Tossie Lochner op 75 vereer

Op die ouderdom van 75 straal die bekende radiopersoonlikheid, Tossie Lochner, nog van lewenslus en passie vir alles wat Afrikaans is. Sy meng dit boonop met ʼn goeie skoot ondeundheid ook.

Lochner is Donderdag, op haar verjaardag, deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ʼn toekenning vir besonderse kultuurprestasie vereer. Tydens dié geleentheid by die Voortrekkermonument is daar ʼn glasie vonkelwyn op haar en 75 jaar van Afrikaanse radiowese geklink.

“Tossie het Europa toeganklik gemaak vir ʼn generasie voordat sanksies teen Suid-Afrika gelig is. Afrikaanse radio het ʼn venster op stede soos Londen, Parys, Amsterdam en Rome geopen. Tossie was een van die mense wat ʼn geestelike handelsroete gestig het waarsonder ons kultuur verseker armer sou gewees het,” het dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die FAK gesê.

Haar oudkollega, Magdaleen Kruger, het vertel hoe Lochner haar stories uit Italië ʼn Suid-Afrikaanse inslag gegee het. “Kyk, ons het altyd gewonder hoe Mamma Tossie dié storie ʼn Suid-Afrikaanse hoek gaan gee maar sy het dit altyd reggekry. Sy is die vrou met wie jy moet praat as jy ʼn Suid-Afrikaanse inslag op jou storie soek,” het Kruger, wat die gasspreker vir die geleentheid was, vertel. Lochner, wat haar kinders Afrikaans groot gemaak het, selfs al het hulle in Italië groot geword, beskryf haarself nie as ʼn joernalis nie, maar eintlik net as iemand wat lief is daarvoor om ʼn storie te vertel.

Volgens Kruger het Lochner eers daardie kenmerkende manier waarop sy haar insetsels afgesluit het aangeleer nadat sy ʼn draai anderkant die Engelse kanaal gemaak het. Lochner het op haar beurt vertel dat sy ʼn briefie van ʼn jong seun ontvang het wat vir haar gesê het hy geniet die wyse waarop sy haar insetsels afsluit. “Tog wonder ek nog altyd of hy die manier geniet hoe ek die insetsels eindig en of hy eintlik maar net verlig was dat ek klaar gepraat het,” het sy laggend gesê.

Lochner het haar praatjie met haar kenmerkende “Tossie Lochner, Italië” afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.