“SAOU neem nou ander standpunt in,” maan Solidariteit in brief aan hoofde

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Toe ses Afrikaanse skole met ʼn Christelike karakter in September 2014 deur die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie (Ogod) hof toe gesleep is oor hul Christelike karakter wat, volgens Ogod, ongrondwetlik is, het AfriForum finansiële steun aan dié ses skole verleen, omdat die vryheid om ʼn Christelike karakter te kies, volgens Solidariteit, “grondwetlik moontlik, prakties uitvoerbaar én belangrik” is. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het verlede jaar as vriende van die hof tot die saak toegetree, en het in hul eedsverklaring gesê hulle steun die beginsel dat skole die reg het om hul karakter met ʼn bepaalde geloof te belyn. In Februarie vanjaar het Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, egter hofstukke ingedien waarin die SAOU ʼn ander standpunt inneem – volgens dié nuwe standpunt moet en mag skole nie ʼn bepaalde geloofskarakter aanneem nie. In reaksie hierop het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, ʼn ope brief aan skoolhoofde geskryf, waarin hy hulle maan om kennis te neem van die SAOU se verandering van standpunt, aangesien dit hulle standpunt as skoolhoofde verteenwoordig. Die brief lui soos volg:

U is waarskynlik bewus van die komende hofsaak oor die rol van godsdiens in skole wat in Meimaand gaan voorkom. In die lig van die belangrikheid van hierdie saak, doen ons ʼn beroep op skole om hulle van die feite te vergewis deur die oorspronklike hofstukke te bestudeer, en nie op sekondêre bronne soos hierdie skrywe, nuusbriewe of mediaverklarings staat te maak nie. In die lig van die belangrikheid van hierdie saak en omdat ons in die openbaar in die saak betrek is, neem ek die vrymoedigheid om ons siening aan u deur te gee.

Dit is vir ons as beweging met ’n Christelike grondslag uiters belangrik dat openbare skole die vryheid moet hê om ’n Christelike karakter te kan kies. Hierdie geloofsuitgangspunt is grondwetlik moontlik, prakties uitvoerbaar en speel ’n belangrike rol in die sukses van talle skole in die land. Daarom was ons dankbaar om te verneem dat Fedsas en die SAOU as die twee belangrikste rolspelers in die skole waar ons ledegemeenskap se kinders meestal skoolgaan, baie sterk standpunt ingeneem het ten gunste van die reg en vryheid van skole op ’n Christelike karakter. Dit het ons nie verbaas nie omdat ons die SAOU-leierskap en die groot meerderheid onderwysers leer ken het as roepingsgedrewe mense wat vir Christelike onderwys leef. Die bekende sosioloog, prof. Lawrence Schlemmer, het selfs die sukses van Afrikaanse skole grootliks aan roepingsgedrewe onderwysers toegeskryf.

Gevolglik het ons nie gehuiwer om grootskaalse finansiële steun vir regshulp aan die ses skole beskikbaar te stel wat deur ’n klein groepie aktiviste hof toe gesleep is nie. Hierdie bystand verteenwoordig die grootste enkele bedrag waarmee ons nóg ’n ander instelling bygestaan het omdat dit hier vir ons oor die toekoms van skole en Christelike onderwys gaan. Daarmee saam het AfriForum ook toegetree as vriend van die hof om só, waar nodig, die skole en Fedsas (wat die skole verteenwoordig) te ondersteun. Om dieselfde rede was ons ook dankbaar toe die SAOU op 10 Maart 2016 aansoek gedoen het om as vriend van die hof toe te tree, veral omdat die kern van hul eedsverklaring was dat skole wel die reg het om hulself met ’n bepaalde geloof te belyn. Terselfdertyd was ons bemoedig toe die SAOU-ledeopname bevind het dat 95% van hul onderwyserslede die beginsel van keusevryheid ten opsigte van ’n bepaalde godsdienstige etos en karakter by ’n bepaalde skool steun.

SAOU-ommeswaai

Daarom was ons oorbluf toe die SAOU bykans ’n jaar later, op 28 Februarie 2017, hofstukke ingedien het wat lynreg teen hul vorige eedsverklaring én die sterk pro-godsdiens-standpunt van hul lede en ledeskole indruis. In sy nuwe stukke het mnr. Chris Klopper van die SAOU erken dat besluit is om hul standpunt te hersien. Kortom kom die SAOU se nuwe standpunt daarop neer dat skole nie ’n bepaalde geloofskarakter moet en mag aanneem nie en dat dit ook nie in die beste belang van leerders is dat ’n skool ’n bepaalde geloofskarakter aanneem nie.

Hoewel die SAOU se hofstukke toegee dat beheerliggame die aangewese liggaam is om ’n godsdiensbeleid vir ’n skool te bepaal, word dit gekwalifiseer deur aan te voer dat skole nie ’n godsdienstige identiteit mag hê nie. Met hierdie ommeswaai verander hul standpunt van Christelike onderrig déúr skole na godsdienstige onderrig ín skole. Hierdie verskuiwing verskil merkwaardig van die SAOU se verklaring van Desember 2015. Indien die hof hierdie standpunt wat die SAOU nou gemeen het met die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie aanvaar, beteken dit dat die status quo verwerp word en dat ’n skool gevolglik nie ’n Christelike karakter sal mag hê nie. Dit kan die skool se rol in die oordra van gesonde waardes soos liefde, respek, hardwerkendheid en verantwoordelikheid ernstig belemmer. Dit beteken verder dat enige godsdiensbeoefening ná skool of in pouse sal moet plaasvind.

Wat geloofsbeoefening in openbare skole betref, glo ons dat onderwysers en beheerliggame besonderse werk doen om leerders na behore in ag te neem wat kies om nie aan godsdiensbeoefening deel te neem nie. Hoewel die SAOU die ses skole se argumente en die deskundiges se menings wat die skole ingewin het nou verwerp, kon ons geen praktiese voorstelle in die nuwe hofstukke van die SAOU vind oor hoe godsdiensbeoefening ingevolge die nuwe posisie daar sal uitsien nie.

