Metrorail bied beperkte treindiens in Tshwane

‘n Trein word ontsmet voor dienste weer hervat (Foto: Courtney Africa, ANA)

Metrorail in Gauteng het aangekondig dat hy voortaan weer ʼn beperkte treindiens in Mabopane en Saulsville in die Tshwane-streek sal lewer.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail, sê die diens sal na verwagting Dinsdag in Mabopane hervat word en teen 16 November in Saulsville.

“Weens veiligheidsredes en die ernstige gevolge van diefstal en vandalisme, sal treine nie by alle stasies kan stilhou nie. Hierdie stasies sluit onder meer die Soshanguve-, Kopanong-, Wintersnest- en Akasiaboom-stasie in,” sê Mofokeng.

“Metrorail versoek pendelaars en die plaaslike gemeenskap om gedurende hierdie tyd geduldig te wees. Ons werk onophoudelik om die stasies tot so ʼn vlak te herstel dat treine daar kan stilhou.”

Pendelaars word ook versoek om alle Covid-19-regulasies na te kom.

“Pendelaars word daaraan herinner dat vlak 1-afsonderingsregulasies steeds geld en daar word van pendelaars verwag om ten alle tye ʼn masker te dra en ʼn sosiale afstand te handhaaf.”

Mofokeng sê weens die Covid-19-regulasies sal treine teen net 70% van gewone kapasiteit bedryf word. Pendelaars wat eerste aankom, sal eerste gehelp word.

Treindienste sal slegs tussen 05:00 en 09:00 en tussen 15:00 en 19:00 gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mrs H ·

Hoekom herstel net om weer blootgestel te word aan skade – kyk hoe lyk, en wie is DIE ‘gemeenskap’… dan sal jy besef dat dit nie belowende winste sal bied nie, want jy maak net oor en oor reg en herstel. Die ‘gemeenskap’ gaan ook nie skielik respek en dankbaarheid toon nie.

Anel ·

Ek vermoed taxis is hier betrokke. Verder, treine mag slegs 70% vol wees maar taxis 100%. Hoe werk hierdie logika?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.