Afrikanermans en hul Calvinistiese opvoeding wat hulle tot willekeurige moord sou voer (en sy intussen weer op ‘n oorsese ekskursie vertrek het in plaas van afgedank gewees het), het die regering nie dieselfde gereageer toe dieselfde minister in 2007 op Kerkplein boere daarvan beskuldig het dat hulle hul werkers verkrag en mishandel nie.

Kraal-uitgewers som die essensie van die nuwe boek soos volg op:

Meer oor Treurgrond

Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012 bevat onder meer die volgende:

  • Die grootste en betroubaarste databasis van plaasaanvalle in Suid-Afrika van 1990 tot 2012 waarin sowat 3 300 aanvalle en minstens 1 600 moorde gelys is.
  • Bygewerkte en verbeterde inligting oor aanvalle, met meer detail en feite oor die aanvalle self, die vervolging van aanvallers en die vonnisse wat aanvallers uiteindelik opgelê is.
  • Treffende persoonlike vertellings van slagoffers, familie en vriende van slagoffers oor die trauma, hartseer en verlies weens dié aanvalle.
  • Navorsingsartikels deur vooraanstaande kenners op die gebied van plaasaanvalle wat onder meer ondersoek instel na die potensiële uitwerking van plaasaanvalle op die gemeenskap en die gebruik van oormatige geweld in plaasaanvalle.
  • ʼn Voorgestelde model vir ʼn basiese gemeenskapsveiligheidsnetwerk soos opgestel deur ʼn voormalige SAPD-speurder en misdaadkenner.
  • Kunswerk deur die bekroonde Bloemfonteinse kunstenaar, Pauline Gutter, met plaasaanvalle en die weerloosheid van die plattelandse gemeenskap as tema.
  • Agt roerende gedigte wat die hartseer van verlies, woede en bitterheid oor plaasaanvalle verwoord. Twee hiervan kom uit die pen van ʼn pa wat self sy agtjarige seuntjie in ʼn plaasaanval verloor het.
  • ʼn Handige alfabetiese indeks met die vanne van alle slagoffers wat in die boek gelys is om die naslaan van familie, vriende en kennisse te vergemaklik.

Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012 is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R350 (R40-posgeld uitgesluit). Om die boek te bestel SMS “TREUR” na 34388 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.