Ten spyte van hierdie gebrek aan praktiese voorstelle is daar heelwat praktiese en permanente gevolge sou die SAOU se huidige posisie deur die howe aanvaar word. Enkele voorbeelde wat in gedrang kom, is skole se identiteit soos wat dit in talle skole se skoolwapens, skoolliedere, gedragskodes, skoolklere en -leuses vergestalt word.

Openbare misleiding

Verder stel die nuwe hofstukke dit duidelik dat dit die SAOU se standpunt is dat hul leierskap die nasionale beleidsraamwerk steun, wat volgens hul stukke selfs bepaal dat dit skádelik vir ’n leerder is as ’n skool ’n bepaalde geloofskarakter aanneem. Die hofstukke kritiseer ook die rol wat die ouers deur demokraties verkose beheerliggame speel om die geloofskarakter van ’n skool te bepaal. Hoewel mnr. Klopper in nuusbriewe aan die lede van die SAOU sê dat hulle nie ’n bepaalde organisasie steun nie, steun die nuwe hofstukke die argumente van die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie so sterk dat dié organisasie se voorsitter hom in gloeiende taal bedank het. Tweedens strook die standpunt in die SAOU se nuusbriewe en mediaverklarings dat hulle die “status quo van godsdiensbeoefening” in skole en die betrokke nasionale beleid steun, nie met die standpunte in die SAOU se nuwe hofstukke nie. Dit spyt my om te sê dat daar so ’n groot verskil is tussen die standpunte in die nuwe hofstukke dat skole nie ’n Christelike karakter mag aanneem nie en die nuusbriewe en mediaverklarings dat die SAOU die “status quo” van godsdiensbeoefening voorstaan, dat dit op openbare misleiding neerkom. Indien die SAOU se hofargumente slaag, is dit duidelik dat skole se Christelike karakter en godsdienstige praktyke totaal sal moet verander.

Versoek aan die SAOU: Onttrek hofstukke

In die SAOU se dokumente word dit gestel dat hul nuwe standpunt uit regsadvies spruit. Die nuwe standpunt strook grootliks met die standpunte van die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie. Hierdie ommeswaai strek egter veel dieper as net regsargumente. Dit behels ’n totale ommekeer in die SAOU se lewens-en-wêreldbeskouing waarvoor die Onderwysunie oor dekades bekend was. Daarom twyfel ons sterk of hierdie ommekeer die steun van die SAOU se breër leierskap en ledebasis geniet.

Ons beswaar teen die SAOU-leierskap se optrede berus op die volgende punte:

  1. Dat ’n hofoorwinning vir hul nuwe standpunt ’n verpletterende neerlaag vir Christenopvoeding sal wees;
  1. Dat sodanige hofuitspraak die dekade lange karakter en identiteit van skole in ’n oogwink ongrondwetlik en selfs onwettig sal maak;
  1. Dat hulle in die hof téén hul lede en ledeskole standpunt inneem;
  1. Dat hulle lynreg teen die uitdruklike mandaat van hul lede optree;
  1. Dat hulle nie met vennote soos Fedsas en AfriForum, as vriend van die hof, kerkgenootskappe en/of die Afrikaanse gemeenskap geskakel het voordat hulle as leierskap hierdie totale ommekeer gemaak het deur teen skole se Christelike karakter, teen hul lede, teen Christelike onderwys, teen leerders wat Christelike onderwys verkies en teen skoolbeheerliggame en ouers in die hof standpunt in te neem nie;
  1. Dit kom voor dat hulle ook nie voldoende met lede beraadslaag het voordat hulle so dramaties van posisie verander het nie;
  1. Ons maak beswaar dat hul nuusbriewe en mediaverklarings nie hul hofstukke getrou weergee nie – wat selfs op growwe openbare misleiding neerkom;
  1. Dat hulle ouers se inspraak deur beheerliggame wil beperk deur nasionale beleid en groter staatsregulering en -beheer ten koste van ouerinspraak voor te staan;
  1. Dat hulle nie ’n studie gedoen het oor die waarskynlike uitwerking wat so ’n radikale ommekeer in die karakter van skoolopvoeding op skole, leerders en onderwysers gaan hê nie;
  1. Dat die SAOU-leierskap hulle nie eerder van deelname aan die saak weerhou het in plaas daarvan om lynreg teen hul lede, skole, ouerbeheerliggame en vennote standpunt in te neem en in die proses ledegeld bestee het om senior regslui te betaal en dít om hul eie lede teen te staan; en dat
  1. Ons by die skole en Fedsas se standpunt staan dat skole die vryheid moet hê om deur die demokraties verkose beheerliggame ’n skool se godsdienstige karakter te bepaal.

In die lig hiervan voel ons uiters ontsteld en teleurgesteld oor die SAOU-leierskap se ommekeer en die manier waarop dit gedoen is. Hierdie skrywe is grootliks dieselfde as ʼn skrywe wat op 2 April aan die SAOU-leierskap gerig is, met dieselfde versoek om liewer aan die saak te onttrek wat hier gerig word.

Indien die SAOU-hoofde met hierdie nuwe standpunt, soos vervat in hul hofstukke volhard, gaan die geskiedenis hulle hard oordeel as die leierskap wat die einde van Christelike onderwys in Suid-Afrika help bewerkstellig het. Daarom rig ons hiermee ’n ernstige versoek aan skoolhoofde as mede-Christengelowiges om die SAOU-leierskap te vra om hul nuwe stukke terug te trek en aan die saak te onttrek, of andersins die nuwe stukke te onttrek en te volstaan by hul pro-godsdiens-standpunt van die SAOU se aanvanklike aansoek van 10 Maart 2016.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

79 Kommentare

Willem ·

Soos Bob Dylan sing, “The times they are a-changing”. Julle kan julle christen geloof tuis of in privaat skole beoefen. Dit hoort nie in publieke skole nie.

