Boere, Basotho’s en Britte in die Bergkoninkryk

Lesotho maak nou aanspraak op dele van die Oos-Vrystaat en ander gebiede in Suid-Afrika. Hierdie eis het ʼn lang aanloop. Pierre Massyn gee ʼn historiese perspektief.

’n Basoeto-ruiter langs die pad wat na die Malutiberge lei, op 9 Julie 2018. (Foto: MARCO LONGARI / AFP)

Noem die “verowerde gebied” in die Clarens-omgewing en die Basotho-konflikte van die 1800’s, en ʼn mens dink onwillekeurig aan Vrystaatse leiersfigure soos president Jan Brand, wat die volk geïnspireer het met sy slagspreuk: “Alles zal rechtkomen als elkeen zijn pligt doet”.

Die gerespekteerde Brand wat in 1882 deur Engeland tot ridder geslaan is; ʼn mens dink aan Louw Wepener (“Swartmaanhaar”) wat op 15 Augustus 1856 ʼn heldedood gesterf het teen die hange van Thaba Bosigo[i], asook aan generaal Jan Fick na wie die dorp Ficksburg vernoem is en wat bekendheid verwerf het met sy Kersiefees.

Die geskiedenis van die Boere, die Basotho’s en die Britte is onlosmaaklik ineengestrengel, maar ek wil nou die soeklig laat val op die Britse betrokkenheid in Basoetoland. Laat ek net momenteel die horlosie terugdraai.

Die Basotho-nasie

Tydens die Mfecane of Difaqane het die moordimpi’s van Shaka Zoeloe, Mantatisi en haar seun Sekonyela[ii], asook Mzilikatzi (“Silkaats”) verwoesting gesaai en groot dele van die binneland ontvolk, soos blyk uit historiese dokumente wat die Groot Trek beskryf. Die oorblyfsels en oorlewendes van die uitgedunde stamme het hul toevlug tot die berge van wat vandag Lesotho is, geneem – in dele van die Drakensberg by Mont-aux-Sources, waar die Tugelarivier op die waterskeiding ontspring en deur Natal afvloei tot in die Indiese Oseaan; asook die Maluti waardeur die toevoertonnel vir water uit die Katsedam in prehistoriese basaltrots geboor is om die water te laat vloei tot in die Asrivier buite Clarens.

Moshoeshoe (“Mosjesj”) van die Bamokoteli-stam met die krokodil (“koena”) as hul totemdier[iii], vergaar die ontwortelde vlugtelinge uit sowat 23 verskillende stamme in wat mettertyd as die Basotho-nasie sal ontwikkel met hul hoofstat, die bergvesting Thaba Bosigo. Die Zoeloes verwys neerhalend na hierdie groep bergbewoners as “bashuntos” of stertriemdraers. Voedsel was skaars in die onherbergsame gebiede en verhale van mensvretery duik dikwels op. Die benaming Cannibal Valley is dus heel gepas. Ek het plekke soos White Man’s Pass en die God Help Me Pass persoonlik beleef, maar Cannibal Valley eers betreklik onlangs nagevors.

Sendelinge maak hul verskyning

In 1833 sorg Franse sendelinge van die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap – die Société des missions évangéliques de Paris – dat Die Woord die bergbewoners die eerste keer bereik.

Volgens bronne het Moshoeshoe hulle uitgenooi om onder sy mense te kom werk vanaf hul basis by Morija. Hulle het onder meer ook Sesotho as taal die eerste keer op skrif gestel. Later sou die Engelse ook daar kom sendingwerk doen – om nie af te steek by hulle neefs oorkant die Pas de Calais nie! Louis du Buisson suggereer ondubbelsinnig in The White Man Cometh dat dit die Britse strategie was om eers die sendelinge as voorlopers, oftewel pionne, in die groter spel in ʼn geteikende land te gebruik, totdat John Bull dan die prooi militêr verower, indien nodig.

Moshoeshoe, bygestaan deur sy minstens 30 vrouens, behandel die Franse baanbrekers goed en hulle lê die grondslag vir die kerstening van die Basotho-nasie.

