Sanele Goodness May van Swaziland, wat verlede jaar in Pinetown, KwaZulu-Natal die dood van 24 mense veroorsaak het, verskyn weer Vrydag in die Durban-hooggeregshof. Hy gaan na verwagting skuldig pleit op 24 aanklagte van strafbare manslag.
May het op 10 Oktober vlugtig in die hof verskyn. Hy sou toe skuldig gepleit het, maar staatsaanklaer Alistair Walters het aan die hof gesê die direkteur van openbare vervolging moet nog sy pleitooreenkoms nagaan en onderteken.
May se vragmotor het op 5 September, tydens spitsverkeer, vier minibustaxi’s en twee motors getref. Altesaam 22 mense is op die toneel dood en twee het later in die hospitaal aan hul beserings beswyk. ʼn Video van die voorval het groot reaksie uitgelok en die video is intussen reeds byna 1 miljoen keer op YouTube gekyk. Die video volg onderaan die berig.
Hy is sedert die ongeluk in aanhouding en is op twee vorige geleenthede borgtog geweier. Hy is aanvanklik van moord aangekla, maar dit is later na strafbare manslag verander.