Skim ·

Willem ongelukkig kom baie kindertjies nie by hulle huise met die Bybel en Christenskap in aanraking nie, dit is nie asof hulle ‘n keuse gegun word nie, hulle ouers is bloot agnostici of ongelowiges, soveel kinders het al tot bekering gekom JUIS in publieke skole waar ‘n juffrou ‘n versie gelees of iets met hulle bespreek het .. die Here se woord kan op enige plek ‘n impak maak, die ideale omstandighede is dalk by die huis, maar dink ‘n bietjie aan kinders wat nie grootword in ‘n gelowige omgewing nie, kinders wat in agtergeblewe gemeenskappe grootword, hulle kry darem toegang tot Jesus en die Bybel by die skool. Dit hoef in NIEMAND se kele afgedruk te word nie, soos in Rooms Katolieke skole, word die ander gelowe se kinders ‘verskoon’ van die klas terwyl hulle hulle godsdiensperiode het, ek voel as daar ‘n keuse moet wees, maak dan daardie keuse … hou aan met Godsdiens op skool, maar diegene wat dit NIE wil volg nie, word verskoon.

Willem ·

Skim

As jy wil hê ander moet jou reg op geloof respekteer, hoe kan jy mense wat anderste dink as jy se kinders indoktrineer in jou geloof? Verstaan jy wat ek bedoel?

Draai dit om – as ‘n moslem jou kind aanmekaar vertel van Allah en met Koran kopiee huis toe stuur, hoe sal jy voel? Die moslem voel nes jy – dat die kind aan die ‘waarheid’ blootgestel word?

Vrye deelname werk nie. Gaan lees die OGOD stukke oor kinders wat sataniste genoem word en geboelie word oor hulle vrylik kies om nie deel te neem nie.

Boerseun ·

toemaar my vriend Afrikaans is volgende, model C skole is in elk geval amper tot sy einde. Julle kon net sowel julle kinders in nie christelike engelse skole gesit het van staanspoor af, of is dit n rasse ding?

Op die ou end die ouers wat erstig oor behoud van hul geloof en kultuur is het lankal nuwe skole begin.

Willem ·

Van wanneer af Boerseun? Noem die hofsaak enigsinds Afrikaans, of probeer jy net “alarmist” wees?

Ek is trots Afrikaans en trots nie-gelowige

Annie M ·

Stem so saam! Hulle kan eerder daardie geld aanwend waar dit resultate kan lewer. Daar het mos predikante fiets getrap tot anderkant nerens om ook geld in te samel. Goeie oefening gewees. :) Stupid is as stupid does.

Anna-Sophia ·

“When you realize it’s not personal, there is no longer a compulsion to react as if it were” – Eckhart Tolle.
Hierdie is nie ‘n aanval op Christene nie. Inteendeel, ek dink dit beskerm Christene. Onthou ons bly in ‘n demokratiese land. Indien ons dus besluit om GELOOF toe te laat in PUBLIEKE SKOLE, beteken dit dat klein Bobby Marley met sy lokke mag skool toe kom, en pouse sy zol mag rook. Dit beteken ook dat klein Lucy Ferr, haar Goth kleertjies mag aantrek en pouse haar juice boksie met bloed mag drink. Dink bietjie mense. God is ALTYD is beheer – glo dit en laat Hom dan toe om Sy ding te doen en ons te beskerm. GEEN GELOOF IN PUBLIEKE SKOLE !! Maak dit van my ‘n Antichrist Fundamentalist? Ek dink nie so nie..

Indien die ses skole oortuig is daarvan dat hul skool oorwegend Christen is, praat ek onder korreksie, maar ek dink nie dat daar enige iets in die grondwet is wat hulle keer om ‘n volwaardige CVO Skool te word nie? Ek het groot respek vir die CVO skole reg oor die land.

Kom ons hou op om te maak op dit die einde van die wereld is, en sien die goed wat hieruit kan kom.

Willem ·

Ek volg nie wat jy bedoel nie? As jy bedoel mens voel jou oortuiging 100% van die tyd, ja – dan stem ek saam. Maar hoekom dit in ander se kele in druk in ‘n staatskool?

Johann ·

Willem, jy lees nie wat ek sê of wat hier bo staan nie, dis ‘n vrywillige keuse wat die ouers en die beheerraad maak, dit word nie in mense se kele af forseer nie, dis ‘n vrywillige keuse. As jy nie van die keuse en skool nou nie, vat jou kind elders. Maar moenie ander hul reg tot vrye keuse weg neem nie.

Boerseun ·

ek dink hier word gesukkel met die woord “demokrasie”, wat beteken die meerderheid sal besluit.

Wat n goeie plek sou SA nie gewees het as ons Willem se form van demokrasie kon toepas nie.

Willem ·

Boerseun,

My kommentaar op Johann het verdwyn

Julle mis duidelik nog steeds die punt oor publieke vs privaat skole. Verder, waar is julle bronne dat 90%, soos angevoer is, van mense christene is?

Lee ·

Boerseun, ons bly in ‘n konstitusionele of grondwetlike demokrasie. Demokrasie beteken nie “majority rules and minorities drools” nie. Die howe en Grondwet is daar om die minderheid se regte te beskerm. Net soos die howe jou minderheidsregte gaan beskerm as iemand jou grond probeer vat.

Boerseun ·

Lee. Jammer ons kan nie jou interpretasie op afrikaner mans vantoepassing maak nie. Sekere het meer regte as ander of hoe . Het ek nie n reg om ook te kies nie? Het n gemeenskap nie ook n reg om te kies nie? Of betaal jou belasting vir skoolgeld en my belasting vir Ontwikkeling? Julle veg n idiologiese geveg hier so kom ons kyk wie besluit die howe het meer regte. Ek het wel n gevoel die howe gaan dit skrap en dan gaan afrikaans op selfde wyse uit skole forseer word.

Willem ·

Johann

Nie-geloof is ‘n neutrale posisie. Sou daar more regte bewyse vorendag kom dat ‘n god bestaan, dan verander ek my posisie. Ek sal selfs gelukkig wees as kinders ‘n geloofsklas bywoon waar hulle AL die gelowe behandel, en ook die neutrale posisie van nie-geloof

Kan jy dieselfde sê?

Leendert ·

Willem, wat is fout met Duiste skole, Joodse skole, Chinese skole, met inslag in hul geloof, soos deur die verkose beheerliggaam bepaal. As jy nie van die geloof wat hulle voorstaan, hou nie, skryf jou kind dan by ‘n ander skool in. DIT is mos nou weer JOU vrye keuse, maar moenie ander die vryheid van om ‘n keuse te maak ontneem nie.