Veeboerpioniers verwelkom

Moshoeshoe het die koms van die eerste veeboerpioniers verwelkom (en weiregte vir hul vee verleen), aangesien hy oortuig was dat hulle hom teen die steeds dreigende Zoeloe- en Matabele-strooptogte kon beskerm. ʼn Juiste argument aangesien die Voortrekkers die Zoeloes by Bloedrivier ʼn nekslag toegedien het en Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz die Matabeles op 2 Januarie 1937 by Mosega verdryf het. Die Matabele-volk het oor die Limpoporivier gevlug en hulle in die teenswoordige Zimbabwe gevestig.

Kontemporêr het Robert Mugabe se Zanu PF-party – wat hoofsaaklik vanuit Shona-geledere sy steun kry – volgens algemene mediaberigte tot 30 000 Ndebeles (Matabeles) doodgemaak na sy bewindsoorname.

Brittanje se ambisies

In hul pogings om die kaart van Suider-Afrika rooi te verf, loop die Britte hul rieme liederlik styf teen die Basotho’s. Met hulle geharde Basoetoponies, onder meer van naburige Griekwas verkry, en vuurwapens, volgens oorlewering aan hulle deur Korannas verskaf, is hulle gedugte teenstanders.

Brittanje word onder meer gebloedneus by Viervoet (30 Junie 1851) en Bereaberg (20 Desember 1852). Hierdie terugslae het volgens bronne grootliks daartoe bygedra dat die Vrystaat op 17 Januarie 1852 met die Sandrivierkonvensie sy onafhanklikheid van Brittanje gewaarborg kon kry.[iv]

Ten spyte van pogings om die strydende partye van mekaar te skei, soos met die Warden-lyn, was die toestand op die grens uiters onstabiel en plofbaar. Die geskiedenis vertel ons dat Brittanje Basoetoland op 12 Maart 1868 as protektoraat annekseer. Een van die voorwaardes van die anneksasie was die toekenning van die verowerde gebied aan die Vrystaat.

Basotho’s onderwerp aan Britte

Op 22 Augustus 1877 word Arthur Cecil Stuart Barkly deur Sir Bartle Frere, Britse goewerneur aan die Kaap, as gebiedslanddros aangestel vir die gebied van Basoetoland – ʼn ongetemde en vaag gedefinieerde gebied. Barkly se pa, Henry, was Frere se voorganger as goewerneur aan die Kaap. Arthur Barkly se vrou, Fanny, en hulle twee jong kinders, Harry (3) en Nancy (1) sluit ʼn paar maande later uit Engeland via Durban by hom aan – op  ʼn skip van sir Donald Currie, wie se naam ten nouste gekoppel is aan die wêreld se oudste rugbykompetisie!

Thaba Bosigo, toe soms “Cannibal Valley of Advance Post” genoem, word inderdaad dikwels deur Barkly besoek van sy basis in Mafeteng, suid van die hoofstad Maseru. Hy kry die Sesotho-bynaam van “Ramabanta” weens sy voorliefde vir uitspattige weermag-leerlyfbande. Barkly vermaak homself deur “sy” konstabels te dril.

In pre-Victoriaanse Engeland en daarna is imperialisme ʼn skaars-verdoeselde oogmerk. Aanvanklik word die Basotho’s onderwerp aan ʼn stel verlammende wette, soos die Wet op Handeldrywing (“Mercantile Law”, 1871 opgevolg) deur die Hutte-belasting in 1879.

Maar intussen beland Zoeloeland in die Britse visier. Die blokke van die historiese legkaart glip inmekaar. Op 22 Januarie 1879 word ʼn Britse invalsmag van majoor-generaal Lord Frederick Thesiger Chelmsford by Isandlwana deur Cetwayo se Zoeloes oorrompel. Dis ʼn katastrofe. Britse verliese aan die hand van ʼn vyand, hoofsaaklik gewapen met assegaaie, beloop 1 357 manskappe en offisiere. Die gevolge van hierdie ramp word tot in die berge van Basoetoland gevoel.

