Suid-Kaap se bergplante floreer ná winterreën

Die Outeniekwa-bergreeks. (Foto: Cobus Meiring)

Die Suid-Kaap se plantegroei floreer ná gunstige winterreënval in die Outeniekwaberge. Só sê Cobus Meiring van die Tuinroete-omgewingsforum (GREF).

“Hoewel inheemse plantegroei op verskeie plekke reeds teruggegroei het, is daar die gevaar dat die honderde hektaar indringerplante ʼn herhaling van die 2018-brande kan veroorsaak.”

Bykans 100 000 hektaar van die Outeniekwaberge het destyds afgebrand nadat weerlig ʼn weghol-veldbrand ontketen het wat etlike weke geduur het.

Die Outeniekwa-brande het kort op die 2017-Knysna-brande gevolg wat groot skade aan die kusomgewing berokken het.

“Omgewingsbestuurders was met reg bekommerd oor die herstel van biodiversiteit in die gebrande omgewings. Die brande was veral woes as gevolg van die hitte wat deur digte plantasies indringerplante in die opvangsgebiede veroorsaak is,” sê Meiring.

“Die Outeniekwaberge is die waterfabriek van die Suid-Kaap en om dié rede is die ekologiese welsyn van die berge van belang vir almal wat in die Suid-Kaap woon.”

Volgens Meiring gaan die meeste van die noordelike en westelike dele van die Suid-Kaap nie meer gebuk onder droogte nie.

“Daar is egter steeds kommer oor die watervlakke. Verskeie damme, soos die Kammanassiedam in die Klein-Karoo, is steeds dolleeg, terwyl ander se vlakke geleidelik styg. Baie van hierdie damme het egter nog nie hul volle kapasiteit bereik nie.”

ʼn Sprekende voorbeeld van hoe belangrik die ekologiese welsyn en inheemse biodiversiteit van ʼn opvangsgebied is, het na vore gekom nadat Kaapstad in 2016 baie na aan Dag Zero gekom het.

Meiring sê die bergopvanggebiede om die Wes-Kaap is oortrek met indringerplantegroei. Dit het ʼn groot invloed op die hoeveelheid reënwater wat uiteindelik die opgaardamme bereik. Veral in plekke soos Kaapstad en omstreke, waar daar nie meer plek is om groot damme op te rig nie, raak dit toenemend sinvol om opvangsgebiede volhoubaar te bestuur.

“Brand is ʼn baie bekostigbare metode om van indringerplante en -bome in bergopvangsgebiede ontslae te raak, maar inheemse fynbosspesies kan ongelukkig nie so gereeld gebrand word nie. Dié plante kan tot vyftien jaar neem voordat hulle volwassenheid bereik en gereed is om te kan voortplant en sade vry te stel. Fynbos staan dus ʼn kans om uitgewis te word indien die gebiede waar hulle voorkom, te gereeld afbrand.”

Meiring benadruk die konstante monitering van die plantegroei-dekking van die Outeniekwabergreeks. Hy is van mening die samewerking en beplanning van beheerde brande deur die owerhede met omgewingsbestuur en brandbeheer is die eerste stap na volhoubare bestuur van die Suid-Kaap se hulpbronne, insluitend water.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.