Willem ·

Kom ons gebruik die Duitse skool in Pretoria as voorbeeld wat die lutherse kerk aanhang. Dis ‘n privaat skool – en dis hulle reg. Ons praat van publieke skole, so hoe kan jy die christen agenda druk as dit deur moslem, christen, islam, hindoe, aties, etc. belasting bevonds word?

Verder – hoe sou jy voel as die oorgrote meerderheid Afrikaanse skole die moslem agenda gedruk het?

Laastens, wat is fout met die kind die keuse gee om self te besluit wat om te glo of nie te glo nie, sonder indoktrinasie?

Leendert ·

‘n Kind self laat kies? En van watter ouderdom af? Jy mis ook die punt van die beheerrade van skole wat die inslag bepaal. Dis mos demokraties. Die kind van bv 10 jaar het ‘n vrye keuse maar die ouer mag nie beskuit in watter atmosveer die kind ondderig mag ontvang nie. Moenie die ouers die vryheid van keuse ontneem nie. Waarom weier jy dan om jou kind na ‘n skool te neem wat JOU pas, en wat nie Christelik. ‘n Antwoord op die res van jou kommentaar is onnodig.

Willem ·

Die kind moet kies as hulle groot genoeg is om te besef wat vir hulle die waarheid is. Tot daardie dag, hoekom moet die kind geindoktrineer word?

Ek het, nes enige ander belasting betaler, die reg om my kind na ‘n staatskool te stuur. En siende dat nie almal in die RSA christene is nie, moet staatskole nie net een geloof bevorder nie.

pieta ·

Want segregasie is n euwel wat mense van mekaar vervreem. Kyk in Jerusalem hoe spoeg die Joodse kinders die palesteinse kinders en gooi hulle met klippe. Dit lei tot HAAT in die ergste graad. Daar is jou antwoord.

Leonard van der Dussen ·

Natuurlik is amptelike stukke die primêre inligtingsbron. Dit geld dan ook vir die skole se verweerstukke, soos gesteun deur Fedsas/ Solidariteit. Die verweerstuk (van Fedsas se webblad verkry) berus ook maar net op die grondwet en wetgewing sonder om die wese van Christus te bely, naamlik dat Hy die enigste weg tot saligheid is, dat God ‘n enige Here is en dat nie meerderheidsbesetting, of minderheidsregte of enige iets anders bepaal dat God in ‘n skool geëer moet word nie, maar God se reg dit bepaal. Fedsas/Solidariteit/Afriforum is potte wat dieselfde stoof van grondwetlikheid en regte as energiebron gebruik as wat die ketel SAOU doen. Nou wil die pot die ketel verwyt. En die Fedsas-stukke bevat sommer ook ‘n woeste aanval op Christelik-nasionale onderwys en gebruik dus ‘n aanval op ons eie verlede in die benoudheid om dit in die oë te moet kyk te daar dalk self christelike skole opgerig sal moet word. Gaan dit vir Solidariteit werklik oor God se eer, of is hierdie deel van vakbonde se posisionering en mededinging (“turf wars”)? “Christelike waardes” sonder belydenis van God se reg is waardeloos. Solank die on-christelike grondwet die basis bly, is Fedsas/Solidariteit en SAOU se verskillende interpretasies ‘n blote gestoei tussen mensebelange.

Leendert ·

Willem, jou antwoord maak nie sin nie, hoe besluit ‘n kind sonder kennis, waar en hoe moet hy die kennis nou opdoen, en weer op watter ouderdom, om ‘n weldeurdagte besluit te kan neem. Ouers is verantwoordelik vir hul kinders se opvoeding en tensy die ouer die kind indoktineer, weet ek nie wat jy daarby bedoel nie. Kinders neem hul eie besluite in die lewe wanneer hulle die grootmenswereld betree. Die ouer indotrineer tog nie die kind by die huis nie, of is opvoeding en leiding wat die kind by die huis kry indoktrinasie? En die ouers by wyse van die beheerraad het mos as meerderheid besluit dat die skool Christelike waardes gaan nastreef. So as jy jou kind nie Christelike waardes wil leer of meeleef nie, en nie tevrede met die beheerraad en meerdeerheid se siening en waardes is nie, sit hom net eenvoudig in ‘n ander skool, dis so maklik soos dit. Ek het nog nooit in my lewe gehoor dat enige kind op skool geindoktrineer word nie. Die kind word tog nie verplig om CSV by te woon nie, ons het die toenderjare na skool dit vrywillig beoefen.

Johann ·

Willem ja, ek wil net iets uitlig ten opsigte die saak, die Bybel leer uitdruklik dat ou nie jou Christelike geloof saam met nie Christene moet beoefen nie, en ek was toevallig op ‘n jaareindfunksie saam met een van die “Christelike skole” waar tot beheerraadslede gesit en ernstig gedrink het, sover so dat tot van die leerlinge openlik gedrink het. My vraag is nou net die volgende waar trek jy nou die strepies ten opsigte van voorbeeldige skole. Ou moet dalk ophou om hierdie mense te kritiseer en voor jou eie deur begin vee

Willem ·

Johann,

Ek is in die 80’s in skool gewees, Afrikaanse “christelike” skole – ek het dieselfde skynheiligheid gesien. Sekerlik as christen, sou mense dan kies om kinders te indoktrineer in hulle geloof is dit beter om dit self te doen, op die manier wat jy glo, eerder as die taak oor te laat aan ‘n gebrekkige skool weergawe daarvan

John ·

As een dom skaap kranse toe stap, laat mens nie maar die hele trop los om ook soheen te stap nie, maar gaan keer die een ook aan na die regte pad. Glo my, as Christene stilbly, sal die ander gelowe die kans aangryp om hul vreemde dwase leringe in skole aan honger leerders op te dis. Daar is nie soiets soos ‘n geloofsvakuum nie. Dit wil lyk of baie Afrikaners deesdae hul Christelike waardes minag. Etiek is direk verbind aan die Christelike geloof en Moses was die eerste onderwyser wat die wette van die Here moes oordra aan die Israeliete. Sonder dit is daar geen reg en verkeerd in die oe van die mens nie… of is dit juis dit wat ons wil he? Die verkeerde? Ellende le en wag op ons verkeerde wee soos ‘n verraderlike groot honger luislang. Die Bybel waarsku dat as iemand een van die kleintjies laat struikel… hy gedoem is. En beveel ons inderwaarheid: Bring die kinders na my…

Bees ·

John juis met ‘n onderwyser soos Moses! Gaan lees Lev27 en veral vers28. Gekheid om die minste te sê.