Volgens mevrou Barkly word die plaaslike inboorlinge onmiddellik al hoe meer opstandig en aggressief. Sir Gordon Sprigg, goewerneur van die Kaapkolonie, gooi spreekwoordelik nog meer olie op die vuur met sy sogenaamde vredesbewaringswet of “Peace Preservation Act” van 1878. Fanny Barkly noem hierdie wet op sy naam: die “Disarmement Act”, oftewel die “Ontwapeningswet”.[v]

Ingevolge hierdie proklamasie, moet alle Basotho’s hulle wapens aflê en inhandig! Dit sluit nie net vuurwapens in nie, maar werpspiese en steekassegaaie ook! Verstaanbaar, is die Basotho’s uiters ontstoke met hierdie proklamasie. Vir ʼn Mosotho is sy wapen, nes sy perd, nie net ʼn statussimbool nie, maar ʼn simbool van sy manlikheid, en die bergnasie is die besbewapende inheemse volk in Afrika – die Boere uitgesluit.

Oorlog breek uit

Die direkte gevolg van hierdie ondeurdagte besluit was hoogs voorspelbaar: op 13 September 1880 breek die Basotho-geweeroorlog oftewel die “gun war” uit. Fanny Barkly ontsnap saam met die kinders, insluitende ʼn nuwe aankomeling, die vier maande oue Gilbert uit Mafeteng, wat vir 36 dae beleër word deur hoofman Lerotholi en sy “rebelle”, soos wat hulle nou beskou word.

Die Britte wou nie hul vastrapplek op die grens van die Kaapkolonie sonder meer prysgee nie. Dit is egter hoegenaamd nie meer veilig vir die Barkly-gesin nie en hulle moet vir eers noodgedwonge na Morootsi verhuis. Intussen daag versterkings uit die Kaapkolonie op. Die Cape Light Horse, die Cape Mounted Riflemen, die Cape Mounted Yeomanry, die Prince Alfred Volunteer Guards en die Kimberley Horse maak die grootste deel van die Britse mag uit. Hulle word bygestaan deur sowat 400 burgers onder bevel van kolonel Edward Yewd Brabant.

Die Basotho’s maak toenemend van die kommando-taktiek gebruik wat die Boere met sukses teen hulle gebruik het. Die Britte beleër egter die Basotho’s in die voetheuwels van die Maluti waar hulle in grotte skuil. Hulle bestook die plaaslike bevolking met dinamiet en honger hulle uit, sodat hulle moet oorgee of vlug. Hele Basotho-dorpies word summier afgebrand. Radiamari is ʼn belangrike setel wat so in die slag bly.

Basotho’s se gemengde sukses

Die Basotho’s tree as oorwinnaars uit die stryd by Qalabane, maar moet Thaba-Moroosi prysgee. Hoofman Morosi sneuwel tydens hierdie aanslag. Sy onthoofde kop word deur die strate van Kingwilliamstown geparadeer. Die aanhoudende onrus en gevegte lei daartoe dat groot getalle burgerlike Basotho’s na die Vrystaat vlug.

ʼn Wapenstilstand word in Februarie 1881 verklaar ná skermutselinge by Mafeteng. Sowat twee maande na die Geweeroorlog word Arthur Barkly ernstig siek en verlaat Basoetoland in Junie 1881 om na Engeland terug te keer. Hy sterf op 27 September 1890 op die ouderdom van 47 in Stapleford Park, Pontefract.

Die finale indrukke waarmee Fanny Barkly se beskrywings jou agterlaat, is dié van ʼn goeie reisbeskrywing en nuttige waarnemings van daardie tydsgewrig. Ongelukkig slaan haar hoogdrawende en maternalistiese Engelse houding plek-plek deur: sy praat byvoorbeeld van “my Zulu” (haar huishulp) en “my Basotho maid Maria” (ʼn soort persoonlike pleegsuster wat Fanny beskryf as “the most civilized savage I ever came across”). Maria se ma beskuldig Fanny dat sy haar kind gesteel het en nooit ʼn dienskneg van die wittes sou wees nie. Fanny verwys ietwat neerhalend na “those Dutch women”. Sy sê ook onomwonde dat arbeiders (“servants”) skaars was – en dit terwyl sy ʼn “entourage” van bediendes, lyfknegte en kinderoppassers gehad het!

