Sandra Prinsloo aanlyn te sien in ‘Oskar en die pienk tannie’

Sandra Prinsloo in ‘Oskar en die pienk tannie’.

Een van Afrikaanse teater se veelbekroonde toneelstukke, Oskar en die pienk tannie, is vandeesweek te sien op Die Boer by die Huis se aanlyn teaterplatform.

Sandra Prinsloo vertolk die rol van ʼn tienjarige seuntjie wat terminaal siek is, dié van ʼn ouma en ʼn paar ander karakters in die kindersaal van die hospitaal waar hy verpleeg word. Op die verhoog is ʼn enkele tafel: die sterwende Oskar se hospitaalbed.

Die Boer-teater in Durbanville is omskep in ʼn opname-ateljee en dit is hier waar Prinsloo dié stuk vir die eerste keer sonder ʼn gehoor aangebied het.

“Dit was ʼn vreemde ervaring,” sê Prinsloo, wat met nege nasionale teatertoekennings vereer is vir haar veelsydige spel in Oskar en die pienk tannie.

Sandra Prinsloo in ‘Oskar en die pienk tannie’. (Foto: Verskaf)

“Ek skat ek het die stuk sowat vier, vyf jaar laas aangebied voordat ons hierdie opname gemaak het. Dit kan nooit regstreekse teater vervang nie, want die gehoor is so ʼn integrale deel van enige opvoering. Maar dit was vir my lekker om vir die kamera te speel en dit was baie meer intiem. Dit was ook baie lekker om die teks te herontdek.”

Die stuk is geskryf deur Éric-Emmanuel Schmitt en is in Afrikaans vertaal deur Naòmi Morgan. Die teks word beskryf as “terloops hartseer en terloops snaaks”.

“Dit is so ʼn besonderse storie van moed, hoop en moontlikhede. Dit is baie roerend geskryf en handel oor ʼn siek seuntjie wat op ʼn hele lewensreis gaan in die 12 dae wat hy oor het om te leef. Hy glo ʼn ou tannie se storie dat hy vir elke dag wat hy nog leef op ʼn reis kan gaan.

“Dit is ʼn wonderlike voorbeeld van hoe ons ons eie realiteit kan skep en dat ons nie deel hoef te word van ʼn negatiewe realiteit nie; dat ons ʼn realiteit kan skep waarin ons alles kan oorkom. Die seuntjie se positiwiteit ten spyte van sy lot is wat so aangrypend is, en veral in hierdie tyd is dit vir ons ʼn goeie les,” sê Prinsloo.

Sy verduidelik waarom sy dié stuk gekies het om aanlyn aan te bied: “Elke nou en dan, min of meer een maal per jaar, kom daar ʼn teaterstuk wat ʼn mens nie durf misloop nie. Die soort teaterbelewenis wat by jou steelkant verbyglip en jou totaal ontredder. Wat nie talm of trane trek nie. Wat jou oorrompel met ʼn verpletterende besef van die weerloosheid en vlugtigheid van die lewe, van die kosbaarheid van oomblikke. Wat sorg vir theatre magic, losweg vertaalbaar as hoendervleis. So ʼn stuk is Oskar en die pienk tannie.”

Oskar en die pienk tannie is van 2 tot 7 Julie aanlyn te sien. Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.