Pieta ·

Moses het die eerste 5 boeke van die bybel geskryf. N moordenaar wat n man doogemaak het en met grond toegeskop het en toe gevlug het. Ek stel nie belang in die moordenaar se stories nie. Gaan lees asb jou bybel.

Jakkie ·

Willem,

Daar is beslis argumente na albei kante toe en ongelukkig verskil mense se menings oor geloof, kultuur ens. Die probleem is dat almal wil hemel toe gaan, maar niemand wil dood gaan nie, net so ook wil almal hulself as Christene verklaar, maar niemand wil met opregtheid en met volle stoom hul geloof uitleef nie, dit maak dinge moeilik want soos jy genoem het skep dit beslis n beeld van skynheiligheid, as Christen weet ek dat ons God oral is en kan Hy in elk geval orals en ter enige tyd geloof of gedien word, dit maak seker jou stelling oor die beoefening van geloof in skole sterker maar miskien kan ons dit eerder bekyk uit die oogpunt van vrywillige deelname, deur dit uit skole weg te neem sal die geleentheid tot vrye keuse totaal wegneem, wat in my opinie slegter is as om teen iets op te staan…op die einde van die dag gaan nie ek of jy sommer vinnig ons standpunte vir watter rede ookal verander nie, vir my is God lewendig en kan ek Hom soos vermeld eintlik enige plek dien….ek respekteer egter jou siens wyse…mooi dag!!

Willem ·

Jakkie,

Die ding is, vrywillige deelname werk nie. Dis juis hoekom OGOD die saak begin het. Kinders wat nie deelnaam nie word uitgejou as sataniste en geboelie. Dit was so in my dae, en dis nog erger vandag. Dus, ‘n neutrale standpunt, van geen godsdiens op skool, is die beter posisie.

Boerseun ·

Wat ek nie verstaan nie, in a demokrasie besluit die meerderheid. So nou wil julle die skool raad se reg tot keuse weg vat op die basis dat dit publieke skole is. as dit sou slaag dan kan gevoer word dat alle skole engels moet wees. Die beheerligaam besluit die skool se taal beleid wat bestaan uit n gemeenskap. As jy hulle regte begin weg vat dan gaan areas wat uit meestal afrikaanse mense bestaan engelse skole moet he op dieselfde gronde dat die minderheid (of dit nou 10,20,30%) uitgesluit voel. Daarom hoekom is die vraag nie eerder hoekom julle nie atieste skole stig nie en laat die gemeenskap besluit of skole in hulle area Christelik, moslem, Hindu of geen geloof gaan handaaf nie.

Pieta ·

Willem jy is reg. In net die christelike geloof is daar meer as 30 000 versplinterings/sektes/kultgroepe, bv 7 dag adventiste, Jehovas, ngk Hervormdes, Ratafariens, Babtiste en nog ‘n masiewe lot. Nie een van hulle het konsensus eers oor watter god om te aanbid nie. So wie se god kies ons nou, die skoolhoof sin, die onderwyser sin, die ouer sin. Dit is ‘n onbegonne taak, want elkeen beweer dat hy met die waarheid rondloop. Die kans dat hulle almal verkeerd is is hoogs waarkynlik, want almal kan nie reg wees nie! NOU moet ek iemand vertrou om my kind te indoktreneer wat nog nie eers die bybel behoorlik bestudeer het nie. Ek het al 6 boeke hieroor gekryf en geen predikant is bereid om met my in n debat in te gaan nie, want hy weet dat ek weet dat hy nie weet nie.

Johann ·

Willem, ja die selfde private skool waarna ek verwys kruip agter die Christenskap weg omdat hulle nie anderskleuriges in hulle skole toelaat nie

pieta ·

Al hierdie dinge soos etos, saamstaan, rugbyspelers wat bid ens het ek bespreek, indiepte op; pieta van den heever u tube. Luister gerus en u is welkom om kommentaar te lewer. Groete Pieta Oudtshoorn

Gerhardus Petrus Padda ·

In die praktyk is daar geen verskil tussen n ideologie en n geloof nie. n Ideologie is n geloof sonder n god, n geloof is n ideologie met n God.

Dit is die grootste versinnebeelding dat die staat apolities teenoor “geloof/ideologie” staan, want die Grondwet is gegrond op die Sosialistiese ideologie. Elke “mensereg” is onderhewig aan Sosialisitiese moraliteit.

Sosialistiese moraliteit kan glad nie met Christelike moraliteit gerekonsilieer word nie. Christene moet hulle van die staat onttrek en in Christelike gemeenskappe leef soos die Christene in die Nuwe Testament.

Leendert ·

Willem, jy het ‘n beiltjie met die meerderheid hier bo te slyp, omdat jy ‘n slegte ondervinding in ‘n skool met Christelike waardes gehad het. Wil jy nou 90% van die mense wat ‘n mooi en goeie ondervinding gehad het hul reg ontneem, net omdat jy daarteen is? Ek sê weer, kies jou skool, moenie die nie-Christelike skole op mense afdwing nie.

Willem ·

Leendert,

Waar is enige bewyse vir die 90% figuur wat julle bly aanhaal? Ek twyfel baie sterk dat jou raaiskoot akkuraat is.

Verder, persentasie duimsuig figure was nie in ag geneem oor die 11 nasionale tale nie. Al die 11 tale was op gelyke voet gesit.

Duidelik is nie net ek hierteen nie – daarom die OGOD hofsaak. Kyk hoeveel mense ondersteun OGOD op die artikel en al die ander artikels oor die saak.

“Christelike waardes” hoort by die huis

Leendert ·

Willem, Christelike waardes is ‘n leefwyse, jy kan dit nie net aan en afskakel nie, dit is ook ‘n barometer in ‘n mens se lewe.