Die oorblyfsels van geskiedenis

Tot vandag speel die tradisionele pitso’s of indabas ʼn belangrike rol in die Basotho se daaglikse bestaan, asook die tradisionele inisiëring van jong manne, waartydens hulle hulself met rooi klei besmeer. Die hoofman se woord is steeds wet in sy bepaalde territorium. Die Kaapse koloniale magte kon nie daarin slaag om ʼn beslissende militêre oorwinning te behaal nie, en met die Disanneksasiewet van 1883 kry Basoetoland nou die fleurige beskrywing van ʼn “British High Commission Territory”.

Die feit dat die landjie toe ʼn soewereine staat geword het, is waarskynlik die hoofrede hoekom die Bergkoninkryk nie in 1910 met Uniewording by Suid-Afrika ingelyf is nie. Vir ʼn land wat mank gaan aan natuurlike hulpbronne, ʼn bitter lae Bruto Binnelandse Produk (BBP) en wat volgens VVO-dokumente onder die armste tien lande ter wêreld tel, het die Lesotho-Hoogland-waterprojek sonder enige twyfel enorme voordele gebring wat insluit:

  • Werkverskaffing aan duisende Basotho’s.
  • Permanente infrastruktuur soos teerpaaie tot by die Katsedam, die middelpunt van die projek, en die toegangspad van Caledonspoort af – ʼn fenomenale, bekroonde Suid-Afrikaanse ingenieursprestasie.
  • Westerse kundigheid en vaardighede wat met ʼn Derde Wêreldsbevolking gedeel is. Daar is onder meer ʼn opleidingsentrum op Thaba Tseka geskep.

Moshoeshoe sou sekerlik dankbaar gewees het vir hierdie onverwagte meevallertjie!

Eindnotas

[i] Volgens sommige bronne sou die Basotho’s Wepener se hart ná sy dood verwyder en geëet het om sy karaktertrekke van dapperheid en heldhaftigheid ook te kon verkry.

[ii] Tydens die Voortrekkerleier Piet Retief se aanvanklike onderhandelinge met die Zoeloe-hoofman, Dingaan of Udingane by Ungundlovu, is Retief daarvan beskuldig dat hy die Zoeloes se beeste gesteel het. Retief het egter die gesteelde beeste van Sikonyela herwin en aan Dingaan terugbesorg. Daar word tot vandag toe bespiegel dat die gemak waarmee Retief en sy geselskap die beeste teruggekry het, ʼn grondoorsaak vir die verraderlike moord op hom en sy manskappe was, aangesien dit vrees by Dingaan oor die Boere se veg-vermoëns laat ontstaan het.

[iii] Moshoeshoe is volgens een bron in 1790 naby die stat Batha-Buthe, net suid van die Caledonspoort-grenspos, gebore. Poligamie kom tradisioneel vandag nog vrylik voor en daar bestaan vandag nog ʼn negosiewinkel genaamd “S. Mofekeng and his Wives” in Batha-Buthe.

[iv] Sien Moshoeshoe 1, Wikipedia. Barkly se pa, Henry, was Frere se voorganger as Britse goewerneur aan die Kaap.

[v] In South African History Online, word Sprigg ook verantwoordelik gehou vir die Transkeise Rebellie en dat hy die Xhosa-staat vernietig het.

Bronne:

Among Boers and Basotho’s, Fanny Barkly.

Lesotho Tribune, 27 September 2022

Basotho Gun War, Wikipedia

  • Pierre Massyn is ʼn amateur-historikus en die voormalige kommunikasiebestuurder van die Lesotho-Hoogland-waterprojek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Britse Fanny Barkly is die hoofbron. Waarom is Prinsloo se groot werk oor die Oos-Vrystaat vanuit die Trekboere-perspektief en ander skrywers soos Karel Schoeman nie vermeld nie. Mosjesh het nooit enige grond aan Boere geskenk of hoef te geskenk het nie. Engelse sendelinge het ná Boeretrekkers in die Weste begin vestig het bekommerd geraak en swartes van gewere en perde voorsien. Boere is kamma teruggeroep na die Kaap en daartydens is hul huise verbrand of beset. Hierdie eis kan maklik weerlê word.

Jakkie ·

Feite, dit is kommerwekkend dat sulke bronne oënskynlik nie geraadpleeg is nie.

Jaco ·

As die britte ook dit wat later Ciskei en Transkei was, asook zululand protektorate gemaak het, sou daardie 3 nooit deel van SA gewees het nie en sou SA veel minder probleme gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.