Bye in die kol met Protea-wedstryde

Die bye kloek op Engeland saam. En hulle was reg! Foto: Verskaf.

Dalk is hulle sieners, of dalk het hulle net ’n ekstra spesiale aanvoeling vir sport. Maar die bye van Klein Begin Heuning daar in die Kaap het tot dusver die korrekte uitslag van meer as 80% van die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland voorspel.

Ja, hulle het geweet die Proteas gaan teen Engeland verloor, en ja, hulle was nie té verbaas toe Faf du Plessis en Kie. met 21 lopies teen Bangladesj vasgeval het nie.

Volgens Charl Bahlmann, het sy bye 72% van die uitslae in die 2018 Fifa Wêreldbeker-sokkertoernooi in Rusland ook reg gehad.

In een bobaas-naweek was hulle met elke kragmeting in die kol – insluitend die België/Brasilië-tweestryd.

Vir die kriekettoernooi deel Bahlmann ’n folio-papier in die helfte en skryf hy die twee betrokke spanne se name neer. Hy gee ook die opsie waar Duckworth/Lewis ’n moontlike rol kan speel, terwyl hy ook voorsiening vir ’n gelykop-uitslag maak.

“Ek smeer dan ewe veel heuning op spanne A en B, die gelykopuitslag en op Duckworth/Lewis. Dan wag ek bloot dat die bye op die bladsy kom land om ’n foto te neem. Vyf minute later neem ek ’n opvolgfoto.”

Vir die openingswedstryd het daar meer bye aan Engeland se kant geland as aan die Proteas s’n.

Verbysterend!

Vir vandag se wedstryd teen Indië het die bye reeds Maandag al hul zoemende stemme dik gemaak. Hulle het gesê dat Duckworth/Lewis ’n rol gaan speel.

Die Proteas sukkel by vanjaar se Wêreldbeker. Foto: Cricinfo.

En so wragties – daar is inderdaad reën in die Southamptonse lug!

Tog is daar meer bye aan Indië se kant, en met die Proteas wat tans nie krieket na ’n lekker sport laat lyk nie, stem jy nogal saam met dié voorspelling.

Tot op hede het hulle nog net die heuningpot twee keer misgesit: Hulle het gevoel dat Sri Lanka vir Nieu-Seeland in die derde wedstryd gaan klop. En toe wen Nieu-Seeland.

Dan was hulle ook aan Afganistan se kant teen Sri Lanka.

Dit was egter ’n opdraande stryd vir die tee-eiland en hulle het met 34 lopies gewen nadat hulle net 201 kon aanteken.

“Dalk is dit die waarheid of dalk is dit sommer klomp bog. Maar dit bly ’n lekker bewusmakingsveldtog vir bye,” sê Bahlmann.

  • Besoek Klein Begin Heuning se Facebookblad om die voorspellings dop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wouter ·

As ‘n seekat sokker kon voorspel dan kan bye seker krieket voorspel.
Klink net gevaarlik vir my…
Wonder hoe akkuraat gaan die bye die eindstryd voorspel as al die oorblywende spanne se name op een blad geskryf word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.