Boerseun ·

Die bewys is dat skole nog Christelik is en deur die beheer rade volhou word op demokratiese wyse. As daar soveel mense is wat teen godsdiens is, hoekom stem hulle dit nie uit gedurende die jaarlikste beheer raad vergaderings nie.

as ek dit so beloer is dit meer asof julle, julle wil op ander wil afdwing as anders om .

Willem ·

Leendert kruip nou weg met sy bewyse vir sy 90% stelling

Boerseun, dit maak nie saak nie – dis ‘n publieke skool, bevonds deur belasting – dit mag nie een geloof bo ‘n ander bevorder nie. Ek is seker die spulletjie sal nooit ‘n self erkende nie-gelowige ondersteun nie – daarom moet mens nie in die openbaar erken hoe jy regtig voel oor geloof nie – want christene kan dit nie hanteer nie, en dreig jou, jou familie en maak jou lewe ondraaglik. Kyk wat met na arme George Classen van “Die Burger” gebeur het.

Paul ·

Willem, ek sien jy sê gedurig dat die skole “befonds word deur belasting”.

Dit lyk my jy besef nie dat baie “openbare” skole, en ongetwyfeld dié wat hier spesifiek in die hofsaak betrek word, slegs ‘n baie klein deel van hul totale begroting vanuit belasting ontvang. Die res kom uit skoolgeld wat die ouers betaal, donasies, fondsinsamelings, bemakings en opbrengs op beleggings wat self geadministreer word.

Die staat het wel hierdie skole lekker met ‘n slap riem gevang, en lei hulle steeds aan daardie riem rond, want selfs al betaal die staat net 5% van die begroting met staatsgeld, kan hulle nog steeds sê: “Julle is ‘n openbare skool, julle moet doen wat ons beveel!”

Willem ·

Paul
Die feit is dit WORD bevonds uit belastinggeld, as is dit gedeeltelik. En die skoolgeld is meer bekostigbaar as privaat skole – hoekom moet net christene daardie voordeel trek?

Besit die skool die grond ook waarop dit gebou is? Of is dit staatsgrond?

Paul ·

Wel, ek kan ander woorde in so ‘n sin met hoofletters beklemtoon: Die feit is dit word SLEGS ‘n BIETJIE befonds uit belastinggeld.

Die skoolgeld by daardie skole is dikwels meer as talle 100% privaatskole.

Maar jy slaan die eintlike spyker op die kop. Die staat besit die grond en geboue van die skool. Sommige van die skole het al intussen begin om al hul ekstrakurrikulêre aktiwiteite se fasiliteite op grond wat deur ‘n trust besit word, te bou. Juis sodat die staat nie die voordeel kry van die besit van daardie deel van die geld wat deur die ouers betaal word nie.

Afrikaners was maar meestal lekker goedgelowig destyds toe die keuse was tussen Modelle A, B en C. Die skole wat gekies het om ‘n nominale bedrag te betaal en besit van die grond en geboue te neem en 100% privaatskole te word, soos Helpmekaar, is nou in ‘n baie beter posisie, selfs al was dit destyds die “duur” opsie. Nou is die prys baie duurder vir die ander skole.

Willem ·

Paul

In Pretoria, as ons byvoorbeeld kyk na Laerskool Garsfontein en Constantia Park, is die skoolgeld aansienlik goedkoper as privaatskole soos die DSP en Curro. So, hoekom moet net christene die voordeel trek hieruit? Niemand kan kom met harde feite oor hoeveel Afrikaners wat bygedra het tot dit toe christene is nie. Dis welbekend dat veral onder die vorige NP regering jy nog minder kon erken jy glo nie.

Self erken jy nou die grond word deur die staat besit. Vergeet van verbeterings, wat is daai grond werd vandag? Miljoene. So dit bly ‘n saak van belastinggeld, al die belastingbetalers in die land bevonds die skool deur die grond en deur die bydraes van die staat.

Julle sou kliphard geskree het as dit islam is wat in julle christen kinders se kele afgedruk word

Johann ·

Ag Asb, as die skoen jou so pas trek hom aan, ek dink ek is geregtig om te laat weet van die soort skool, hy wil nie eers swart Christen leerders van die NG kerk huisves nie

Leendert ·

Willem, kom ek vra vir jou so, is jy daarteen dat Solidariteit, Afriforum en hul vertakkinge, Christelike waardes nastreef? Ook dat hulle die Afrikaanse taal bevorder?

Leendert ·

Boerseun, dis reg, ten minste is hulle die laaste wat nog in die howe vir die behoud van ons morele waardes opkom en sorg dat mens ‘n barometer in die lewe het. Dis hoekom meeste van ons wat hier lees, ons met hulle kan vereenselwig, ons voel tuis, ook in die taal wat ons liefhet.

Willem ·

Uiters moeilik om debat te voer, ek het jou reeds ‘n paar keer geantwoord op die kommentaar maar dit hou aan verdwyn…. iemand rapporteer dit seker

Ek is trots Afrikaans, en ek dink Solidariteit doen goeie werk. My probleem is dat die “christelike fokus” beteken dat selfs beurse vir Afrikaanse kinders sal kinders voortrek wat christene is en Afrikaanse kinders wat nie christene is nie nie kies nie oor die rede.

Bert ·

Die akroniem ‘OGOD’ is al klaar ‘n ondermyning van die waardes soos uiteengesit in die Grondwet. Van daar af is dit net afdraande. Wat hierdie groepie sekulere dissipels nie besef nie is dat hulle saam met die ANC besig is om die Grondwet te rysmier. Die bedoeling van die opstellers en die teks rondom godsdiensvryheid is baie duidelik. Om te wil torring aan iets wat baie duidelik is gaan daardies wat veral aan eiendomsregte wil karring net verdere stukrag gee. Maar uiteindelik gaan dit vir hierdie mense suiwer oor kompeterende ideologiee en om hul wereldbeeld op andere af te dwing. Dryf jy die Christelike etos uit dan seevier die sekulariste en humaniste, wie se wereldbeeld al duidelik deur baie kenners uitgewys is as ‘n geloofsisteem op sy eie. Ek vermoed dat baie van die aktiviste ook nie self kinders het nie want die van ons wat tans in die skoolsisteem is met kinders kan getuig van die waarde, selfs kompeterende voordeel, van ‘n Christelike etos, die einste etos wat al deur gerekende geskiedkundiges as ‘n sg Westerse ‘app’ geidentifiseer is wat die Weste die botoon laat voor vir meer as 500 jaar. Nou wil die heldersiendes daaraan karring. Ongelooflik!

Willem ·

Ek het kinders, die mense wat deel uitmaak van die OGOD saak het ook kinders – lees die hofstukke om jouself op datum te kry.

Morian ·

Ek het ook ‘n kind, wat direk hierdeur geraak word aangesien sy al self geboelie was oor haar geloof by die skool.

William Allworth ·

Staat skole is vir almal, dit sal goed wees as ons die respek vir diversiteit kan leer wat ons kinders so nodig gaan hê in die regte wêreld na skool. Die skool is nie die plek vir ‘n beskermde homogene kultuur nie want dit is nie die wêreld waarin ons leef nie. n Kind kan ‘n geloof hê, en ‘n onderwyser kan ‘n geloof hê, maar ‘n skool behoort vir almal ewe welkom te wees en nie kant te kies nie. As daar een kind in die skool is wat geboelie word met geloof is dit te veel. Baie beter vir 100% om respek vir ander te leer as on 1% te boelie met die geloof van die 99%.

Wepener ·

Hoe kan ons ogod finansieel help met die belangrike saak? Is daar dalk ‘n bankrekening waar ek geld kan skenk?

Joe Hall ·

Willem
Dankie dat jy die moeite doen om redelike mense se standpunte te stel.
Ons gewone ouens wat nie een of ander ideologie of gelowigeit slaafs navolg nie!

Willem ·

Dankie, ek is bloot ‘n bekommerde ouer, wat self deurgeloop het onder “goeie christene” op skool en universiteit – en ek kom agter hoeveel Afrikaners nes ek voel – dit gee my hoop vir die toekoms.

Vir te lank moes almal wat nie soos die hoofstroom blindelings in bronstydperk mites geglo het stilbly en toekyk hoe die gelowiges alles besoedel met hulle weergawe van die “waarheid”

Lee ·

Boerseun, ek glo in ‘n konstitusionele demokrasie, wat is wat ons het, wat die regte van die minderhede ook beskerm, soos wat hier die geval is. Jy glo ook daarin, wanneer jy wil hê die hof en die wet moet jou beskerm teen grondonteiening of ander goed wat die land se meerderheid dalk wil hê.

Boerseun ·

Die kontitusie kan deur die meerderheid verander word so die majority rule rest drule is redelik van toepadsing.

pieter ·

EN DAAR MAAK DIE BOERE WEER OORLOG MET MEKAAR PRESIES WAT DIE VYAND WIL HE.ONS AS OUER MENSE HET NIE GODSDIENS OP SKOOL GEHAD NIE MAAR BYBEL KLAS WANT DIE KLEIN DOPERS EN GROOT DOPERS HET NIE LANGS MEKAAR GESIT NIE. EK SE, LEEF AS N VOORBEELD VIR JOU NAASTE EERLIK OPREG .DAN SAL ONS AANVAARBAAR WEES VIR MEKAAR.

Henry ·

Leerlinge van die hoërskool wat ek gedurende die laat 60’s en vroeë 70’s bygewoon het, se blootstelling aan die Drie Susterkerke se gelowiggeite, was beperk tot die daaglikse openingseremonie en 1 bybelstudie klas per week. Laasgenoemde was ‘n welkome geleentheid om agterstallige huiswerk te doen, of om laaste minuut studies vir toetse en/of take te voltooi. Die betrokke onderwyser was dankie tog, ‘n wyse oom gewees wat oor ‘n wye kennis van die Griekse filosowe beskik het. Soos en wanneer hy wou, het hy die geleentheid te baat geneem om ons ou spulletjie in te lig oor die wonderlike denkwêrelde van Plato, Socrates en andere. Of om ons in vrede te laat.

Sodoende is ons aan bloedweinige christelike indoktrinasie/leringe bloot gestel. Hierdie “gebrek” oftewel afwesigheid van enige godsdiensopleiding, het vir seker geen nadelige invloed op die kinders in ons skool gehad nie. Talle latere doktore, ingenieurs, medici, predikante, professore ens het tsv die “gebrekkige” godsdienstige indoktrinasie geblom en ge-watookal en hul weg in die wye wêreld gevind. My eggenote wat in ‘n ander provinsie skool gegaan het, kan van dieselfde ervaringe getuig.

So, wat is my punt?
‘n Lemon tree my tjaaina.
Skole mors tyd en ruimte om godsdienstighede wat vanaf moedersknie aan huis, of in kerke aangebied behoort te word, aan die bloedjies te bied terwyl hulle hulself veel eerder met vaardighede moet toerus wat krities belangrik vir hul voortgesette welsyn op hierdie planeet is.

Dr. Amari ·

Ek weet nie of ek onkundig is nie maar ek dink die meeste staatskole het al vir baie jare die gebruik om die kinders van al die gelowe in te lig. As ek as ouer enigsins ‘n keuse gehad het sou ek bly gewees het as ek my kind na ‘n skool met ‘n Cristelike kerakter kon stuur – as ek egter my kind na ‘n staatskool moes stuur sou ek verkies dat my kind nie aan al die gelowe blootgestel moet word nie. Die enigste oplossing is soos die Duitse en Joodse gemeenskappe baie jare gedoen het – hulle het Saterdae dan bv. ‘n Duitse godsdiens en kultuurskool. Die tyd het aangebreek dat ouers besef dit is in die eerste plek die ouer se voorreg en plig om aan sy belofte gehoor te gee en dat hy self verantwoordelik is vir bv. sy doopbelofte om sy kind te onderrig en te laat onderrig.

Willem ·

Ek dink jy is verkeerd, watter Afrikaanse skole vertel kinders, op gelyke basis, van ander gelowe? Sonder om uit die christen waan vir hulle te vertel net christene is reg en al die ander is verkeerd?

Hoekom moet jou kind nie aan ander gelowe blootgestel word nie? Sekerlik is dit die lewe, mens word aan baie dinge blootgestel, maar jou kind kies tog sekere dinge bo ander?

Die duitse skool in Pretoria het nie net godsdiens op Saterdae nie, dit steek my dwars in die krop, maar hulle is ‘n privaat skool so dis hulle reg.

Jamie ·

In ‘n land met ‘n verskeidenheid van groepe – etnies, kultuur, taal, godsdiens – behoort daar in ‘n demokrasie ruimte vir almal gegun te word; nie net as individu nie maar ook as groep. Ongetwyfeld bestaan daar so ‘n Christen-Afrikanergroep wat geregtig is op ‘n ooreenstemmende lewensruimte vir hul kinders waarvan die skoolomgewing sonder twyfel ‘n belangrike deel sal uitmaak. Daarom is hulle geregtig om ‘n Christelike skool te vestig. Die staat behoort dit te steun netsoos hulle ook ‘n Moslem skool behoort te steun. Niemand word gedwing om sy kind na ‘n onbeskaamde Christelike skool te stuur nie. ‘n Jong kind beskik nie oor die abstrakte denke om ‘n besluit te neem oor o.a. godsdiens nie. Sy lewe in ‘n Christelike skool, ooreenstemmend met sy ouers se geloof, is nie indoktrinasie nie; dit is ‘n natuurlike oordrag van waardes wat ook soortgelyk op baie ander vlakke in die opgroei van die kind plaasvind.

Die argument rondom die befondsing van die publieke skool sny na alle kante toe. Die geld uit belasting behoort nie aan die regering nie, dit behoort aan die diverse nasie. Boonop, kortliks, in ‘n land soos Suid Afrika is die kanse uitstekend dat veel meer Christelike ouers se belasting gebruik gaan word vir Moslem, en ateïste, se kinders as andersom.

Ou Multikultureel Bosvark ·

Alle lande raak al hoe meer multi-kultureel. En so gaan die debatte oor menseregte en interpretasie van “demokrasie” en “grondwette” tot die oordeelsdag voortduur. Stel jou voor elke woongebied met sy vele (Christen) kerkklokke wat Sondae lui en (Moselem) luidsprekers wat soggens vroeg die mense tot gebed oproep. Wie moet toegee?
Die grootste uitdaging vir die mensdom is om sy getalleaanwas te beperk en aan te pas om multi-kulturele samelewings met regverdigheid te kan bestuur.

Leendert ·

Dis is interessant om waar te neem dat, soos ‘n paar honderd jaar gelede, dat ook nou in hierdie jare waarin ons vandag leef, veral in ons land, die stryd teen die Christelike waardes en geloof, word al veller en veller.

Dawie ·

Willem, dankie dat jy die moeite doen om jou standpunt te verduidelik. Dit is nodig dat almal behoorlik ingelig word. Ongelukkig weet ek nie of dit hier veel gaan help nie want om met hierdie behoudendes te redeneer is net ‘n mors van tyd. Hulle glo dat net hulle reg is en basta met die res.

Pieta, dit wat jy genoem het van al die verskillende sektes en vertakkinge van die Christendom is 100% in die kol. Ongelukkig wil baie mense dit nie verstaan nie en verkieslik hulle ouerplig afskyf na die onderwyser toe.

Willem ·

Dankie vir jou kommentaar, Dawie.

Daar is BAIE van ons Afrikaners wat so voel, nog steeds trots Afrikaans, maar stem nie saam met die gedwonge geloof wat al die jare in ons kele afgeforseer word nie

Ou Vrydenker Skoolvark ·

My voorstel: Die staat ken jaarliks aan elke skolier dieselfde bedrag toe vir onderwys, opvoeding en opleiding en dra die gelde oor aan die ouers. MAAR die ouers moet self besluit hoe hulle daardie bedrag vir die kind se skoolopleiding gaan aanwend. Die ouers moet self sorg vir die skole, die bestuur daarvan en verdere fondsinsameling. Hopelik kan ons dan ontslae raak van die Nasionale Departement van Onderwys en die vrotsige politiek ingestelde onderwysvakbonde en die gekibbel oor godsdiensonderrig op skool. Bowenal sal ons dan groter ouerbetrokkenheid kry.

Ben ·

Altyd sleg om te verval in swaardgevegte soos hier. In die lewe kweek jy “beginsels”, soos onder andere christen beginsels. Al hierdie beginsels word deel van jou waardesisteem (programatuur van jou doen en late). In ‘n saak soos díe het, soos SAOU dit self noem, ‘n ateïs en klein groepie, iets probeer bereik. Daarom was die aanslag 100% teen Christenskap gemik..Dis dus reg dat beginselvaste organisasies optree. Aangesien dit nie juis ‘n beginselsaak vir SAOU is nie, moes hulle nooit betrokke geraak het nie.! Die wette is nie in konkreit gegiet nie, daarom moet sake soos die in die hof beslis word… ‘n oorwinning vir Christenskap maak die pad se potholes gelyk… ‘n Verloor gee die “loophole” in die wet net meer tande …. Staan op vir jou “beginsels” as jy het! So nie aanvaar die “grondwet” en wees ‘n getroue South African! Sê maar net! 😉

Willem ·

So, as OGOD verloor, en jou kind eindig op waar Islam ipv die christen geloof die indoktrinasie middel van keuse is, gaan jy nog steeds so voel?

Ou Skoolboek Ouervark ·

Ou Vrydenker Skoolvark, ek ondersteun jou kreatiewe voorstel.

Een van die grootste uitdagings waarvoor ons as Suid-Afrikaners te stane kom is hoe om die toenemende verskeidenheid van kulture sodanig te bestuur dat geregtigheid sal geskied: doen aan andere wat jy verlang hulle ook aan jou doen.

David ·

Ek is nou vir 22 jaar lid van die SAOU en dit lyk vir my genoeg. As my unie nie meer kan stry vir die reg van skole om Christen-onderwys toe te pas as hulle dit so verkies nie, het ek geen rede om langer aan hulle te behoort nie. My bedanking is reeds vandag ingedien en ook aanvaar en bevestig. Ek sal nou maar noodgedwonge by ‘n meer liberale unie aansluit. Liewer by hulle aansluit as om deur my eie mense in die steek gelaat te word. Ek is ook lid van Solidariteit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.